Regsalmanak: Stemparade

  • 0

Bron: urbanghostsmedia.com

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Stemparade

Ons ouer LitNetters sal sekerlik nog die handsentrales onthou. Elke dorp het mos so 'n sentrale gehad en as 'n mens iemand wou bel, moes jy eers die sentrale skakel wat jou dan deurgeskakel het na die nommer wat jy verlang het. Vandeesweek se Regsalmanak handel oor 'n voorval in 1972 by Witbank (sedert 2006 eMalahleni, wat “plek van steenkool” beteken) se handsentrale.

'n Onbekende man het 'n paar dae lank tussen een en twee in die middae die dames by die sentrale geskakel en onwelvoeglike, onsedelike en krenkende aanmerkings teenoor hulle gemaak. Ses dames het op dié manier deurgeloop. Hulle het almal saamgestem dat dit 'n swart man was wat Afrikaans met hulle gepraat het.

Die saak is by die polisie gerapporteer en die Poskantoor se tegniese afdeling het ook ingespring om die skuldige vas te pen. Hulle het vasgestel dat die oproepe gemaak word van 'n telefoonhokkie in 'n swart woonbuurt naby Witbank. Toe die ou laspos wéér een van sy oproepe maak, het die dame met wie hy gepraat het, alles in haar vermoë gedoen om die gesprek so lank as moontlik uit te rek. Intussen was 'n polisieman in sy motor na die betrokke telefoonhokkie op pad om te kyk of hy die man nie op heterdaad kon betrap nie. Terwyl die dame en die man nog so oor die telefoon gepraat het, het die man die gesprek skielik beëindig deur op 'n senuagtige wyse te sê: "Goodbye, goodbye." Die dame het hiervan afgelei dat hy vir iets of iemand geskrik het.

Die polisieman wat na die telefoonhokkie gejaag het, het net mooi vier minute vandat die oproep begin het geneem om daar uit te kom. Hy het in 'n stofwolk voor die telefoonhokkie stilgehou en uit sy motor gespring. Daar was niemand binne-in nie maar die gehoorstuk van die telefoon was warm – omtrent liggaamstemperatuur, het hy later getuig.

Die telefoonhokkie was naby 'n administrasiekantoor in die swart woonbuurt en die polisieman het toe gesien dat daar 'n swart man in een van die kantore staan. Die polisieman het hom gevra wat sy naam is. En toe vat hy 'n vet kans en hy vra hom waarom hy die dames by die Witbank-sentrale gebel het, waarop die man geantwoord het: "Ek kan mos bel as ek wil bel." Die polisieman het gemerk dat die man baie senuagtig was. Sy hande het gebewe en hy het die een in die ander gewring.

Die polisieman was nou behoorlik agterdogtig en het die telefoonsentrale gebel met die mededeling dat hy 'n verdagte by hom het en dat die man nou oor die telefoon gaan sê: "Wat kos 'n oproep na Waterval Boven?" Die dames moes dan almal na die man se stem luister en hoor of dit dieselfde man is wat hulle so oor die telefoon beledig het. Die voorspelbare het gebeur: met die nodige aansporing het die man sy sê gesê, waarop al die dames van mening was dat dít die man was wat vroeër met hulle gepraat het.

Die man is van crimen iniuria aangekla en op hierdie getuienis is hy deur die landdroshof van Witbank skuldig bevind en tot gevangenisstraf gevonnis. Die man het geappelleer en sy appèlsaak het op 30 Junie 1972 voor die destydse Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof in Pretoria gedien.

Regter Claassen, wat die uitspraak1 gelewer het, was baie skepties oor die manier waarop die man se stem uitgeken is. Hy het dit vergelyk met die uitkenningsparades wat die polisie dikwels hou. Daar is immers gewoonlik omtrent tien persone met naastenby dieselfde liggaamsbou en kleredrag as dié van die verdagte op só 'n uitkenningsparade aanwesig. Met ander woorde, die verdagte moet tussen 'n klomp ander mense uitgeken word.

Met 'n stemparade, het die regter beslis, behoort die stem ook uitgeken te word onder 'n aantal ander stemme, anders het die uitkenning nie veel waarde nie. Die regter het opgemerk dat daar 'n klomp mense in die onmiddellike omgewing van die telefoonhokkie gewerk het. As van hierdie mense op 'n stemuitkenningsparade geplaas sou gewees het, kon die uitslag miskien heeltemal anders gewees het. Hy het daarop gewys dat as die verdagte persoon byvoorbeeld 'n Fransman was wat met 'n tipiese Franse aksent Engels gepraat het, en 'n hele aantal Franssprekendes sou op 'n stemidentifikasieparade geplaas word, dan sou dit moeilik wees om die skuldige uit te kies. Die regter was van mening dat dieselfde beginsel sou geld met die stemme van swart mense. Die gemiddelde persoon sal kan sê dit is 'n Fransman of 'n swart man wat praat, maar dit sou moeilik vir die persoon wees om te sê dit is 'n spesifieke Fransman of 'n spesifieke swart man.

Omdat daar geen toetsing van die beskuldigde se stem teen ander stemme was nie, was die regter – tereg – van mening dat die beskuldigde die voordeel van die twyfel moes kry en is hy onskuldig bevind en ontslaan.

1 S v M  1972(4) SA 361 (TPA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top