Resensie: Die silwer stoel deur CS Lewis

  • 1

diesilwerstoel300Titel: Die silwer stoel
Skrywer: CS Lewis
Illustreerder: Pauline Baynes
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2015
Genre: Jeug/Klassiek
ISBN: 9781485302216

CS Lewis se kronieke van Narnia beklee ’n gevestigde plek in die kanon van kinder- en jeugliteratuur – daar is wêreldwyd reeds meer as 100 miljoen kopieë van die reeks verkoop sedert die verskyning van die eerste boek in 1950 (BBC News 2012), en dit is in sowat 47 tale vertaal (Sancken 2010). Die reeks bestaan uit sewe boeke, waarvan slegs die eerste vier tot onlangs in Afrikaans beskikbaar was, naamlik Die Towenaar se Neef (vertaling deur André P Brink oorspronklik uitgegee in 1968, heruitgawe in 2002), Die Leeu, die Heks en die Hangkas (vertaling deur Helene de Villiers oorspronklik uitgegee in 1967, heruitgawe in 2002), Die Perd en sy Seun en Prins Kaspian – laasgenoemde twee vertaal deur Janie Oosthuysen en uitgegee in 2002. Die uitgewer, Human & Rousseau, het besluit om nie verdere vertalings van die reeks uit te gee nie, wat ons met die volgende onvertaalde boeke in die reeks gelaat het: The Voyage of the Dawn Treader, The Silver Chair en The Last Battle. Intussen het drie rolprente, onderskeidelik gebaseer op The Lion, the Witch and the Wardrobe, Prince Caspian en The Voyage of the Dawn Treader, die Narnia-verhale opnuut aan ’n nuwe generasie bekendgestel. Protea Boekhuis het nou die geleentheid aangegryp om ons kultuurskat met hierdie ikoniese reeks te verryk, en bou voort op hulle indrukwekkende versameling vertalings. Die laaste drie boeke in die reeks het reeds verskyn, en volgende jaar is die eerste vier boeke aan die beurt, sodat die hele reeks onder die Protea-vaandel sal pryk.

In Die silwer stoel, die sesde boek in die reeks, gaan Jill Pole saam met Eustace skool by Die Eksperiment en is baie ongelukkig omdat sy geboelie word. Dis net ’n paar maande sedert Eustace die eerste keer in Narnia was (in Die vaart van die Dagbreker) en almal wat hom ken, merk op hoe hy verander het. Voorheen was hy een van die nare kinders, maar nou troos hy haar en vertel haar van Narnia.

Hulle moet vlug voor die boelies en beland in Narnia, waar Jill vir Aslan ontmoet. Hy gee vir haar die opdrag waarvoor hulle na Narnia ontbied is: om die verlore prins Rilian, seun van koning Kaspian, te vind. Sy kry vier tekens wat hulle in die soektog sal lei, maar dinge loop sommer uit die staanspoor skeef en hulle mis die eerste drie tekens. Hulle kry egter ’n bondgenoot, die moeraswriemel Doemdrommel – seker een van die kleurvolste karakters in die Narnia-reeks – ’n goedhartige pessimis! Op hulle reis kom hulle reuse teë, ontmoet ’n pragtige dame en ’n geheimsinnige ridder, word deur aardmannetjies gekonfronteer en sien selfs ’n slapende Vader Tyd. In die dieptes van die benederyk word die toekoms van Narnia beslis ...

Venuti (2000:469) is van mening dat ’n vertaling geïnisieer word om die letterkunde van die doelkultuur uit te brei – om te vergoed vir ’n leemte in die doelkultuur. Die vraag kan wel gevra word waarom dit, binne die Suid-Afrikaanse konteks waarin die meeste Afrikaanse kinders ook Engels ken teen die tyd dat hulle self kan lees, nodig is om vertalings van Engelse brontekste te produseer, soos die Harry Potter- en Narnia-reekse. Die antwoord hierop is dat die kweek van ’n gesonde leeskultuur grootliks afhang van die blootstelling wat kinders van kleins af aan goeie boeke gehad het – en dit is eenvoudig deur voorlesing in hulle moedertaal. Chambers (1985:45–59) verwoord dit as volg: “[T]he mediation of literature to children by a literate, sympathetic adult is the single most important factor in the creation of a desire among children to read and to read adventurously ...”

Daniel Pennac beklemtoon ook die belangrikheid van voorlees vir kinders in The Rights of the Reader. Maar hoeveel ouers waag dit nie naby goeie werke vir kinders nie omdat hulle nie kans sien om (soos ons dit nou maar moes doen met die drie onvertaalde boeke in die Narnia-reeks) te vertaal terwyl hulle lees nie? Daar is dan ook die groep jong kinders wat reeds self kan (en wil) lees, maar wie se Engels nog nie op die standaard is wat nodig is om die verhale in die oorspronklike Engels te kan geniet nie. Dit gebeur dus dat die verhale op hierdie kritieke stadium by hierdie groep kan verbygaan. Dat Protea Boekhuis die potensiaal raakgesien het – deur nie slegs die reeks te voltooi nie, maar die hele reeks uit te gee – verdien applous.

Smedman (1986:183) verwys na stories waarin “the spirit triumphs” – wat aan lesers selfs ’n religieuse belewenis bied: “[T]hey evoke a deep, aching, but welcome yearning for something bigger than oneself, accompanied by joy and tears.” Vir CS Lewis was literêre uitnemendheid ’n vereiste waarsonder hierdie vreugde nie moontlik is nie, en Smedman lys “powerful, precise prose, resonant with archetypical imagery and symbolism; compelling characters; themes of universal human significance” as kenmerke daarvan – alles eienskappe waarmee die Narnia-reeks beskryf kan word.

Lewis se belangstelling in en kennis van die Noorse mitologie, die Klassieke letterkunde, die Engelse geskiedenis en Christelike teologie vind alles inslag in sy verhale. Dit maak die stories besonder ryk en veelvlakkig. Vir die vertaler bied so ’n teks egter groter uitdagings, én ’n groter verantwoordelikheid teenoor sowel die skrywer as die teikenlesers.

Kobus Geldenhuys het geen bekendstelling as vertaler nodig nie. Hy is vanjaar bekroon met die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans vir sy vertaling Hoe om Drakonees te praat – die Afrikaanse titel van Cressida Cowell se How To Train Your Dragon. Vir dieselfde vertaling is hy op die Suid-Afrikaanse been van IBBY (International Board on Books for Young People) se ererol ingesluit. Buiten die ses boeke in Cowell se reeks wat hy onlangs vertaal het, is hy ook bekend vir, onder andere, sy vertalings van die laaste twee boeke van die Harry Potter-reeks van JK Rowling en die Charly Bucket-boeke van Roald Dahl. In ’n onderhoud gee hy sy goue reël vir vertaling: respekteer die bronteks en die skrywer. Hy sien sy werk as vertaler om ’n teks “toeganklik vir nuwe lesers in ’n nuwe taal te maak”.  

Lewis se styl word gekenmerk deur lang sinne, wat bydra tot die algemene gevoel van ’n storieverteller wat direk met die leser praat. Dit kan egter soms die teks moeilik maak vir jonger lesers, wat eerder korter, eenvoudiger sinskonstruksies sou verkies. Dit is dan ook ’n vertaalstrategie wat vertalers dikwels inspan om die leesbaarheid van ’n teks te verbeter, naamlik om lang sinne te verkort deur dit in twee of selfs drie korter sinne op te breek. Die vertaler loop egter dan die gevaar om die skrywer se stem te verloor. Maar sonder om die twee tekste in besonderhede met mekaar te vergelyk, kon ek nie agterkom dat sinne in die vertaling verkort is ter wille van verstaanbaarheid nie. Die vertaling van Die silwer stoel lees gemaklik en Geldenhuys slaag beslis in sy doel om nie net getrou aan Lewis se styl te bly nie, maar ook die teks vir jong Afrikaanse lesers toeganklik te maak.  

Daar is kritici wat kapsie maak teen die Christelike elemente in die Narnia-verhale – dit is juis hierdie elemente wat in die filmweergawes so ver moontlik vermy of afgewater is sodat ’n wyer gehoor geteiken kon word. Ek stem saam met Sancken (2010) dat alhoewel daar sekerlik Christelike elemente is, die verhale op ’n nie-allegoriese vlak steeds geniet kan word: “Children do not need to recognize Aslan as a symbol of Jesus Christ to enjoy Lucy’s rapturous experience of touching his fur or to understand why Reepicheep would sail to the edge of the world to see him.” Lewis (1982:72–3) se reaksie teenoor diegene wat hom daarvan verdink dat hy die reeks geskryf het met die vraag oor hoe hy iets Christeliks vir kinders kan sê, en toe op die feëverhaal as medium besluit het, was: “This is all pure moonshine. I couldn’t write in that way at all.” Hy gaan voort deur te vertel van die “prentjies” wat by hom opgekom het: “At first there wasn’t even anything Christian about them; that element pushed itself in of its own accord.”

Sancken (2010) is van mening dat die boeke so gewild onder ’n wye spektrum lesers is juis danksy die feit dat, ofskoon die boeke deur Lewis se teologie beïnvloed is, dit nie blatante morele instruksies bevat nie. Ook hier respekteer Geldenhuys die bronteks en skrywer, deur byvoorbeeld die verwysing na die Bybel te behou.

Daar was egter ’n aantal vertaalkeuses en -foute in die teks wat my leeservaring so effens gedemp het. Lastige foute wat mense gereeld maak en selfs in Skryf Afrikaans van A-Z se lys oor taalkwessies opgeneem is, kom regdeur die teks voor. So byvoorbeeld neem Jill haar padvindersmessie saam wat “handig” (bl 47) (in plaas van “nuttig”) kan wees; daar is ’n “opsoek” (51) wat twee woorde moes gewees het; “more anxious” is vertaal as “angstiger” (112) in plaas van “gretiger” (HAT6 wys dit selfs as ’n anglisisme uit – so almal wat graag anglisismes jag, hier is een); in Afrikaans duur ’n reis twee uur – dit “neem” nie twee “ure” (167) nie. Daar is ook ’n “Lank, lank later” (122) (“Long, long afterwards”) wat my in die laatnag weer vinnig laat regop sit het. Maar wat menige Narnia-aanhanger se wenkbroue onmiddellik die hoogte in sal laat skiet, is die vertaling van Doemdrommel se verwysing na “fricasseed frogs and eel pie” wat in Afrikaans “paddapastei en palingpiepie” (70) word. Hoewel toilethumor deesdae hoogmode in kinderboeke is, pas sulke banaliteit eenvoudig nie in Narnia nie. Daarby bied die alternatiewe, naamlik “gestoofde padda”/ “paddafrikkadel” en “palingpastei”, dieselfde mate van alliterasie as in die Engels (as dít dan nou die oorweging kon gewees het). Ek hoop regtig dis ’n geïsoleerde geval en nie iets wat in die ander boeke voorkom nie, want dit sal die gees van Narnia ongelukkig laat taan.

Die vertaling van eiename is altyd ’n interessante aspek van vertaling, en vertalers gryp dikwels die geleentheid aan om hulle kreatiwiteit en vertaalvernuf daarin ten toon te stel. So byvoorbeeld skitter Sonja van Schalkwyk-Barrois se Afrikaanse vertalings van eiename in die Asterix-reeks (ook uit die Protea-stal): daar is Kasterolix die druїde, Witblix die hond, Liederlix die dorpsanger, en Allamapstix die stamhoof, om maar ’n paar te noem. Ons kan aanvaar dat alle name in fiksie gebruik word danksy ’n onderliggende bedoeling van die outeur – vir sommige lesers is hierdie bedoeling net meer opsigtelik as vir ander (Nord 2003:183).

Fernandes (2006:44) wys daarop dat alhoewel name belangrike kulturele merkers in ’n verhaal is, dit ook ander funksies het, veral in die geval van fantasieverhale, waar name ook ’n fundamentele rol speel deur die komiese effek daarvan en die weerspieëling van karakters se persoonlikheidseienskappe. Geldenhuys se vertalings is meestal in die kol: Puddleglum the Marsh-wiggle word Doemdrommel die moeraswriemel; Glimfeather (‘n uil) word Glimveer; die muis Reepicheep word Riepetjiep. Hoekom dit nodig was om Cair Paravel, Caspian en Cor te verander na Kair Paravel, Kaspian en Kor, is nie vir my duidelik nie en lyk (soos ook in die vorige vertalings van Jani Oosthuysen) of dit slegs ter wille van verandering gedoen is: name soos Casper, Corrie en Cassie kom tog algemeen in Afrikaans voor. Reg aan die einde word die boelies by Die Eksperiment genoem: “Adela Pennyfather and Cholmondely Major, Edith Winterblott, ‘Spotty’ Sorner, big Bannister, and the two loathsome Garrett twins” (205). Terwyl die eerste drie name net so behou word en “die haatlike Garrett-tweeling” in die Afrikaanse teks voorkom, val dit vreemd op dat Sproete Sorner en Boelie Bannister (207) skielik Afrikaanse byname het – hulle bly immers Engelse karakters wat in Engeland woon.

Of kinders se entoesiasme vir die reeks deur bogenoemde lastighede gedemp sal word, is natuurlik ’n ope vraag. As ’n mens egter in ag neem dat kinder- en jeugliteratuur ’n belangrike opvoedkundige rol speel, behoort teksversorging baie meer aandag te geniet, en ’n mens kan maar net hoop dat dit wel die geval is in die res van die reeks. Afgesien daarvan, kan ek die boek beslis as kandidaat vir die Kerskouse aanbeveel, en wens ouers en kinders heerlike gedeelde avonture in Narnia toe – in Afrikaans!


Vir Narnia-liefhebbers:

Writer of the Week: A decade of Lauren Beukes

LitNet
Books & Writers 

Die laaste geveg deur CS Lewis

Nina Swart 
Jeugresensies



Bronnelys

Chambers, A. 1985. Axes for frozen seas. In Fearn, M (red), Only the Best is Good Enough. The Woodfield Lectures on Children’s Literature 1978–1985. Londen: Rossendale.

Fernandes, L. 2006. Translation of Names in Children’s Fantasy Literature: Bringing the Young Reader into Play. New Voices in Translation Studies, 2:44–57. http://www.iatis.org/oldsite/newvoices/issues/2006/fernandes-paper-2006.pdf

Lewis, CS. 1982. Of This and Other Worlds. Glasgow: William Collins.

Narnia author to be honoured at Poets’ Corner. 2012. BBC News, 22 November [Intyds]. Beskikbaar by http://m.bbc.co.uk/news/entertainment-arts-20426778 (22 Februarie 2013).

Nord, C. 2003. Proper Names in Translations for Children: “Alice in Wonderland” as a Case in Point. Translator’s Journal, 48(1–2):182–96.

Sancken, R. 2010. Voyage of the Dawn Treader by CS Lewis. Being a Historical Exploration of the Creation and Reception of the Third Book of the Chronicles of Narnia. University of Illinois. [Intyds]. Beskikbaar by http://frowl.org/dawntreader/history.html (28 Mei 2013).

Smedman, MS. 1986. Out of the Depths to Joy: Spirit/Soul in Juvenile Novels. In Butler, F en R Robert (reds), Triumphs of the Spirit in Children’s Literature. Hamden: Library Professional Publication.

Venuti, L. 2000. Translation, Community, Utopia. In Venuti, L (red), The Translation Studies Reader. Londen: Routledge.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Leon de Vries

    Baie geluk met 'n baie goeie resensie. Jy het 'n breë verwysingsveld en dit getuig van heelwat navorsing en naleeswerk (Ek is eintlik skrikkerig om kommentaar te lewer, want ek kan dalk taal- en spelfoute maak - nou ja dit sal ook nou nie die einde van die wêreld wees nie.) Ek het al baie oor CS Lewis gelees, maar dink nie ek het al iets gelees wat hy geskryf het (behalwe natuurlik aanhalings deur derde partye - hy word nogals baie aangehaal). Jou kritiek oor die vertaling van 'fricasseed frogs and eel pie' is na my mening geregverdig, sommer baie. Die vertalings is nie in die gees van die boek nie (hier baseer ek my mening op jou beskrywing van die boek). Iets anders waaroor ek gewonder het: Ek sien die woordeboek vertaal 'anxious' onder meer as 'beangs' en 'gretig'. Daar is nogal 'n groot verskil tussen 'beangs' en 'gretig'. Ek aanvaar hoe mens dit vertaal, sal deur die konteks van die sin bepaal word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top