Resensie: Die wolkversamelaars deur Nadia de Kock

  • 0

Die wolkversamelaars
Nadia de Kock
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709036

Ek het nog nie Nadia de Kock se Heildronk op ’n gypsyromp gelees nie, tot my innige spyt, maar hierdie roman, haar tweede – wat jou spotmaklik na allerhande adjektiewe laat gryp, wat jou vinnig-vinnig intrek in ’n diep, veelvlakkige verhaal, wat jou pens en pootjies laat intuimel in ’n liriese, lieflike geestesreis wat uiteindelik ook van oënskynlike koers verander – is werklik ’n pragboek. Uit die staanspoor kan ’n mens op loop gaan oor die leeservaring, wat met ’n sterk visuele inslag gepaardgaan. Die wolkversamelaars is ’n baie dapper boek, nes My naam is Prins, ek slaap met die lig aan; menigte boekklubs sou ’n heerlike oggend of aand kon spandeer om Die wolkversamelaars en Die dekonstruksie van Retta Blom met mekaar in gesprek te bring. Albei romans sou breedweg as romantiese of vrouefiksie geklassifiseer kon word, maar nie afgemaak word as blote ontspanningsfiksie met ’n ligte toon en oppervlakkige karakters nie.

Beide romans – hoewel gelaai met wrang humor en romantiese verhoudings en verwikkelinge wat sentraal staan – het ook ontstellende, ontroerende traumas waar die jong kind figureer, nes in die geval van My naam is Prins. Soveel verskillende elemente wat trefkrag en diepte verleen verdien vermelding en behoort onder bespreking te kom. Dis egter ook ewe maklik om ’n pretbederwer te wees vir lesers wat nog nie die boek onder oë gehad het nie.

Ek is ’n sucker vir ’n goeie, treffende titel wat op verskillende vlakke funksioneer en tot die inhoud van die roman spreek. Die wolkversamelaars is beslis een so ’n welgekose titel. Wolke en wolkformasies is natuurlik een van die mees opvallende verskynsels in die natuur. ’n Mens kan maklik terugdink aan jou kinderdae, toe jy op jou rug gelê en opgekyk het na die bloue uitspansel daar bo. “Wat sien jy?” was die leidende vraag. So is die vraag “Wat sien jy?” ook van toepassing op die roman se titel, wat met die eerste oogopslag en besinning my laat dink het aan wolke wat kom en gaan, immer vervlietend, sekere formasies veel meer seldsaam as ander. Soos met ’n sekere tipe mens, of hoe? Ons is nie almal weerkundiges nie – wat ons sien, wil sien, projekteer en vermy verskil van mens tot mens.

Met die lees van Die wolkversamelaars word dit algaande duidelik hoe die skrywer hierdie vraag van “Wat sien jy?” oopskryf. Wat sien ons wanneer ons na geliefdes kyk? Hoe verskil dit van hoe ons na vreemdelinge, kennisse, dié wat ons leed aangedoen het, en dié wat ideologies van ons verskil kyk? Hoe leer ons mettertyd om na die Ander te kyk sonder om die unieke menswees en karakter van daardie persoon te misken?

Die wolkversamelaars kyk met deernis en sensitiwiteit na die mens se soeke na waarheid, skoonheid, liefde, en gemeenskap, maar vermy ook nie die teleurstellings, trauma, mistroostigheid, gebrokenheid, ontsetting en hartseer van verskeie van die karakters nie.

In vele opsigte is dit ’n roman wat saamleef en saam leef letterlik en metafories ontgin. Van avonture en ontdekkings is daar baie. Beide bring natuurlik die moontlikheid van gevaar, onsekerheid, en om iets te vind of te ontdek wat jy nie wou nie; om iets te vind wat jou verras, goed of sleg. Om jouself te vind klink altyd na so ’n cliché, maar De Kock blyk werklik geïnteresseerd te wees in wat dit sou beteken om jouself te vind, en tot verhaal te kom. Om jouself te vergewe vir alles wat jy nie kon bereik nie of ’n persoon te wees wat jou jonger self nie sou sien kom nie. Om met gebrokenheid saam te leef. Om te bly soek na hoop en moontlikhede ten spyte van teleurstellings en terugslae.

Die wolkversamelaars beklemtoon die intensiteit van die individu se ervarings soos daar geworstel word met dit wat onder die oppervlak skuil, dit wat eerder nie gesien, gehoor of konfronteer wil word nie. Dit wat verborge bly weens trauma, en dit wat voortdurend bly spook en nie wil wyk nie.

Daar is ’n merkbare kompleksiteit in die vertelling rakende hoe ons ander mense se stories verstaan en “vertaal”, hoe intersubjektiwiteit neerslag vind tussen erotiek, romanse en vervreemding, en hoe verlange en begeertes ons lewens se gang kan bepaal.

Die leser moet voortdurend attent wees, met uiterste aandag lees, en die verhaal volg met ’n sensitiwiteit teenoor die narratologiese besluite wat die skrywer neem. Heelwat details word subtiel herhaal. Daar is verskeie terugflitse en drome wat betekenisvol bydra tot die psigiese onderbou van die roman. Soms is jy in die spreekwoordelike kombuis, ander kere die leefareas. Soms is jy weer in die kelder, met min lig. Daar is dit beklemmend en onthutsend en intens.

Veral die laaste derde van die roman het ’n sterk politieke dimensie, amper asof jy met tye ’n ander boek lees. Ek vermoed sommige lesers gaan minder van hierdie deel van die roman hou, juis omdat dit so vol pyn en smart is, en veel van die vroeër ligte oomblikke in die roman kontrasteer. Dis baie moeilik om nie hier te veel weg te gee nie, maar daar is ’n besonder elegiese, ontroerende, dog fel tipe skryfwerk wat hier sy gang gaan. Die dood in al sy ellendigheid en triestigheid en naakte geweld word hier in woorde gegiet.

Die wolkversamelaars het my gereeld en al hoe meer teen die einde laat wonder: Het ons hier te make met ’n vertelling wat doelbewus die individu se eie reis vergroot en verklein om te wys hoe ons lewens altyd ineengestrengel is met ander s’n? My storie is my storie, maar …

Talla (Atalia) is ’n fassinerende, simpatieke hoofkarakter. Jy gee baie vir haar om, en jy voel gereeld of jy haar reeds lank ken en goed verstaan. Dog vrees jy ook vir haar, en wens jy sy wil bietjie minder rook en baie meer eet!

Digkuns en musiek word so verweef dat dit organies bydra tot die hoofkarakter se gedagtegang en menswees, en ook die tematiese gegewens subtiel belig. Ek het veral van die insluiting van Breytenbach, Eybers en Robert Burns se digkuns gehou.

Skotland en sy bekorende mistiek kom behoorlik aan bod. Die roman het ’n ryk, tasbare atmosfeer en stemming. So vra jy jouself telkemale waar en wat huis en ’n tuiste is, en watter plekke die naaste aan jou hart lê, en hoekom. Hoekom is Skotland juis so misterieus en die landskappe so majestueus? Die wolkversamelaars bied antwoorde. Die onderskeid tussen reis en bestemming word slim gekompliseer en bevraagteken. Ek lees ook beslis die subteks van vrouebemagtiging raak. Dit word nooit oorbeklemtoon en in jou gesig gegooi nie.

Ek het ’n sagte plekkie vir die gegewe van die “laaste wens”, een wat gewoonlik ’n soort soektog of avontuur ontketen en wat ook die protagonis tot groter insigte oor hom- of haarself bring. Talla los die veilige bestaan, en reis vir drie maande na Skotland. Sy moet Theresa se as gaan strooi en onderneem ’n soort pelgrimstog. Die strooi van haar vriendin se as is ’n belangrike moment, soos verwag.

Talla ontmoet vir Mikey, wat wyd en syd soek en omtrent die hele Skotland bewandel om sy Kate te vind, wat hom eendag glo sonder tyding verlaat het. Mikey is maar ’n vreemde en koddige kêrel, en sy gedagtes ’n troebel affêre. Talla dink elke nou en dan aan haar gewese liefde Astian, ’n verhouding waarin sy nooit die nodige afsluiting en antwoorde gekry het nie. Talla se kinderdae op Warmbad was ook nie juis gelukkig nie.

Die titel aktiveer die Keltiese mite van die seegod, Manannán mac Lir, wat op die Isle of Man sy kinders beskerm deur ’n wolkekombers oor hulle te trek. Hoe lieflik! So word die titel ook die behoud van die domein van ironie; ’n spel met die leser en met die soektog na geluk en koestering van die kind en die ouer wat beskerm en beskut.

Letterlik is wolkversameling die spel waar daar op die uitkyk is vir verskillende tipes wolke, en die kyker punte kan kry wanneer ’n sekere wolk gewaar en geïdentifiseer kan word. Daar word boekgehou en bestekopname gedoen van die lewe self, soveel as die wolke wat stuk-stuk versamel word. Talla het immers haar notaboekie by haar.

Die idee van Talla as kunstenaar, as ontwerper, strook mooi met die ondersoek na stories en hoe hulle “skets” en “beteken”, en soms soveel verhul as wat hul ontbloot. Die skrywer ken haar storie met die skep van onthoubare, mens-mens karakters. Die takhaar Mikey, die gebroke Ailsa, en die punt-in-die-wind bestuurder van die herberg Munro’s, Neil Lennox, onder andere. Veral ook dokter Connor, wat bergklimmers in nood help.

Veral belangrik is die drome waar Talla van die trappe afval; hierdie droomtonele word baie vaardig beskryf en bied ’n sleutel tot Talla se onverwerkte trauma. Skerp en sielvol is die besinning dat die hel ’n uitsonderlike plek is waar daar nie so iets soos geheime bestaan nie, en dat alles wat jy probeer verskuil en onderdruk sal uitkom. Hel moet ook iets wees soos om drie maande op ’n hongerloon in die Glen Coe-vallei te oorleef terwyl jy omtrent net sigarette rook en nie juis kan braai nie.

Talla noem haar gewese minnaars die Roekeloses (!), en deel fragmente uit haar stormagtige verhoudings met die leser. Ek het nogal iets verwag van die uiteindelike herontmoeting tussen gewese minnaar Astian en Talla, maar dit was vir my die een groot teleurstelling van die verhaal. Dis ietwat van ’n antiklimaks. Astian het na Skotland geëmigreer, en die antwoorde wat Talla uiteindelik kry voel te dun en onbevredigend, nes hul veilige interaksies. It’s a no from me, ongelukkig.

Dis absoluut geen toeval dat Talla ’n sterk belangstelling het in die wewery van tartan en dat sy voel dat tartan sterk in haar toekoms figureer nie. Ook is die feit dat Talla ’n tatoeëerkunstenaar is veelduidig en veelseggend vir enigeen wat bereid is om ’n bietjie metafories te dink. Sommige gebeure “ink” jou, verander jou. Sommige herinneringe kom permanent nesskop, of jy hulle verwelkom of nie. Die karakters neem deel aan verskeie vasvra-aande, ’n uiters funksionele wending wat help om heelwat oor die karakters self en hul manier van dink te verklap.

Een van die mees interessante elemente of beskrywings in ’n roman wat oorloop van poëtiese dimensies is die begrip van die “dun plekke” – en die roman begin ook met die volgende: Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ’n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar die afstand nog kleiner is en het dit “dun plekke” genoem. So word die leser voorberei vir die leeservaring waar daar saam met die karakters besin word oor presies waar en wanneer ons plekke, en oomblikke, van geluk, suiwerheid, waarheid en “opheffing” ervaar.

Erkenning aan die skrywer vir klein kopknikkies, soos ’n protagonis wat op reis gaan en dan haar paspoort verloor – maklik is dit nou wragtig nie vir Talla nie. Ook kan mens nie help om te glimlag oor die feit dat Talla Theresa se as in ’n roomysbak saam met haar oorsee karwei nie. Dit is hierdie tipe klein details – pikant, hartseer-snaaks, diep menslik, rou – wat jou lank bybly.

Die wolkversamelaars weef as geheel ’n melancholiese onthouverhaal van uitsonderlike kleur en kompleksiteit. Iewers tussen hemel en aarde bring dit ’n ragfyn laag van vertroosting.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die wolkversamelaars deur Nadia de Kock

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top