Resensering en die strewe na objektiwiteit

  • 0

Die polemiek oor literêre kritiek en poësie-resensering wat die afgelope weke in By, maar ook in die portale van LitNet, opgeklink het, laat nog vrae in die lug hang. Een daarvan betref die "subjektiwiteit" van kritiek, wat volgens almal eintlik onvermydelik is.

Hoe kan 'n groter mate van objektiwiteit wél nagestreef word?

Sou dit moontlik wees om meer as een kritikus saam te laat werk aan 'n resensie? Twee of meer koppe wat darem beter oordeel as een alleen?

Dis 'n besliste moontlikheid, hoewel ek my bedenkinge het of daar alte veel literêre kritici is wat met ander sal (wil) saamwerk aan so iets. Bowendien sal so 'n werkswyse waarskynlik tydsamer verloop as die skrywe van soloresensies, en boekebladredakteurs, veral dié by koerante - en die uitgewers en skrywers wat tog maar brand om te weet wat die kritici sê! - sal in sulke gevalle meer geduld aan die dag moet lê. Ander potensiële nadele is dat die kompromisaard van kollektiewe beslissings die spontaneïteit van indiwiduele menings mag aantas, of dat 'n sterker persoonlikheid by een lid van die resensentegroep tot gevolg kan hê dat sy of haar besondere interpretasies dié van die ander oorheers, en die verskeidenheid unieke reaksies op die werk derhalwe beperk word.

In elk geval sal die groter "objektiwiteit" van 'n spanresensie neerkom op 'n vorm van intersubjektiwiteit, of van uitbalansering van subjektiewe uiterstes. En dan kan die belangstellende leser net sowel Charl-Pierre Naudé se raad (By, 25/10/2008) volg om liefs resensies deur verskillende kritici én die boek of bundel self te lees in die vorming van 'n oorwoë mening daaroor.

Kan die indiwiduele resensent iets doen om eie oordele "objektiewer" te maak?

Dis seker nie nodig om te sê dat resensente hul slegs behoort te veroorloof om te resenseer binne velde en oor onderwerpe waarvan hulle diepgaande kennis het nie. Eintlik sou 'n goeie resensent, dus ook 'n literêre kritikus, 'n ware liefhebber van sy vak moet wees. Hy dien veral sy vak, speel sy bepaalde rol op byvoorbeeld die literêre terrein met oortuiging. Daarom sal hy hom juis besonder steur aan die norme wat ideaal geld, waaronder objektiwiteit.

'n Resensent is 'n (dikwels vroeë) ontvanger in die stuk literêre kommunikasie wat deur middel van die bepaalde teks aan hom (ook) gerig word. Die "objek" van sy aandag - dit wat in die oorspronklike sin van die woord "objektiwiteit" bepaal - behoort in die eerste plek die téks voor hom te wees. Nie die sender (die digter met wie hy byvoorbeeld 'n byltjie te slyp het) nie. Nie 'n aspek van die konteks (byvoorbeeld een of ander sosiopolitieke aangeleentheid wat die resensent in die letterkunde weerspieël wil sien) nie. Nie stilistiese of vormlike of beskoulike aspekte waaraan die resensent voorkeur gee of waarvan hy afkerig staan nie. Die bepaalde boek (boodskap) staan sentraal. Tensy 'n mens op postmodernistiese trant die outoriteit van die teks radikaal bevraagteken - wat dan eintlik impliseer dat jy, weens die wesenlike onhaalbaarheid van die norm van (volkome) objektiwiteit, ook die stréwe daarna prysgee. In so 'n geval kan die "etiek van interpretasie" waarna Hennie van Coller in By van 1 November 2008 verwys het, ook maar by die agterdeur uitvlieg.

Om die kommunikasie so goed as moontlik te laat slaag (so het taalhandelingsteoretici al lankal uitgewys), behoort die resensent dus net soveel as die skrywer te voldoen aan die koöperatiewe beginsel en die gespreksvoorwaardes wat dáármee gepaard gaan. Dis die moeite werd om weer vir Hillis Miller oor respek vir die teks aan te haal (soos Hennie van Coller dit, in Afrikaans vertaal, in die genoemde By-bydrae gedoen het): "Dit is die verpligting om te lees [...] sorgvuldig, geduldig en noulettend, met die basiese voorveronderstelling dat die teks wat jy lees iets totaal anders mag sê as dit wat jy verwag dit moet sê of wat jy graag daarin sou wou lees óf wat ander daaroor te sê gehad het."

Die resensent moet bereid wees tot "a willing suspension of (own) beliefs" (om die bekende uitdrukking van SR Levin om te dop - darem met 'n verwante strekking!). 'n "Objektiewe" resensent se aard is dalk soortgelyk aan dié van die kunstenaar, soos deur DJ Opperman in sy opstel "Kuns is boos!" beskryf. So 'n resensent streef ook eers daarna om as 't ware wesenloos te wees, "amoreel deur sy onpartydigheid". Hy en sy beskouings los as 't ware op, gáán op in die idees en sienings soos dit vergestalt word in argumentatiewe strukturering en in die styl- en vormgewingsaspekte van die kunswerk. So werk hy aktief mee om betekenis tot stand te bring, probeer hy agter die "bedoeling" met die kunswerk te kom (al is so 'n denkbeeld al die "intentional fallacy" genoem). Trouens, hy word, waar dit om poësie gaan, 'n soort mededigter-aan-die-ontvangkant om die bedoelde boodskap met die bundel te verwerklik - vir sover so iets bestaan en rekonstrueerbaar is. Om dit daarna te kan beskryf en die bepaalde werk in terme van die geslaagde en funksionele samehang, al dan nie, tussen die verskillende aspekte daarvan te beoordeel. (Vandaar die mening wat al gelug is dat digters waarskynlik die beste poësieresensente sal wees?)

Dat dié "objektiwiteit" (gerigtheid op die objek) egter net in die eerste plek kan geld - en dan nie eens noodwendig chronologies so nie - word nou duidelik. Bloot die eis dat die resensent belese op die betrokke vakgebied moet wees om voldoende te kan meewerk om betekenis tot stand te bring, bring die vergelykingsbasis van interpretasie en van kwaliteit- en waardebeoordeling ter sprake (daar is dus van die begin af ook 'n konteksgerigtheid). Daarby laat die uniekheid van lees- en leerevarings (ook aangaande die skrywer en sy bestaande oeuvre), en van byvoorbeeld poësiebeskoulike voorkeure, hulle eweneens vanuit die staanspoor geld (subjektiwiteit).

Soos alle "ingeligte" lesers word resensente onvermydelik beïnvloed deur kodes of interpretasiereëls wat in hulle bepaalde omstandighede die skryf en lees van byvoorbeeld die poësie domineer, of hulle die dominante sienings deel of nie. Kodes soos dat alles met alles in 'n gedig of bundel saamhang. Of dat alles in 'n gedig of 'n bundel betekenisdraend is of kan wees. Of dat "nuutheid" tot literêre kwaliteit bydra. Ensovoorts, ensovoorts.

Sulke kodes is van groot belang in literêre kommunikasie, want indien skrywer en leser nie (grootliks) dieselfde kodes deel nie, sal die poging om die vergestalte "bedoeling" in die teks te agterhaal, nie kan slaag nie. Voorts vorm die kodes die basis vir die vergelyking van die nuwe teks met bestaande tekste en derhalwe vir die beoordeling van die relatiewe geslaagdheid, oorspronklikheid, nuutheid, strekking, werking en waarde daarvan.

'n Mens kan selfs sê dat jy hier te doen het met 'n tweede vlak van "objektiwiteit": die resensent tree uit die "eerste" beskouing van die objek-in-isolasie terug om nou 'n betragting te doen van die objek-binne-kommunikatiewe-verbande.

Dit mag lyk of daar by die lees van historiese tekste, of tekste uit 'n vreemde kultuur, net mooi andersom te werk gegaan moet word om "objektiwiteit" te maksimaliseer. Die breë kulturele en ook talige en literêre milieu moet éérs deur die ontvanger ingevul word, en hy moet kennis van die outeur en sy oeuvre inwin, voordat hy koöperatief en effektief met die teks as objek kan omgaan.

Maar eintlik is die leser van die historiese of "vreemde" teks in so 'n geval eintlik net besig om 'n konteks te skep wat soortgelyk kan wees aan dié van die ingeligte resensent wat 'n eietydse teks moet beoordeel: juis vanweë sy meerdere kennis van die konteks waarbinne die boek verskyn (het), is hy in staat om die relatiewe effektiwiteit, nuutheid, ensovoorts daarvan na waarde te skat.

Objektiwiteit in interpretasie en resensering, moet 'n mens dus weer beklemtoon, is eerder 'n strewe as 'n feit. Etiek vereis dat dit as norm gerespekteer word. Daarom moet die feit dat resensies "voorlopig" is, dat dit "'n eerste mening" of "'n vroeë indruk" verteenwoordig, nie méér word as 'n beskrywing van 'n helaas onvermydelike stand van sake nie. Dit mag nie 'n verskoning word om nie deeglik, onder andere strewend na objektiwiteit, te lees nie.

Heel dikwels is resensies die enigste openbare kritiek van noemenswaardige diepte en omvang wat ooit oor 'n literêre werk gelewer sal word. En as die skrywer (en die uitgewer) dan moet voel dat die resensent nie moeite gedoen het om agter die kap van die byl met die boek te kom nie ...

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top