Resensie: Afspraak met moord – in die kake van die Krugersdorp-kultus deur Jana Marx

  • 1

Afspraak met moord – in die kake van die Krugersdorp-kultus
Jana Marx
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799396003

“Tipies Huisgenoot!”

Dis talle mense se reaksie as hulle na die makabere omslag van Afspraak met moord – in die kake van die Krugersdorp-kultus kyk. Die skuldiges se oë gluur jou onheilspellend aan. Hulle lyk soos Satan se eie bloedfamilie.

En dan is daar ook die onvermydelike bloedkolle – en in hierdie geval morsige bloedstrepe – wat die prentjie afrond.

Nogtans onmiskykbaar (as daar so ’n woord bestaan). Slim bemarking.

Op Facebook word daar wild bespiegel of dit maar is “hoe sataniste se oë werklik lyk” en of hulle sommer goedkoop lense by die China shop gekoop het. Of dalk is dit maar net gephotoshop vir bykomende effek.

Hoe dit ook al sy, die boek sal almal van ons wat ’n morbiede belangstelling in moord en die psige van ’n misdadiger het, regop laat sit. Of dalk moet mens eerder lê as jy dit lees – verkieslik met ’n versterking in die hand.

Die skrywer vertel breedvoerig, feitelik en byna saaklik in die styl van ’n verslaggewer hoe hierdie grudade ontvou het. Die verhaal van sewe vriende, 11 moorde en een satansekte, so word op die omslag aangekondig. Hierdie sogenaamde afspraakmoorde, ’n okkultiese bedrogspul, met onder meer eiendomsagente en makelaars, het oor ’n tydperk van vier jaar die gemeenskap van Krugersdorp op die Wes-Rand tot in hul fondamente geskok.

Die meesterbrein en gewetenlose manipuleerder agter die moorde was Cecilia Steyn, hoof van die duister maar vroomklinkende kultus Electus per Deus.

Hoe, wonder mens deurentyd, is dit tog moontlik dat oënskynlik doodgewone mense, Afrikaanssprekendes, by so ’n grusame gemors ingesleep kon word. Lesers wil natuurlik agter die kap van die byl kom. Van hierdie moordenaars is nogal hoogs intelligent en het gerespekteerde beroepe gehad. Zak Valentine was ’n aktuaris, Marinda Steyn ’n geliefde Engels-onderwyseres (niemand kon glo bid soos sy nie!), en haar dogter Marcel het ritse onderskeidings in matriek behaal en is selfs voorlopig gekeur om medies te swot.

Cecilia, daarenteen, wat nooit haar skoolloopbaan voltooi het nie, se akademiese loopbaan was geensins indrukwekkend nie, maar sy het ’n skrikbewind gevoer. Sy is tegelykertyd aanbid en gevrees. Dit het algemene kennis geword dat ontslae geraak sou word van enigeen wat die groep sou bedreig. Dit het dan ook gebeur.

Haar modus operandi herinner nogal aan dié van die soort vrouemoordenaars wat huurmoordenaars kry om hul vuil werk te doen sodat daar nie bloed op hul eie hande is nie. En dan agterna “onskuldig soos lenteblomme” pleit.

Cecilia kon met byna almal se koppe smokkel en het haar “tragiese okkultiese verlede” gebruik om mense te manipuleer en haar opdragte uitgevoer te kry. Dit lyk asof haar liegstories (soos dat sy ’n 42ste-generasie-heks was, ’n weerwolfbloedlyn gehad het, gedagtes kon lees, astrale reise onderneem het en – wag hiervoor – selfs op water kon loop) vir soetkoek verslind is. Sy moes haar aanhangers omtrént “beheks” het, want ’n gewone heks was sy nie. Sy het immers haar huwelik met Satan op skrif gehad, het sy te vertelle gehad.

Dan was daar die “veelvuldige persoonlikhede” – iets wat volgens meer as een sielkundige omtrent nie bestaan nie – waarmee sy moes swaarde kruis, asook haar mediese uitgawes en sielkundige sessies teen R5 000 elk (sowaar!) waarvoor haar vriende moes opdok.

Cecilia het algehele toegewydheid vereis – en dit gekry. Dit terwyl sy haarself op misdadige wyse verryk het deur onder meer groot skenkings vir ’n weeshuis te kry wat nooit bestaan het nie en wat die “weldoeners” nooit kon besoek nie. Dit het haar uiteindelik niks gebaat nie, want sy het verreweg die swaarste vonnis van almal gekry.

Sy het haar makkers laat glo dat die “kerk van Satan” mense vermoor en dan seker maak dat iemand anders aangekla word.

En die slagoffers? Doodgewone, wetsgehoorsame burgers. Hardwerkende mense. Mans met swanger vroue. Onskuldiges.

Die moordbende se wapens het ’n byl, vuurwapens en wurgtoue ingesluit. Daar is dan ook aanvanklik oor die “satanistiese moorde” berig.

Ondenkbare dinge het gebeur, soos dat Zak Valentine sy eie dood vervals het om miljoene rande se versekeringgeld vir Cecilia te bekom. ’n Straatsmous is vir dié doel vermoor. Die geld is natuurlik nooit uitbetaal nie.

Die vraag wat almal vra, is hoe hierdie groep reeksmoordenaars, soos na hulle verwys is, vir vier jaar met die grudade kon weggekom het voordat hulle uiteindelik aangekeer is. Die eerste moorde het al in 2012 plaasgevind, terwyl die skuldiges eers in 2016 aangekeer is.

Wat ’n mens verstom, is die vrees waarin ene “Ria” (skuilnaam) geleef het wat by Cecilia, maar nie by die misdade nie, betrokke geraak het; die feit dat sy ’n nuwe identiteit moes kry en haar lewe jare later steeds in geheimsinnigheid gehul is; asook die aanvanklike hopelose polisiewerk. Hoekom word hierdie polisielede beskerm deur na hulle as “Kaptein Y” en “Lt-kol X” te verwys? Hoeveel moorde kon hulle nie na die aanvanklike  moorde verhoed het deur deegliker speurwerk nie?

Mens haal wel jou hoed af vir die gemeenskapspolisieforum wat vinnig opgetree het en vir kaptein Ben Booysen wat ’n deurbraak in die ondersoek gemaak het. Dit maak van hom ’n held. Die sewetal sou nie meer in die toekoms met moord wegkom nie. Booysen het vir twee maande lank terwyl hy vir die verhoor voorberei het, nie geslaap nie. Dank die Vader dat die moordorgie deur sy toedoen tot ’n einde gekom het. Soos Le Roux, Marinda se seun wat hom met die ondersoek gehelp het, aan hom gesê het: “Oom, ons sou nooit ophou moor het nie. Dit was te maklik.”

Dit is verblydend as die polisie ook pluimpies kry.

Die taalgebruik in die boek is puik en dis duidelik dat die skrywer ’n behoorlike studie van die hofgetuienis gemaak het en ook baie onderhoude met die polisie gevoer het om die inligting te bekom. Daar is ’n indrukwekkende bronnelys agter in die boek. Noukeurig aangeteken.

Veral interessant was die onderhoud met Cecilia se ouers en die wyse waarop hulle mekaar weerspreek het. Haar ma het beslis ’n rooskleuriger prentjie van hul dogter geskets as haar pa.

Wat ek in die boek mis, is meer insig in die psige van die moordenaars. Was daar nie sielkundiges en psigiaters wat in die hofsaak getuig het nie? Meer inligting oor die eienskappe of die definisie van reeksmoordenaars sou ook insiggewend gewees het. Hoe het hul kinderjare gelyk en hoe pas die nature versus nurture-debat in die prentjie? Dis maar net dinge waaroor mens nuuskierig is.

So vertel ’n kennis van Zak Valentine se ma op Facebook dat sy ma die “wonderlikste Christelike” vrou is. Hoe dan nou? Is dit dan altyd die ouers se skuld, soos in die geval van Marinda wat haar twee kinders by die moorde betrek het en selfs gedreig het om hulle te vermoor as hulle nie haar bloederige opdragte uitvoer nie? Haar dogter Marcel was maar 14 jaar oud toe sy aan die wrede moorde blootgestel is.

Dis egter duidelik dat die skrywer streng by die feite tot haar beskikking gehou het. Die gedramatiseerde dele het lekker gelees, maar dan het sy dit ook duidelik gestel dat dit gedramatiseer is op grond van die getuienis in die hof. Meer sulke onderhoude sou welkom wees om die moordbendelede beter te leer ken, maar mens besef ook dis nie altyd moontlik nie. Daar was vermoedelik ook ’n kwaai spertyd vir die manuskrip, aangesien die skuldiges verlede jaar gevonnis is en die boek natuurlik so gou as moontlik na die hofsaak moes land. Mens het begrip daarvoor.

Ek is bly dat die rol wat dwelmmisbruik by van die misdade gespeel het, ook uitgelig is, aangesien die euwel van dwelms nie altyd genoeg in Suid-Afrika benadruk word nie. Die moorde herinner dan ook aan die wreedheid wat met plaasmoorde gepaard gaan waar dwelms ook ’n rol speel.

Mens besef met die lees van die boek hoe gevaarlik en bisar dinge kan raak as dit onder die dekmantel van godsdiens plaasvind. Cecilia se trawante het hulle in ’n doolhof van sogenaamde christelikheid en die bose bevind.

Die boek is bloeddorstig en boeiend. Nie vir sensitiewe siele nie, maar ek kan dit beslis vir krimilesers aanbeveel. Mens wil sommer daarmee “deurnag”.

Tog is daar, soos so dikwels die geval met hoëprofielsake is, meer vrae as antwoorde wanneer jy die boek toeklap.

Ek het ’n sielkundige gevra hoe intelligente mense so gemanipuleer kon word dat hulle sulke wrede moorde pleeg. Sy antwoord was eenvoudig: “Hulle het waarskynlik ’n lae emosionele IK.”

Mens sou ook graag meer wou weet oor Marinda se sielkundige profiel nadat sy in die hof getuig het oor die feit dat dit vir haar opwindend was om te moor en dat dit vir haar ’n verligting gebring het wat sy nog nooit voorheen gevoel het nie.

Maar dalk is die knaende onbeantwoorde vrae juis die eienskappe waaraan ’n ware moordriller moet voldoen, want daar is al menigmaal gesê dat menslike gedrag en misdadige gedrag onvoorspelbaar is.

Wie sal dus ooit werklik die psige van ’n misdadiger verstaan?

* Die ses Krugersdorp-moordenaars dien altesame 39 lewenslange vonnisse plus ’n verdere 1 049 jaar vir hul misdade uit. Die meeste van hulle sal waarskynlik in die gevangenis sterf en hul siele sal vermoedelik nie eendag in vrede rus nie.

Lees ook:

"

Afspraak met moord – om sin te probeer maak van die sinlose

  • 1

Kommentaar

  • Ek kan nou nog minder wag om hierdie boek te lees. Dankie vir die resensie. Ek het die aas gebyt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top