Renosterstropery op die voorgrond in Baäl se jag deur Johan Fourie

  • 0

Titel: Baäl se jag
Skrywer: Johan Fourie
Uitgewer: Malherbe Uitgewers

Statistieke toon dat daar in die laaste tien jaar sowat 9000 renosters in Afrika gestroop is. Dit is amper vyf renosters elke tweede dag. Ongelooflik, maar waar. Tesame met die onwettige uitvoer van leeubene (om nie eens te praat van geblikte leeujag nie) en die sluikhandel in ietermago’s en ander dier-, voël- en reptielspesies, is die mensdom onteenseglik op pad na die sesde massa-uitsterwing wat ons nou in die gesig staar.

Tog is daar mense wat alles in die stryd werp om omgewingsmisdaad ’n vuishou in die maag te gee. Baäl se jag deur Johan Fourie is ’n fiksieverhaal wat geïnspireer is deur ware gebeure. Dit gee die leser ’n dieper kyk na die ingewikkelde en gevaarlike wêreld van renosterstropery en ander misdade, en wat dit alles verg om ’n klein verskil te maak.

Die meeste renosterhorings, ivoor en leeubene word onwettig uitgevoer na lande in die Ooste waar dit as tradisionele medisyne gebruik word of as statussimbool gesien word. Op plaaslike bodem is dit algemene kennis dat korrupsie onder sommige staatsamptenare, private wildboere en veeartse bydra tot die groot probleem. Renosterstropersindikate is baie moeilik om te infiltreer en dit is amper onmoontlik om enigiemand te vertrou. Wetstoepassers se lewe is in gedrang en hulle moet deesdae al hoe meer staatmaak op ’n kombinasie van outydse voete op die grond (mens en hond) en tegnologie.

In Baäl se jag kry die leser te doen met ’n konsultasiespan wat omgewingsmisdaad ondersoek. Johan en Koba is die hoofkarakters wat hul lewens op die spel plaas om ’n sindikaat van onder tot bo te probeer vastrek. Behalwe dat hulle ondersoeke heeltyd deur moeilike amptenare en inbrake by hul huis en kantoor versper word, ontvang hulle ook nog doodsdreigemente. Kyk gerus die bekroonde dokumentêre televisieprogram, Stroop, en besluit self of dit ooit moontlik gaan wees om die stropingsprobleem heeltemal uit te wis.

In Baäl se jag volg die leser die storie van ’n gestroopte renosterkarkas ná ’n huurmoordenaar se jagtog op Koba. Die gebeure speel in Limpopo en die Krugerwildtuin af ― die gebiede wat die swaarste onder stropers se koeëls en kapmesse deurloop. Al die normale karakters wat betrokke sal wees by só ’n sindikaat word geskets, selfs ’n taksidermis wat help om “trofeë” met die nodige permitte uit te voer.

Ten spyte van die lelike omslag, die slordige redigering en redelik voorspelbare storielyn, het ek tog lekker aan Baäl se jag gelees. As ek meer  oor moderne skoolvakke geweet het, sou ek moontlik voorstel dat Baäl se jag (nadat dit behoorlik geredigeer is) as ’n voorgeskrewe boek behandel word.

Ek was nog altyd onder die indruk dat ons as mensdom te veel doen om ons omgewing onherroeplik te beskadig en te min doen om die skade te probeer keer. Hoe meer ek lees, hoe donkerder word die prentjie. Baäl se jag gee mens darem effens hoop dat daar mense is wat hard probeer om ’n verskil te maak. Dit is ’n lewenstaak en dis presies wat elkeen van ons nou moet doen om ons planeet en onsself te red. Die alternatief is onnoembaar, amper soos Baäl.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top