Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa deur Helena van Coller

  • 0

Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa
Helena Van Coller

Routledge: London & New York
ISBN: 978-1138298712

Daar het pas ’n boek uit die rekenaar van een van die knap regsgeleerdes van Suid-Afrika, Helena van Coller van die Fakulteit Regte van Rhodes-universiteit, verskyn. Die titel is uitdagend: Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa. Die blote gedagte dat godsdiens aan regulering onderworpe kan wees in ’n neutrale staat met ’n Grondwet wat godsdiensvryheid verskans het, is genoeg om ’n paar mense te ontstel. Die boek word deur die internasionale uitgewer Routledge in Londen en New York vrygestel.

Die boek is goed geskryf en lees gemaklik, ten spyte van die komplekse tema. Soseer dat selfs nieregsgeleerdes die argumentasie kan volg en waarde daaruit kan put.

Die boek handel oor ’n fassinerende aspek van die Suid-Afrikaanse reg, te wete die owerheid se regulering (of moontlike poging daartoe) van godsdienstige instellings asook die rol van die howe in die hersiening van godsdienstige instellings se besluite en handelinge. Die verhouding tussen kerk en staat, godsdiensvryheid, en die Handves van Godsdiensregte kom ter sprake.

Die boek is veral aktueel in die konteks van sogenaamde godsdienstige leiers en kerke wat dooies opwek, lammes laat loop, heilige water ten duurste verkoop wat kwansuis MIV/Vigs genees, arm mense van die bietjie geld wat hulle het verlos en gemeentelede dwing om gras te eet. Die bisarre praktyke van kwaksalwers wat die kerk en Christelike geloof belaglik maak, het die Kommissie van Godsdienstige, Kulturele en Taalregte genoop om die kwessie van regulering op die tafel te sit. Verder was daar die afgelope tyd heelwat kerke wat in die hof gedraai het. So byvoorbeeld is kerke se besluite oor homoseksualiteit in die hof onder hersiening geneem; dissiplinêre optrede van kerke word gereeld op grond van arbeidswetgewing getoets; en geskille oor eiendomme het gelei tot langdurige hofsake, waarvan een nou al 10 jaar onder litigasie staan.

Van Coller se boek is tydig en van groot waarde, aangesien daar nog bitter min op hierdie terrein gepubliseer is. Die groot aantal verwysings na sake in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis asook internasionale sake verhoog die kwaliteit van die boek en maak dit uiters bruikbaar as ’n verwysingsbron. Daarbenewens beskik Van Coller oor goeie kennis van en aanvoelinge vir Kerkreg as teologiese dissipline, en hoe dit in die kerklike reg toegepas word. Dat die boek in Engels geskryf is, maak dit toeganklik vir internasionale gebruikers. Dit sou fantasties wees as daar ook ’n Afrikaanse vertaling beskikbaar kon wees.

In die eerste deel, met verwysing na talle hofsake, bevestig Van Coller die beginsels van godsdiensvryheid, die reg op selfbeskikking van godsdiensinstellings en nie-inmenging deur die staat. Die konflik tussen verskillende regte word ook indringend beskryf. Sy kom ook tot die gevolgtrekking dat fundamentele menseregte, soos omskryf in die Handves van Regte, beperk word deur tersaaklike artikels in die Grondwet en wetgewing wat diskriminasie verbied en gelykheid bevorder.

In deel twee gee Van Coller ’n gedetailleerde uiteensetting van die algemene regte, verantwoordelikhede en vryhede in die lig van bogenoemde beginsels. Die bespreking fokus op sekere gebiede wat in die verlede tot verskil van mening en litigasie gelei het. Van Coller bespreek die rol van godsdiens in die gemeenskap, die verhouding tussen godsdiensinstellings en staatsinstellings, onderwys, finansiële bestuur, die huwelik, die verhouding werkgewer/werknemer en algemene bestuursbeginsels. Dit maak die boek besonder relevant ten opsigte van die praktyk en die uitdagings waarvoor kerke en ander godsdienstige instellings te staan kom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top