Reguit boempies sonner respek

  • 0

Foto van Olivia Coetzee: verskaf

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

Dis ’n skok en ’n sêdness om te sien hoe die skole deesdae in ’n toestand is, en mee soe die kinnes. Toe ek op skool gewiesit, was daa maa oek sulke goed, maa daa was nettie smartphones ommie goed te recordie. Maa dinge was daremie soe êgie. Daa was bakleiery, maa dit was een kee in ’n skrikkeljaa wat daa ’n paa meisies baklei oo die outjie of daai burk, of dat die seuns mekaa sal bykom oo een of anner meisie. Maa nooitie die goed wat nou hie angannie. Daa was ’n siekere level van respek op die skoolterrein. Ôs het geroek oppie skool, maa dagga en drank of anner dwelmiddels wassie somme oppie skoolgronde gebruikie.

Maa daai was ’n anner tyd. ’n Tyd sonner smartphones en robots. Daa wassie smartboards en tebletsie. In komputerlesse het ôs maa net gelee hoe om die ding an te sit, en hoe om ’n Word-dokument oep te maak. Die komputerwêreld was ’n wêreld vol mysteries en geheime. ’n Plek wat my lat droem het oorie toekoms.

But nooit kon ek droem dat dit sóé sal lykie.

Djy wiet wanne mens lies hoe veil die gedrag van leerders en onnerwysers geraakit, dan velang djy na daai tyd. ’n Makliker tyd sonner Facebook se kerm, en Snapchat se gevreetjies, sonner YouTube se DIY-video’s, of Instagram se kos-updates.

Maa is dit tog die niewe tyd met allie robots en smartphones se skuld dat die laaities soe vrot is met hulle maniere? Of kom dit maa net alles te neer op hoe ôs as ouers en die gemeeskap ôs kinnes grootmaak? Die geleerdes sê dat die riede hoekô kinnes soe gewelddadig oppie skole is, is ommat hulle geweld ken op ’n pesoonlike vlak. En soes ek die liewe ken, kan dit soe wies. Ôs mense sê somme maa net, “Die kind is gespoil.” Niks dissipline nie. Soe, dit bedoel as die dissipline byrie huisie changie dan sallit maa net êger raak innie skole?

Maa daai is mos lankal uit om ’n kind te slat, ennie “Naughty Corner” wêkie vi baie mense nie, wan hulle kyk veby die eintlike riede hoekô die kind angan soes hulle doen. Vat die kind wat die onnie doodgemaakit, offie anner een wattie gun innie onnie se gesig gedruk het. Hoe vestaan mens dié goed? Hoe maak mens sense van die goed? En natuurlik is dit mos nou nie allie kinnes wat soe angannie, maa kinnes hettie respek vi hulleself of vi annesie. En daai gedrag wôtie net gelee byrie huisie, maa oek innie gemeenskap. Dis hoe daai kind die wêreld sien en hoe hy gelee was ommie wêreld te hanteer. Hulle is ’n refleksie van hoe die grotere gemeenskap lyk.

Maa wat issie plan van aksie? Wan voo 1996 toe kon die boempies mettie rottang gebuig wôd. Daa was nog ’n sense van ware gemeenskap, waa die hele neighbourhood ’n kind grootgemaak het ennie nettie ouer of ouersie. Wan in mieste gevalle was dit mos net ’n enkelouer-huishouding. Ennie neighbours het ingespring en deel geraak van daai kind se liewe. En as kind het djy gewiet van hoe om grootmense te respekteer, wan djy het elke grootmens gesien as ’n extension van jou ouers. Ek sê nou nie dat daa nie daai sake was van kinnes wat nooit gewelddadig wassie, ek sê net die gevalle was minner. Kinnes was minner gestres en aggressief. En dissie net die huis wat kinnes aggresief of gestres maakie. Ôs moet kom tot ’n bietere vestandhouding oo hoe alles wat innie liewe gebee ’n uitwêking het op ôs kinnes en ôsself. En daai vestandhouding oek vi hulle leer.

Al was ôs somme lekke gebliksem op ôs tyd, en al noem hulle dit nou anranding in vedag se tyd, is ek op ’n manier bly dat my gat van tyd tot tyd warm gemaak was. Dit het my die mens gemaak wat ek is. Dit het my gelee ommie te morsie. Ek ken van dissipline en respek. En in vedag se liewe is dissipline en respek maa ‘n herinnering wat soe vaagweg by mens opdop. Soe, miskien moet ôs ooweeg hoe ôs ôs se kinnes maniere lee. En daa moet ’n diep gesprek gevoer wôd oo hoe om kinnes te dissiplineer. Maa om ’n kind an te rand is oekie die oplossingie. Daa is bietere maniere. Kinnes moet lee om grootmense te respekteer, en grootmense moet lee om kinnes te respekteer. Dis waa ôs moet begin ennie outydse gedagtes los innie ou tyd. Die proebleem van kinnes alles gie wat hulle wil hê, raak ’n gemôs wanne kinnes innie regte wêreld in instap. Wan in die wêreld in is djy aaide ’n “baas” of djy’s ’n “boy”. En ôs het amal daai keuse.

Ek is Livy vannie Rive.

Bly te kenne! En dankie virrie onnersteuning.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top