Resensie: Exhibition on Screen: Matisse

  • 0

 

Regisseur: Phil Grabsby

Vir kunsliefhebbers begin daar nou by Ster-Kinekor se Cinema Nouveau-teaters ’n nuwe seisoen van dokumentêre films oor uitstallings by van die wêreld se bekendste kunsgalerye. Die seisoen strek van November 2014 tot Junie 2015, oor die volgende kunstenaars: Matisse, Rembrandt, Vermeer en ander uit die Mauritshuis in Den Haag, Van Gogh en die Impressioniste – vir net vier vertonings van elk.

Die eerste film, Matisse from Tate Modern and MoMA: The Cut-Outs, wys op 22, 23, 26 en 27 November. Dit fokus op Matisse se werk in die laaste dekade van sy lewe, tot sy dood op 84 in 1954. In hierdie tydperk het die kunstenaar, wat weens swak gesondheid meestal bedlêend was, sy kuns as’t ware herskep wat tegniek betref. Matisse was die meester van kleurgebruik, beroemd vir veral sy Matisse-blou in die studie Blue Nude (daar is eintlik vier van die blou dames). Nadat hy verskillende kleure gemeng het, het assistente groot velle papier geverf wat hy dan in vorms geknip het waarmee groot collages (sommige daarvan vloer-tot-dak-grootte) saamgestel is teen sy slaapkamer-studio se mure.

Dit lýk soos eenvoudige kinderkuns, maar die veronderstelde maklikheid daarvan is natuurlik totaal bedrieglik. Hoe langer jy kyk, hoe meer word jy verstom deur die waarmerke van ’n ware meester. Soveel so dat Picasso, tydgenoot van Matisse, blykbaar jaloers was op die nuwe rigting wat sy groot vriend (én opponent) ingeslaan het so laat in sy lewe.

Hierdie is ’n interessante, móói film wat hoog aanbeveel word vir alle kunsdiere.

Sterre:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top