![]() |
|
Fotobron: https://lospecessonamigos.wordpress.com/
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Vandeesweek iets oor 'n baie interessante deel van die reg, die sakereg1. As regsgeleerdes praat van die sakereg, dan bedoel ons nie hofsake nie. Ons praat van wêreldsgoed, dié dinge waarmee ons elke dag van ons lewe te make het. 'n Saak word omskryf as 'n selfstandige deel van die stoflike natuur wat buite die mens geleë is. Dit is vir juridiese heerskappy vatbaar en dit is vir die mens van nut en waarde.
Die elemente van 'n saak is dus die volgende: dit is buite 'n mens geleë; dit is 'n stoflike voorwerp; dit bestaan selfstandig; dit is vatbaar vir juridiese heerskappy en dit is 'n voorwerp wat vir die mens van nut en waarde is.
As jy dalk tans besig is om koffie te drink, is die beker waaruit jy drink 'n saak. Die teelepel wat jy gebruik het om die koffie te roer en die piering waarop jy die beker neersit, is elk selfstandige sake. So ook die stoel waarop jy sit; die motor waarmee jy nou-nou winkel toe gaan ry; die skaapboud wat jy by die slagter gaan koop en die R100-noot waarmee jy die rekening gaan betaal.
Juriste onderskei tussen roerende en onroerende sake. Al die voorbeelde wat ek pas genoem het, is roerende sake, maar die huis of woonstel waarin jy woon is 'n onroerende saak omdat dit permanent vasgeheg is aan 'n stuk grond of erf wat uitgemeet is en wat in die eienaar se naam geregistreer staan in die Akteskantoor.
Dit bring ons weer by die soort regte wat 'n mens ten aansien van 'n saak kan vestig. Regsgeleerdes praat van saaklike regte. Die sterkste saaklike reg is eiendomsreg. 'n Mens kan egter ook regte hê ten aansien van 'n saak wat aan iemand anders behoort, soos byvoorbeeld 'n serwituutreg oor iemand se plaas of sy erf; 'n mineraalreg; die rentensiereg van 'n bouer, of die retensiereg wat 'n motorhawe-eienaar het oor iemand anders se motor wat hy herstel het, maar waarvoor die eienaar nog nie betaal het nie.
Vandeesweek se hofsaak handel oor, wat die Romeine genoem het, ‘n res nullius. Dit is 'n saak wat op 'n relevante oomblik nie 'n eienaar het nie – byvoorbeeld wilde diere, voëls en visse in die see wat gewoonlik nog nooit aan iemand behoort het nie. 'n Res nullius kan ook ontstaan wanneer dit wel vantevore 'n eienaar gehad het, maar nou eienaarloos is omdat iemand dit byvoorbeeld weggegooi het of omdat dit nie meer deur die eienaar beheer word nie. Iemand anders kan dan eienaar daarvan word.
Die Hypatia is 'n skip wat jare gelede naby Robbeneiland gesink het. Omdat dit nie meer onder die beheer van sy eienaar was nie, het dit 'n res nullius geword. 'n Sekere mnr. Bell het die skip ondersoek en belang gestel in die reusagtige skroef wat vier lemme gehad het. Hierdie lemme kon slegs van die skip verwyder word as hulle met dinamiet losgeskiet is.
Terwyl mnr. Bell nog besig was met die verkryging van 'n permit om dinamiet te gebruik, is hy voorgespring deur twee ander kêrels wat die skroef onder water losgeskiet het. Hulle het twee van die lemme van die skroef uit die water gehys, dit op 'n boot geplaas en teen 'n vet wins in Kaapstad gaan verkoop. Aan die twee oorblywende skroeflemme wat nog onder die water gelê het, het hulle 'n merker vasgebind in die vorm van 'n drywende tou.
Die kêrel wat eerste in die skip se skroef belanggestel het, Bell, het toe gegaan en die twee skroeflemme wat nog onder die water gelê het vir homself gevat. Die twee wat die skroef oorspronklik losgeskiet het van die skip, het toe 'n eis teen Bell ingestel vir lewering van die twee skroeflemme want, het hulle aangevoer, húlle het intussen die eienaars daarvan geword.
Die saak het voor die Kaapse Hoogeregshof gedien en op 26 Maart 1968 het die hof sy uitspraak gelewer2. Die regter het beslis dat om eienaarskap oor 'n res nullius te bekom dit nie voldoende is om net die bedoeling te vorm om eienaarskap oor daardie saak te bekom nie. Daar moet ook een of ander fisiese beslaglegging wees met die bedoeling om eienaarskap te bekom. As daar eers so 'n fisiese beslaglegging was met die bedoeling om eiendomsreg te bekom, erken die reg daardie eiendomsreg. Die nuwe eienaar verloor nie sy reg as hy nie heeltyd fisies in besit van die saak is nie.
Die hof het beslis dat die twee kêrels wat die vier skroeflemme van die Hypatia losgeskiet het, die eienaars daarvan geword het. Twee van die skroeflemme is dadelik opgehys op 'n skip en na die dokke geneem. Dieselfde sou ook gebeur het met die twee oorblywende skroeflemme as daar genoeg tyd op daardie besondere dag was. Die feit dat hulle nie ook op die skip gehys is en weggeneem is nie, het nie beteken dat daar nie op hulle beslag gelê is nie. Daar was 'n beslaglegging toe hulle van die wrak verwyder is en die hof het beslis dat dáárdie verwydering geskied het met die bedoeling om eiendomsreg oor al vier skroeflemme te vestig. Die hof het dus vir Bell beveel om die twee skroeflemme aan hulle regmatige eienaars te lewer.
Dit was in die goeie ou 1960’s. Intussen het daar verskillende stelle wetgewing tot stand gekom wat aktiwiteite van hierdie aard reël en mag ‘n mens nie meer sommer net ‘n duikpak loop aantrek en skeepswrakke vir eie gewin stroop nie. Wees dus versigitg!


