Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die wolkversamelaars deur Nadia de Kock

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

______________________________________

Nadia de Kock

Nadia de Kock is ’n IT-­spesialis met haar kop in die wolke. Sy is ook skrywer, reisiger en gewese uitgewer. Haar roman Heildronk op ’n gypsyromp het in 2009 verskyn. Haar nuutste roman is Die wolkversamelaars. Sy bly in Johannesburg.

______________________________________

Opsomming

 

Die wolkversamelaars
Nadia de Kock
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709036

Die laaste wens van ’n liewe vriendin stuur Talla na die Glencoe­vallei in Skotland. Sy neem haar wolkboekie saam om haar stokperdjie, die
soeke na seldsame wolke, voort te sit. Daar word sy by ’n eienaardige rondloper, Mikey, se soektog na sy verdwene geliefde betrek. Maar dit blyk gou dat Mikey se geestestoestand troebel is. Dan duik herinneringe aan Talla se kinderdae in Warmbad, en aan haar eerste liefde, Astian, by haar op. Sal sy waag om antwoorde op vrae uit haar verlede na te jaag?

____________________________________

Uittreksel

1

Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ’n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar dié afstand nóg kleiner is en het dit “dun plekke” genoem.

Talla draai die boek ’n aks na haar toe sodat sy makliker kan lees. Hongkong se lughawe is beslis ’n dun plek, sê die boek. Die Blou Moskee in Istanboel ook. Nader aan die natuur is Mull- eiland aan die Skotse kus en Slea Head in Ierland bekende dun plekke.

Die boek behoort aan die vrou in die vliegtuigsitplek langs Talla, maar sy is badkamer toe en Talla tel dit van die sitplek op. Die foto op die voorblad is dié van ’n vervalle kasteel.

“Stel jy in dun plekke belang?” Dit is die boek se eienaar wat terugkeer na haar sitplek en langs Talla inskuif. Haar stem is sag en sterk. Sy het haar lang, reguit grys hare losgemaak en dit hang oor haar skouers.

“Ek dink so . . . ek bedoel, ek het nie daarvan geweet tot nou nie. Dit lyk interessant.” ’n Boek is ’n intieme besitting en Talla voel skuldig toe sy dit na die vrou uithou.

“Fassinerend,” sê die vrou. Sy vat die boek by Talla aan. Haar gewrig is fyn en die silwer kettingarmband lyk effens te groot. Sy het lang, dun vingers.

“Dit is toevallig dat ek juis nou oor die Kelte lees,” sê Talla. “Ek is op pad Skotland toe.”

Die vrou kyk haar ondersoekend aan.“Waar in Skotland?” “Die Glencoe-vallei. In die Hoogland.”

“A, ek ken Glencoe. ’n Meedoënlose dal in die winter.Was jy al daar?”

“Nee.”

“‘Fearful in their grandeur and amazing solitude.’ Só het Charles Dickens die berge en skeure beskryf.” Die vrou sak in haar sitplek terug. “Dit is ’n ontsagwekkende vallei. Pragtige landskap maar ’n intense plek. Ek glo dit gaan ’n besonderse ervaring vir jou wees.” Sy druk haar hare agter haar ore in, die fronsie tussen haar oë algaande dieper.“Dis ’n plek wat maskers afhaal,” sê sy, meer vir haarself as vir Talla. Sy glimlag uiteindelik en die frons verdwyn stelselmatig. Toe sit sy haar leesbril op en maak die boek oop. Die gesprek is verby.

Talla wonder vlugtig of Glencoe ’n dun plek is. Haar maag trek op ’n knop. Wanneer sy terug is in Suid-Afrika sal sy oor dun plekke nalees.

Sy reik na haar rugsak wat by haar voete lê, maak dit oop en voel daarin rond vir die wolkboek. Sy vat eers haar nuwe nota- boek raak, toe haar paspoort en die hopie geld wat sy saam in ’n plastieksakkie toegedraai het. Dit hoort nie in haar rugsak nie. Sy is agterlosig, twee weke gelede het sy haar identiteitskaart in die Mugg & Bean in Rosebank Mall laat lê en moes sy op haar spoor terugloop totdat sy dit gekry het. Sy lig haar effens uit die sitplek op en druk die paspoort en geld diep in haar jeans se regtersak. Die dun pakkie twintigpondnote is die helfte van haar sakgeld. Die ander helfte is opgerol in een van haar sokkies in haar tas en een twintigpondnoot is in die dun muntebeursie saam met haar OTM-kaart in haar linkersak. Dis wel haar eerste keer oorsee, maar sy is streetwise, sy is immers ’n Johannesburger. Al haar eiers is nie in een mandjie gepak nie.

Nie dat die OTM-kaart veel waarde het nie, haar bankbalans lyk maar beroerd. Sy het die res van haar vakansiegeld al gereed gehad toe Ma se geskeurde meniskusse ’n maand gelede ’n nood- knieoperasie nodig kry. Die beste, én duurste, ortopeed was in Pretoria en Talla moes help betaal. Sy kla nie te hard nie, wie anders moes help?

Gelukkig is die eerste maand van haar verblyf in Skotland reeds betaal. Sy sal ná die maand uitkyk vir iets goedkopers.

Uiteindelik vat sy die hardebandwolkboekie raak. Dit lê heel onder, diep onder die res van haar goed ingedruk. Sy haal dit uit, knip die sak toe en skuif dit met haar voet tot onder die sitplek voor haar.

Sy kyk om of sy die dranktrollie kan sien. Haar senuwees is klaar. Maar haar tas is veilig in die bagasieruim. As die lughawe- personeel, of hul snuffelhonde, iets agtergekom het, sou hulle haar nie toegelaat het om op die vliegtuig te klim nie. Die rooi roomysbak met Theresa se as in is onopgespoor in haar tas. Veilig van ander oë en veral hondesnoete.

Sy hoop net nie die bak gaan oop nie. Dít sal ’n gemors wees. Verbete druk sy die gedagte terug: die bak is styf toe, die bak is styf toe. Styf toe. Sy sien die rooi bak in haar geestesoog, en die deksel is behoorlik vas.

Toe maak sy haar wolkboek oop. Dit was saam na Modimolle, toe sy haar ma en tant Lettie, haar ma se niggie, laas week gaan groet het. Tant Lettie het natuurlik baie te sê gehad oor die tipe mense wat hulle ophou met iets soos wolke versamel.“Van Engeland af, ja. Ek kon dit van dié bleek spulletjie verwag.” Sy het gesnork. “Beslis daardie eenvoudige prins Charles wat dié soort snert sal uitdink.”

Talla blaai verby bladsy twee-en-twintig. Die besonderse wolkformasie wat deur ’n versamelaar van Windermere inge-stuur is, trek weer haar aandag. Dit is ’n reusagtige donderwolk, kilometers hoog, en lyk soos ’n wolkontploffing. ’n Uitstaande voorbeeld van die cumulonimbus-tipe, sê die skrywer.

Presies hoe ver is Windermere van Skotland af? Skotland, die plek waarheen sy vanaand onverwags op pad is. Moeilik om te glo sy was nog nooit oorsee nie; sy raak immers al aan vyf-en- veertig. En as sy haar eerste oorsese bestemming self kon kies, sou sy na ’n Griekse eiland gaan. Son en see, nie Skotland wat vir haar maar koud en grys lyk nie.

Waar bly die dranktrollie? ’n Groot glas cabernet is wat sy nodig het. Sy rek haar nek, maar sien niks. Dan probeer sy haar aandag weer by die boekie bepaal en lees verder na oor die donderwolk. Die cumulonimbuswolk is ’n volle veertig punte werd uit ’n moontlike vyf-en-vyftig punte, wat aan die Kelvin-Helmholtz-wolkformasies toegeken word. Cumulonimbus neem taamlik gereeld die vorm van ’n aambeeld aan, wat slegs sigbaar is op ’n groot afstand van die wolk af.

Sy is seker Theresa sou entoesiasties gewees het oor haar versameling van wolke. Wel, indien nie opgewonde nie, sou sy beslis nie veroordelend gewees het nie. Dit is nie die soort mens wat sy was nie. Sy sou met ’n glimlag na Talla geluister en die stokperdjie as “werklik interessant” bestempel het.

Die glase op die dranktrollie rinkel en Talla slaan haar skink- bord af. Sy bestel ’n bottel cabernet en nadat sy geskink het, bestudeer sy die wyn se diep pruimrooi kleur. Dit is ryk en kom nie tot sy volle reg in die lugredery se plastiekglasie nie. Gelukkig proe dit amper net so lekker soos cabernet in ’n gewone glas. Sy vat nog ’n sluk en sit terug.

Sy het ’n paar weke gelede Skotland in alle erns begin google, en meer gekry as waarop sy gereken het. Sy het op Astian se fotografiewebwerf afgekom.

Sebastian Joubert. “Astian” vir sy vriende en Talla  se eerste groot liefde. Dit was ’n helse skok om op sy foto op die internet af te kom. Sy het twee keer gekyk en ja, dit was beslis hy. Sy het die kunstige swart-en-wit portretstudie by sy kunstenaarsbiografie goed beskou. Ná al die jare het hy nie baie verander nie. Hoë wangbene, sagte oë, vol mond, welige krulkop, net effens silwer by sy slape. Hy het sy kamera in die hand gehad en sy biografie het gesê dat hy ’n gastehuis op Shetland bedryf, met waterverf skilder en wolke fotografeer. Shetland is ’n klompie eilande noord van Skotland en ’n mens kan die noorderligte daar sien, sê Astian.

Sy biografie het ook gesê dat hy ’n wolkversamelaar is, met ’n skakel na die Cloud Collection Appreciation Society se webwerf. Talla het daarop geklik en ’n paar uur later haar wolkboekie bestel.

Daardie aand by die huis het sy in die skoendoos met ou Kers- en verjaardagkaartjies en ander memento’s gaan krap en ’n paar kaartjies van Astian af uitgehaal om te lees. Die klein Sterns-boksie het sy vir laaste gehou, al het sy geweet wat daarin is. Sy het die silwer Sint Christopher wat Astian vir haar gegee het, uitgehaal, dit aangesit en die skoendoos toegemaak. Sint Christopher is die beskermheilige vir reisigers – as sy hom ooit nodig gehad het, is dit nou.

Natuurlik het sy Astian nie laat weet dat sy Skotland toe kom nie. Hoekom sou sy? Hulle het nie weer kontak gehad nadat hulle uitmekaar is nie. Sy was ook verbaas oor die kloppende hartseer die paar dae nadat sy Astian se foto gesien het.Vyf-en- twintig jaar het immers verloop vandat hulle uitmekaar is.

Sy sluk haar wyn klaar. Sy moet haar gedagtes streng beheer, geen nostalgiese drome oor Astian word nou meer toegelaat nie. Die verlede kan nie uit die dood opgeroep word nie, dis verby.

Daar is ’n reusagtige wolk ’n ent van die vliegtuig af. Sy skat dit omtrent ’n kilometer hoog, maar dis moeilik om te sê. Dit is glad aan die bokant – ’n lenticularis, ’n lenswolk. Maar toe sy mooi kyk, sien sy dat dit eintlik twee wolke is. Die boonste een, die gladde een wat soos ’n wit baret windmakerig skeef op die onderste een sit, is ’n pileuswolk, nie ’n lenswolk nie. Talla blaai na die betrokke bladsy in haar boekie en bestudeer die foto van die pileus. Sy kyk na die foto en dan weer by die venster uit na haar wolk. Dit lyk beslis soos ’n pileus. Dié wolk is ook ’n volle vyf-en-veertig punte werd.

Sy teken die datum, tyd en plek waarop sy dit gesien het onder die foto aan. Dit is verreweg die waardevolste wolk in haar versameling.

Terug na die wolk buite die vliegtuig. Dit verdwyn vinnig, soos pileuswolke blykbaar doen. Terwyl die boonste een disintegreer, vorm die figuur van ’n man in die middel van die onderste wolk. Hy staan in ’n vegtersposisie. Hy het lang hare en lyk na die een of ander mitiese figuur, ’n god. Hoe verder hulle van die god af wegvlieg, hoe langer word sy hare.

Later bly net lang, dun slierte hare en een arm oor. In sy oorblywende hand hou hy nou ’n swaard vas. Hy is net enkele minute herkenbaar voordat hy heeltemal vervorm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top