Resensie: Die man van Quatro deur Calvyn van Niekerk

  • 1

Titel: Die man van Quatro
Skrywer: Calvyn van Niekerk
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903840

Ons bevind onsself tans midde die sestien dae van aktivisme teen die geweld teen vroue en kinders, wat internasionaal deur talle regerings, insluitend Suid-Afrika, erken word. Laasgenoemde gedagte het by my opgekom nadat ek Calvyn van Niekerk se jongste roman gelees het en moes besin waarom bewusmaking oor geweld teen veral vroue en kinders van belang is. Geweld – in allerlei vorme ─ is immers ’n daaglikse verskynsel wat nie teen enige persoon diskrimineer nie. Die vraag waaroor ek egter moes besin is die fyn lyn tussen geweld en die mens se natuurlike woede en behoefte aan vergelding teenoor die geweldenaar. Hoe kan enige individu berusting vind in die wete dat, soos in Van Niekerk se roman Die man van Quatro, sy/haar ouers met teregstellingskote in die agterkop in hul kombuis gesterf het en ’n geliefde suster wreed vermoor is – haar naakte liggaam oopgespalk om selfs in haar dood verneder te word? Wie gaan vir die regte van die verontregdes opstaan en geregtigheid laat seëvier? In die nie-fiktiewe wêreld vind talle slagoffers van moord of geweld selde antwoorde op hul vrae. Die antwoord op dié vraag in die wêreld van fiksie: Thinus Olckers.

Reeds in 2014 het Calvyn van Niekerk lesers uitgeknikker met sy boeiende vertelstyl en lewensgetroue karakterisering in Die derde graf. Sy jongste misdaadroman bevat elke bestanddeel van ’n resep vir een van die boeiendste misdaadromans van 2019: spanning, intrige, geweld, wraak, korrupsie en selfs ’n knippie liefde. Sodra ’n leser dink hier is net nóg ’n nuwe misdaadroman in Afrikaans, word jy aangenaam verras met Van Niekerk se roman wat nie bloot ’n voorspelbare resep van clichés is nie.

Thinus Olckers beskou homself as ’n weggooikind totdat die liefdevolle Peet en Marlize hom aanneem. Boonop kry hy ’n oulike, bekkige klein stiefsussie, Lise, by wat sy innerlike woede en selfverwerping laat vermurwe. Die Olckerse word die gesin waarna Thinus heimlik gesmag het. Helaas het die noodlot dit so bestem dat sy gesin een aand op hul plaas, Kranskloof, wreed vermoor word. Wanneer Thinus ’n week later vanuit ’n geïnduseerde koma in die hospitaal ontwaak, is sy geliefdes reeds begrawe sonder dat hy van hulle kon afskeid neem. Thinus moet ’n manier vind om berusting te vind met die verlies van sy aangenome gesin. Al herinnering van sy geliefdes wat herhaaldelik in sy gedagtes afspeel, is die gru-foto’s wat hy van die moordtoneel gesien het. Die enigste wyse waarop Thinus berusting kan vind, is deur vergelding. Die moordenaars moet boet vir hul dade.

Thinus is egter nie die enigste karakter wat gedagtes van wraak koester nie. Die skatryk, obese Patel lewe reeds dekades met die traumatiese fisieke en geestelike letstels van sy verblyf in die berugte Quatro, ’n strafkamp vir afvallige MK-lede tydens die strugglejare. Alhoewel Patel, die man van Quatro, ’n opportunistiese bullebak is wat op elke denkbare wyse korrup is, is Van Niekerk se karakterisering so geslaagd dat die leser aanvanklik selfs simpatie teenoor die verontregde Patel voel. Soos die intrige geleidelik ontvou, word Patel ’n versinnebeelding van opgekropte woede en haat wat sy motivering word vir vergelding teenoor diegene wat hom tenagekom het.

Die held in die verhaal is egter kaptein Dirk Bremer wat met sy jarelange ondervinding en vlymskerp speurinstink die leidrade volg om agter die kap van die byl te kom. Talle vrae word in die proses geopper: Wie het die Olckerse vermoor? Het die gesteelde dossier bygedra tot die moorde en waarom het die moordenaars slegs Lise se skootrekenaar tydens die plaasmoord geneem?

Lesers wat die nuus getrou volg sal sekere ooreenkomste met nuuswaardige gebeure en persoonlikhede in van die gebeure en karakters in die roman raaklees. Aanvanklik aktiveer kaptein Bremer se suspisie rondom Thinus se teenwoordigheid op die plaas tydens die moorde die scenario rondom die Griekwastad-moorde. Verwysings na die berugte korrupte broers wat eens in die Johannesburgse voorstad Saxonwold woonagtig was, word ook opgeroep. Laasgenoemde ooreenkomste (of suggesties) dra egter by tot die geloofwaardigheid van die fiktiewe gebeure in die boeiende roman. Van Niekerk daag die grens tussen feit en fiksie op ’n opwindende en kreatiewe wyse uit.

As oud-verhaalredakteur weet Van Niekerk waarna lesers in fiksie soek. Die man van Quatro is ontspanningsfiksie op sy beste. Hierdie roman kan maar gerus vir die komende vakansie’n spannende leeservaring ingepak word.

Lees ook:

Die man van Quatro: ’n onderhoud met Calvyn van Niekerk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top