
Daar is in ons reg nie 'n algemene definisie van die dood nie. Wanneer 'n dokter sertifiseer dat iemand dood is, is die persoon ook dood vir doeleindes van die reg. Die dood bring 'n einde aan 'n mens se regspersoonlikheid, wat beteken dat 'n dooie liggaam geen regte meer het nie. Daar is egter reëls in ons reg wat die skending van 'n graf of die liggaam van 'n dooie beskerm omdat so iets teen die goeie sedes en die openbare belang is.
Daar is veral twee goeie redes in ons reg waarom bewys moet word dat iemand dood is. Eerstens kan die oorledene se boedel daarna afgehandel word en sy nagelate bates onder sy erfgename verdeel word. Lewensversekeringspolisse sal ook normaalweg nie uitbetaal word as daar nie bewys kan word dat die versekerde inderdaad dood is nie. Tweedens kan die oorledene se eggenoot, indien hy of sy getroud was, weer trou, omdat die huwelik deur die dood ontbind word.
Gewoonlik is daar nie probleme om te bewys dat iemand dood is nie. Al wat nodig is, is 'n doodsertifikaat wat deur 'n mediese praktisyn geteken is.
Maar nou is daar gevalle waar 'n persoon net eenvoudig verdwyn en, hoewel daar goeie redes mag wees om te vermoed dat hy dood is, is daar nie 'n liggaam beskikbaar wat as dood deur 'n dokter gesertifiseer kan word nie. In so 'n geval mag dit nodig wees dat die naasbestaandes van die persoon die hof moet nader om 'n bevel dat vermoed word dat die persoon dood is. As die hof eers só 'n bevel gegee het, kan die persoon se versekeringspolisse uitbetaal word, kan sy boedel afgehandel word en kan sy eggenoot weer trou.
Of die hof in 'n besondere geval so 'n “vermoede van dood”-bevel sal gee, sal van 'n hele klompie tersaaklike feite afhang – in die besonder hoe lank die persoon reeds spoorloos verdwyn het; sy ouderdom toe hy verdwyn het; die omstandighede waaronder hy verdwyn het; of hy aan een of ander ramp blootgestel was; en so meer.
Daar is nie in ons reg 'n vasgestelde tyd wat 'n persoon vermis moet wees voordat sy naasbestaandes die hof om 'n “vermoede van dood”-bevel kan nader nie. As 'n persoon nie opgespoor kan word na byvoorbeeld 'n lugramp nie, sal die hof waarskynlik baie gou na die voorval 'n bevel uitreik, maar as die persoon onder kalm omstandighede verdwyn het, kan die hof so 'n aansoek weier selfs al het baie jare reeds verbygegaan.1
'n Goeie voorbeeld van 'n “vermoede van dood”-aansoek vind ons in die 1993 Suid-Afrikaanse Hofverslae. Ene mnr Govender was 56 jaar oud toe hy in die winter van 1985 sy huis in Chatsworth in Durban verlaat het. Sedertdien het niemand hom weer gesien nie – nie sy familie of vriende nie en ook nie sy kollegas by die fabriek waar hy gewerk het nie. Sy verdwyning is aan die polisie gerapporteer en daar was berigte daaroor in die pers, wat ook foto's van hom gepubliseer het. Toe hy verdwyn het, was hy oënskynlik gesond en daar was vrede in sy huis. Hy het nie 'n paspoort gehad nie en hy het ook nie enige verbintenisse met iemand in die buiteland gehad nie.
Agt jaar na sy verdwyning, in April 1993, het sy vrou die hof genader vir die toestaan van 'n “vermoede van dood”-bevel. In haar beëdigde verklaring het sy veral sterk gesteun op 'n selfmoordnota wat sy so ongeveer tien dae na haar man se verdwyning in een van sy baadjiesakke gevind het. Daarin het hy gesê dat hy sy eie lewe gaan neem en dat niemand daaroor enige selfverwyt moet hê nie. Hy het gesê dat hy finansiële probleme het en dat selfmoord sy enigste uitweg was.
Die probleem met die nota was dat dit in Februarie 1985 – dit wil sê ongeveer vyf maande vóór sy verdwyning – geskryf is. Die hof het geweier om die aansoek toe te staan en het daarop gewys dat die selfmoordnota te lank voor mnr Govender se verdwyning geskryf is. Dit is ook op 'n heeltemal onopvallende plek gelaat. Die hof het toegegee dat daar 'n sterk moontlikheid was dat mnr Govender selfmoord gepleeg het, maar het beslis dat die getuienis wat aangebied is, nie voldoende was om die hof op 'n oorwig van waarskynlikhede te oortuig dat mnr Govender inderdaad dood was nie.2
Dié uitspraak beklemtoon maar net weer dat ons howe nie ligtelik 'n “vermoede van dood”-bevel toestaan nie.
En nee, moenie vir my vra of die Govenders se probleem al sedertdien opgelos is nie: per slot van rekening behoort mnr Govender, as hy nog in die land van die lewendes is, nou maar eers 86 jaar oud te wees. Baie Suid-Afrikaners is immers op dié ouderdom nog springlewendig ...


Kommentaar
Beste Gustav
Net nuuskierig. Is so 'n lang verdwyning gronde vir 'n egskeiding?