Die man van Quatro: ’n onderhoud met Calvyn van Niekerk

  • 0

Die man van Quatro
Calvyn van Niekerk
Penguin Random House
ISBN: 9781485903840

Calvyn van Niekerk vertel vir Jonathan Amid van Calvyn se roman, Die man van Quatro.

Calvyn, veels geluk met Die man van Quatro – wat ʼn opwindende, veelvlakkige, skerp spanningsverhaal! Die derde graf het reeds in 2014 verskyn. Waarmee het jy jou intussen besig gehou?

Ek het probeer om my soos ’n afgetredene te gedra, maar dis vervelig. Toe begin ek dink aan karakters vir ’n boek en dit word Die man van Quatro.

Die derde graf het lesers bekendgestel aan Tromp Faber, ʼn ekspolisieman wat buite heelwat boksies val. Jy het daar ook na die diamantbedryf en gepaardgaande korrupsie en geweld gekyk. Wat was die inspirasie vir Die man van Quatro? Met dekades se ervaring in die boek- en tydskrifbedrywe, wat prikkel jou as skrywer? Dink jy die waarheid is altyd vreemder as fiksie in ons land?

Daar is talle moontlike beginpunte vir ’n storie, maar inspirasie is nie een daarvan as jy om den brode skryf en spertye dreig nie. Vir Quatro het ek net besluit op ’n storie oor iemand wat alles wat dierbaar is, in ’n gruweldaad verloor en vergelding eis. Die volgende stap is juis wat my prikkel: Wat dryf mense tot uiterstes? Wat dryf hierdie karakter? Ek sal nie so ver gaan om te sê die waarheid is áltyd vreemder as fiksie nie, maar as ek in my vroeë skryfdae in fiksie sou beweer het dat Eskom, die SAL, die SAUK en Denel almal tegelyk bankrot raak, sou ek waarskynlik in ’n plek met ’n groen dak beland het.

Hoekom juis misdaadfiksie?

Stories gaan oor karakters in konflik, en in misdaad is dit meesal so intens dat lewens op die spel is. Na al die jare van skryf en lees en nuus dophou, verbyster dit my steeds dat iemand doelbewus ’n ander se lewe kan neem. Ek wil weet hoekom.

Het jy gunstelingskrywers in fiksie en niefiksie, en gunstelinge spesifiek in dié genre? Lees jy ook die plaaslike misdaadskrywers in Engels en Afrikaans, of probeer jy om sover moontlik eerder hierdie stories te systap?

Ek dink my eerste groot gunsteling was John D MacDonald, steeds een van die grotes. Ook ander ouer skrywers, soos Elmore Leonard. Meer onlangs Michael Connely, James Lee Burke, Nelson deMille, Robert Crais en ’n hele paar ander. Vir iets anders as misdaad is Ken Follett hoog op my lys. Tot ’n paar jaar gelede het ek op hoogte probeer bly met plaaslike skrywers se werk, maar ek het agtergeraak.

Nes in Die derde graf het jy fantastiese karakterisering as ʼn kenteken van jou skryfwerk in Die man van Quatro. Veral jou manlike hoofkarakters is uitstaande. Hoekom die voorliefde vir sterk manlike karakters? Is dit bloot die hardgebakte milieus wat jy spesifiek uitkies, of is daar iets meer?

James Bond, onder meer, se gewildheid illustreer die sukses van die beginsel van die onstuitbare teen die onbeweegbare. Ek verkies iets dieper as Bond, maar die beginsel werk. Wanneer ek vir ’n karakter ’n taak van lewe en dood gee, moet hy opgewasse wees daarvoor. Dit beteken nie dat ’n aanvanklik saggeaarde mens nie tot ’n uiterste optrede gedryf kan word nie – toevallig juis iets waaroor ek tans vir die volgende ronde peins.

Kom ons begin by die sterk opening van Quatro, en die wyse waarop jy Thinus en Lise Olckers as simpatieke karakters aan die leser bekendstel. Wie is hulle? Hoekom sou lesers vir elkeen omgee, en hoekom was dit van kardinale belang dat jy hulle vroeg in die verhaal vestig?

Die besonderse verhouding tussen hulle, stiefbroer en -suster, is ’n hoeksteen van die storie. Sy is ’n idealistiese jong vrouekonstabel wat veronreg word. Thinus sal voor ’n trein inloop om Lise te beskerm en wat nou gebeur, dryf hom. Ek glo elke storie behoort vir die leser ’n emosionele ervaring te wees. Maak hom/haar kwaad, hartseer, bly, opgewonde, rol van die lag ... wat ook al, maar kry reaksie. Ek glo lesers sal van die twee hou.

Wat is die spesiale band wat hulle deel wat dit so onafwendbaar maak dat Thinus sy eie wraaktog aan die gang sit? Was die agtergrondverhaal van die Olckers-gesin iets wat van die begin af so sterk in die manuskrip figureer het?

Eers Thinus se verwerping as kind, wat hy nooit kon aanvaar nie, dan sy waardering van sy nuutgevonde familie, is sy hele dryfkrag. Wie hulle enigsins aanraak, sal hulle sy gramskap op die hals haal. Sy eksverloofde reken hy wil wys dat as jy iemand liefhet, jy énigiets sal doen om hom of haar te beskerm. Hy sal nou tot enige uiterste gaan.

Kaptein Dirk Bremer is ʼn fassinerende karakter. Wat is sy storie? En hoekom die obsessie met sy voorkoms? Ek stel ook belang in hoe jy die dinamika tussen Bremer en sy moeder sien – hoe dra hulle verhouding daartoe by, indien enigsins, dat hy so stroomop en eiewys is? Hy is wat mens ʼn “hardegat” karakter kan noem. Sy manier van sin maak van Thinus Olckers se stryd, en die eie stryd wat hy met homself en ander voer, is eweneens vreeslik interessant.

Dirk is in ’n permanente tweestryd met homself. Hy is, nes sy ma, ’n onafhanklike mens wat vir homself wil dink, self onderskei tussen reg en verkeerd. Dis instink. Maar hy is ook passievol oor sy werk, gedryf deur ’n sterk sin vir geregtigheid. Ter wille van hierdie passie bevind hy hom in die gedissiplineerde milieu van die polisie waar reëls geld en ’n opdrag ’n opdrag is. Dis ’n gesukkel om die twee bymekaar te kry. Sy ma is dieselfde, daarom stamp hulle koppe – liefdevol, ewe bekommerd oor mekaar. Die litteken aan sy wang pla hom en hy wil dit laat regmaak, maar hy is net te besig. En nou gebruik hy dit om sy sin te kry.

Was dit ʼn doelbewuste besluit om die twee wit, manlike buitestanders as twee kante van dieselfde muntstuk in die verhaal te plaas? Dit is, ten minste deels, ʼn antagonistiese verhouding, veral weens die feit dat hulle aan teenoorgestelde kante van die gereg staan. Dog albei is intens gemotiveer deur geregtigheid en die goeie.

Ja. Dirk is inderdaad ook daarop uit om ’n onreg te wreek, daarom gee hy Thinus eers ’n mate van vryheid, maar net totdat onskuldiges betrek word in Thinus se onstuitbare stormloop na vergelding.

Bespeur jy ʼn tipe krisis van manlikheid in Suid-Afrika? Verder: Het die reële maatskaplike kwessies van die land ʼn beduidende invloed op die fiksie wat jy skryf? Is dit ooit vir jou moontlik om ʼn direkte verwantskap te sien tussen ʼn spesifieke berig wat jy in die verbygaan lees en die besluit om iets daaroor te skryf?

Ek wil nie spekuleer oor ’n krisis nie, maar die manlike instink is om die vrou te beskerm en ek glo ’n man gee sy manlikheid prys wanneer hy ’n vrou mishandel. Ek lees te veel daarvan. Ek bou nooit ’n storie uit ’n tema nie. Dit skep ’n gevaar vir ’n preek. Ek begin meesal by karakters, soms by die situasie, maar omdat dit dan oor mense in konflik gaan, spring daar onafwendbaar ’n tema of twee uit. In dié geval is dit eerstens die drang na vergelding en dan ook die kwessie van die gereg en geregtigheid, wat nie altyd (kan) saamloop nie.

Hoe groot is die rol van navorsing in jou proses, en waar trek jy die streep? Is daar iets soos te veel of te min navorsing?

Ek het so ’n hekel aan oormatige inligting dat ek sommer wil preek. ’n Skrywer kan nooit te veel van sy onderwerp weet nie, maar dit beteken nie hy moet alles in sy leser se keel afstamp nie. Feitelike inligting in fiksie het ’n doel. Dit verleen geloofwaardigheid. Alles verby die punt waar dit bereik is, is oorbodig. Een van Elmore Leonard se tien goue reëls: Los uit wat jou leser nie gaan lees nie. Ja, ek doen navorsing, maar ek gebruik inligting wat ek so verkry, suinig. Die storie mag nie stilstaan terwyl ek eers my wysheid verkondig nie.

Dink jy skrywers loop die gevaar om te veel temas of karakters in een boek te probeer insleep?

Daar is nie reëls in die verhaalkunde nie, wel beginsels en tegniek. ’n Tema kan los staan van die kernkonflik van die storie en ek glo ’n leser moet dit aanvoel sonder dat die skrywer dit beklemtoon. Te veel klem op tema neig tot prekerigheid. Solank die leser kan tred hou met karakters, is daar seker nie perke aan die aantal nie. En is dit ’n lekkerlees storie (wat ek probeer skryf) of wil jy die volgende Tolstoi wees en nog ’n War and peace skep?

Die SAPD het noodwendig ʼn stewige teenwoordigheid in jou nuwe roman – dog jy skryf beslis nie tradisionele speurverhale nie. Is dit ʼn doelbewuste keuse om weg van ʼn moontlik versmorende struktuur af weg te beweeg? Hoe maklik of moeilik is dit om die kern van ʼn vollengteroman te identifiseer?

Ek kan nie onthou dat ek al ooit so ’n sterk SAPD-element in ’n storie gehad het as hierdie keer nie. In Die derde graf was hulle rol niksseggend. Ek verkies konflikte tussen mense wat sonder die gesag en gereedskap van die SAPD moet klaarkom. In Quatro kon ek hulle nie uithou nie en dus het ek die stroomop Dirk geskep. Ek weet die whodunit à la Agatha Christie het ’n groot aanhang en ek respekteer ander lesers se smaak, maar “raai wie?” verveel my. Die kern van my storie is die situasie wat al die sleutelkarakters in konflik betrek, in dié geval ’n driedubbele moord. Dan kyk ek verder terug na wat daartoe gelei het. Elke aksie is die reaksie op ’n vorige een, nie noodwendig chronologies in die struktuur nie, en ek skryf oor die hoe, wat, hoekom, wat nou, liewer as oor raai wie.

Wat maak vir jou meer saak: om met moeilike, tergende vrae te worstel, of om te probeer om antwoorde te gee sonder om te preek of voor te skryf? Hoe voel jy oor closure en gelukkige eindes in misdaadverhale?

In my genre kom die storie altyd eerste. Wanneer ’n tema uit die denke of optrede van karakters na vore kom, raak ek net liggies daaraan. Ek kan dit nie vermy nie, want dit raak die karakters en hul optrede, maar ek onthou dat ek (ont)spanningsfiksie skryf. Lesers wil hê die bose moet slae kry aan die einde en dit rond af, maar ek hou nogal van ’n bitter klankie daar. Ek wil my storie geloofwaardig hou, en bloedige konflik vind selde in volle bevrediging afsluiting. Iemand het gewoonlik verloor.

Korrupsie is alomteenwoordig in beide Die derde graf en Die man van Quatro. Wat my tref, is hoe die konsep veel meer as blote finansiële onreëlmatighede dek, en ook op die geestelike toestand en karakter van jou sleutelspelers en newekarakters sinspeel. Wat interesseer jou aan die stryd tussen die goeie en die bose? Hoe beskou jy die mens: inherent goed, of is dit meer kompleks?

Baie kompleks. Ek soek nie sielkundige ontledings nie. ’n Psigopaat stel eiebelang bo enigiemand anders se pyn of verlies en Patel in my storie is waarskynlik psigopaties, maar ek noem hom nooit so nie. Ek gee hom rede, of wat hy beskou as rede, om gewetenloos op te tree. Hy was nie altyd so nie. In sy jeug was hy idealisties. Is hy dus sleg gebore en net maar nooit destyds in ’n situasie wat dit uitgelok het nie? Ek het dit nie probeer beantwoord nie. Ek glo wel dat enige mens enige kant toe kan knak as hy/sy te ver gedryf word.

Hoe skep jy geloofwaardige en simpatieke karakters, selfs wanneer hierdie karakters duidelik nie altyd konvensioneel “goed” is nie?

Ek vra hoekom die karakter iets doen, of sal doen wat ek wil hê hy moet, en soek dan rede hoekom hy wil. Dit dui dan op bepaalde eienskappe, maar dis net sy begin. Ek wil nie hê hy moet enkeldimensioneel, net goed of boos, wees nie. Soos ’n aanvanklike vreemdeling, onthul hy mettertyd eienskappe waaraan ek nie met sy skepping gedink het nie. Dit rond hom af.

Wat kom gewoonlik eerste: titel, idee, temas of karakters? En met Quatro?

Titel gewoonlik heel laaste. Ek begin meesal by ’n abstrakte idee. Vir Quatro het ek gedink aan die wraakmotief, toe karakter – iemand wat seerkry en terugslaan. Dis nie oorspronklik nie, maar die redes en gevolge kan nuut wees. ’n Storie kan ook by ’n situasie begin. ’n Vliegtuig val. Hoekom? Is daar oorlewendes ...? Ens. Met Quatro was dit eers Thinus Olckers, toe Patel. Dan is dit soos om ’n kraaines uit te ryg. Temas kom iewers in die proses te voorskyn.

Ek stel belang in jou proses. Het jy ʼn vaste roetine? Teiken van woorde geskryf per dag, soos baie ander skrywers? Skryf jy elke dag? Wanneer kom skryf die maklikste, en wanneer is dit ʼn stryd?

My werkwyse het baie verander oor die jare. Daar was tye toe ’n spertyd my gedwing het om soms 24-uur-sessies te werk. Middernag het daar gewoonlik ’n liggie aangegaan en dan het die storie geloop. Die naaste wat ek ooit aan ’n vaste roetine gekom het, was om 4-uur soggens te begin. Dis steeds my beste konsentrasietyd. Nou skryf ek wanneer ek lus voel. Ek kon nooit ’n aantal woorde per dag bepaal nie, want ek beplan nie stories in besonderhede voor ek begin skryf nie en dikwels moet ek eers ’n steeks karakter of ander onverwagte probleem uit die pad kry. Ek is wat die Amerikaners ’n “seat-of-the-pants” skrywer noem. Ek plaas my karakters in ’n konflik en laat hulle in ’n breë baan na ’n klimaks werk.

Die vergeldingstema in plaaslike misdaadfiksie is iets wat uitstaan. Wat maak hierdie roman se aanslag anders?

Ek het eers toe Quatro al klaar was gehoor dat ander skrywers dit ook beetgekry het en ek het steeds nog nie een onder oë gehad nie, dus bly ek salig onbewus van enige verskil.

Patel is natuurlik die titel se “man van Quatro”. Sonder om te veel te verklap, sou ek graag dat lesers ’n bietjie meer oor sy agtergrond en eie wraaktog te hore kom.

Patel was as jongman in ’n strafkamp in Angola, waar hy drie vingers verloor het. Nou broei en kla hy oor sy vingers, maar sy grief gaan veel dieper. Hy was eens idealisties, bereid om sy loopbaan op te offer om goed te doen. Dat daardie ideale vertrap is, dat hy deur volgehoue fisieke sowel as innerlike pyn gestuur is en uiteindelik ’n bose, groteske mens geword het, sy siel vernietig is, kan hy nie vergewe nie. Na jare sien hy toe iemand wat daarvoor verantwoordelik is en sy woede vat onbeheerbaar vlam.

Patel is in vele opsigte ʼn verfoeilike man, dog mens kan nie anders as om met hom te empatiseer nie.

Wat hy doen, is onvergeeflik, maar so ook wat aan hom gedoen is. Is die oorsaak erger as die wraak, of andersom? Is die wraak regverdigbaar? Ek laat dit aan die leser oor. Patel het ’n gruwelike straf vir sy martelaar in gedagte.

Die lyn tussen slagoffer en misdadiger, reg en verkeerd, goed en kwaad, wet en oortreding word sonder skroom vervaag. Is dit vir jou belangrik dat jou eie fiksie ʼn mate van ambivalensie en kompleksiteit behou en weerspieël in ʼn konteks waar dit gereeld voel of almal met mekaar baklei en min bereid is om na die ander kant van die saak te luister?

Is dit nie ’n weerspieëling van ons huidige samelewing nie? Luister na Julius en Gordhan en die OB en Ace en Zondo se gaste, en wie ook al nog ’n luidspreker in die hande kan kry. Elkeen sê die ander een lieg. Motivering is die masjienkamer van elke storie. Ek gee my karakters sterk motiewe om hulle te dryf. Ek wil hê die vonke moet spat wanneer hulle bots. Hulle moet egter ook geloofwaardig wees, wat noodwendig beteken dat beide karakters en situasie elemente uit die samelewing sal bevat.

Jou spanningsverhale vind inspirasie in die geskiedenis – hoe gereeld word jy verras deur die afdraaipaaie en aweregse invalshoeke wat by jou kom nes skrop?

My leser weet ek het die storie uit my duim gesuig en ek probeer hom oortuig dat dié dinge net sowel regtig kón gebeur het. Feitlike gegewens waarvan hy weet, help om ’n mate van werklikheid te skep. Daar is altyd iets wat aansluiting vind, en nee, dit verras my nie meer nie. Die vorige geslag word tans verskreeu oor hul sondes, maar dis ’n ope boek wat die volgende geslag oor dertig jaar van die huidige spul gaan sê.

Beskou jy jou skrywes as maatskaplike kommentaar? Is dit die skrywer se plig om die samelewing oop te skryf, of voel jy nie soseer daardie verantwoordelikheid nie?

Die nie my bedoeling nie. Ek skryf ontspanningsfiksie. Maar omdat ek my storie geloofwaardig probeer maak, gaan dit tog oor werklikhede en sal daar onvermydelik onbedoelde verwysings na sosiale kwessies opduik. Ek kan dit selfs gebruik as fondament vir ’n storie, maar dit is nie my plig of taak om die volk op te voed of in te lig of selfs net kommentaar te lewer nie. My leser betaal my vir vermaak. “Spanningsverhaal” is een woord vir “boeiende storie” en dit kom altyd eerste.

Die man van Quatro staan uit weens die vaardigheid waarmee beide spanning en intrige geskep word. Die roman is ʼn besliste blitsblaaier, en bied die leser ʼn onstuitbare voorwaartse momentum, dog daar is ook die omgee vir karakters en hul lot. Waar lê die goue middeweg tussen plot en karakter, indien so iets bestaan?

Mag ek ’n groot naam aanhaal? Aristoteles net na bewering gesê die skrywer se taak is die verwerkliking van die volle potensiaal van karakter en situasie. Daar is die twee bene van ’n storie en as albei nie ontwikkel word nie, loop die ding mank. Daar is nie ’n middeweg nie. Die twee is verbind, die een afhanklik van die ander.

Hoe keer mens resepmatigheid? Ek moet vra: Is daar enige genre-clichés wat jou teen die mure uitdryf?

Ek is nie seker wat altyd met “resepmatigheid” bedoel word nie. Alle stories bevat tog dieselfde bestanddele: karakters in konflik. Geformuleerde struktuurvorm? Soos, in misdaadfiksie: ’n lyk word ontdek, soms net ’n voorwerp om die raaispel te regverdig, ’n speurder daag op en vra vrae tot hy die lig sien. Ek wil veel meer in ’n spanningsverhaal sien as net raaisel – maar baie lesers geniet dit wel en dit sou baie arrogant van my wees om te veroordeel wat nie in my smaak val nie.

Wat is volgende? En is daar ʼn moontlike vervolg op pad, iewers in die toekoms?

Ek herinner myself gereeld aan een van my ou gunstelinge, Elmore Leonard. Hy is nie lank gelede nie dood op 88, net toe sy laaste boek verskyn het. Ek peusel aan iets. Ek hou van my Dirk en ek het nog ’n joppie vir hom. Dis tog al wat ek, op my manier, kan doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top