Resensie: Eerste optrede van die Universiteitskoor Stellenbosch onder bestuur van die US Woordfees

  • 0

Endler-konsertreeks met Stellenbosch Universiteitskoor
10 Mei 2015
Endlersaal, Stellenbosch

Op pad na die Endler vir die uitvoering deur die universiteitskoor het ek by myself gewonder of ’n Sondagmiddag halfvyf nie ’n tyd is wat slegs geheelonthouers pas nie. ’n Moedersdagmaal met etlike glase wyn laat die oë kleintrek. Maar watter beter manier kon daar wees om die Moedersdag af te sluit! Toe die eerste note van Peter Klatzow, bekroonde Suid-Afrikaanse komponis, se wonderskone “Afrika-gebed” die ouditorium vul, het die loomheid van die wyn plek gemaak vir die warm loomheid wat slegs die bekoring van musiek kan bring wanneer dit jou iewers buite jouself gaan neersit.

Die universiteitskoor en hul koorleier het bekoor met ’n hartverwarmende optrede wat beslis geen siel, of selfs siellose, in die gehoor onaangeraak kon laat nie.

Die programkeuse het heelwat Suid-Afrikaanse premières ingesluit. Dan Forrest se “Bronze Triptych” – ’n werk in drie bewegings vir koor en klavierduet, met Elna van der Merwe en Zorada Temmingh agter die klawers – het die asem weggeslaan. Die woorde van die teks vat die spoor na die vorming van ’n klok. In die eerste beweging van die triptiek word brons uit die aarde gemyn en gebruik om oorlogswapens te vorm. In die tweede beweging word die brons gesmelt en hergiet in ’n vesperklok om die aanddiens aan te kondig, met die slotbeweging waarin die klok die oorwinning en vreugde van vrede na die vernietiging van oorlog weergalm.

Dit is gevolg deur die roerende “I need Thee, oh I need Thee”, pragtig verwerk deur André van der Merwe, ’n koorleier wie se passie vir musiek en sy dinamika en energie op die verhoog aansteeklik is. Dit is duidelik hy ken sy koor en hulle ken hom. Die band tussen hulle is voelbaar.

Die ander “eerstes” op die program was Gunnar Eriksson se “Norwegian Lullaby”, Michael Ostrzyga se kosmiese reis, “Luppiter” (waarin die koor beïndruk het met hul vlot “enumerasie” van al Jupiter se Latynse kultusname en etimologies verwante terme uit ander antieke tale!) en dan drie werke van die 29-jarige Amerikaanse komponis, Jake Runestad, naamlik “Alleluia”, Psalm 121 en die verruklik-aangrypende “We can mend the sky” – ’n toonsetting van ’n gedig deur die 14-jarige Warda Mohamed, wat saam met haar ouers uit die oorloggeteisterde Somalië na die VSA gevlug het. Die slotwoorde lui: “Let’s go – to save your soul, run with all your might. If we come together, we can mend a crack in the sky.” Hoe toepaslik in hierdie tyd!

Hierdie koor word tans deur Musica Mundi as die beste koor ter wêreld beskou. En “tans” beteken terugwerkend van 2000 af. Te oordeel na die geesdriftige en warm applous van die gehoor bestaan daar geen twyfel nie dat die universiteitskoor onder leiding van André van der Merwe nie net die wêreld oor nie, maar ook in hul eie land, geëer word. Sondagmiddag se uitvoering het onteenseglik gewys waarom dit so is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top