Regsalmanak: Joyce Waring

  • 2

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

koerante650

 

Mev Joyce Waring (1914–2003), eggenote van 'n voormalige kabinetsminister, Frank Waring, was gedurende die sestiger- en sewentigerjare bekend vir haar soms erg omstrede uitsprake – veral in artikels (meestal met 'n politieke strekking) wat gereeld uit haar pen in die Engelse pers verskyn het.

Haar berugste artikel het ongetwyfeld op 13 September 1966 in die Cape Times verskyn, die dag toe John Vorster as eerste minister in die plek van die ontslape HF Verwoerd verkies is. Mev Waring het die roede nie gespaar nie. Sy het woes losgetrek teenoor dese en gene wat Verwoerd gedurende sy premierskap gekritiseer het. Veral die Engelse pers, geestelikes en die opposisie het erg deurgeloop. "It was a murder," het sy nav Demitrios Tsafendas se aanslag op die lewe van Verwoerd geskryf, "resulting from a concentrated campaign of hatred led by sections of the press, clergy and political opposition against the political character and ideals of Dr Verwoerd." En verder: "God forgive me if I say so, but they are a stink in my nostrils." Sy het nog baie ander kwaai dinge kwytgeraak.

Die artikel het 'n opskudding veroorsaak. 'n Komitee van die parlement is benoem om ondersoek in te stel of mev Waring se aanval op die opposisie nie 'n moontlike skending van parlementêre privilegie was nie. Die komitee het in Junie 1967 sy verslag ter tafel gelê. Hoewel bevind is dat daar nie 'n skending van parlementêre privilegie was nie, het die komitee verklaar dat die publikasie van die artikel onwenslik en onwys was.

Daarna het Joel Mervis op sy beurt in 'n hoofartikel in die Sunday Times teen mev Waring losgetrek. Die skeldtaal in haar gewraakte artikel, het hy geskryf, hoort eerder in Billingsgate en Distrik Ses as in Bryntirion en Rondebosch, die ministersbuurte in Pretoria en Kaapstad. (Billingsgate is 'n berugte vismark in Londen en Distrik Ses in Kaapstad was ook 'n plek waar 'n mens nie aldag die reinste taal uit mense se monde gehoor het nie.)

Mervis het gesê dat die artikel, komende van die eggenote van 'n kabinetsminister, skandalig was. Hy het sy hoofartikel met die volgende bytende opmerking afgesluit : "In our view Mrs Waring would do a power of good for everybody (and that includes Mr Waring) if she abandoned her role of the tempestuous, turbulent crusader, and switched to something more innocuous – like making teabags for the underprivileged in Polynesia or knitting jerseys for the needy in Caledon. After all, it is a cold winter."

Toe was dit weer mev Waring se beurt. Sy het terstond 'n lasteraksie teen Mervis en die eienaars en uitgewers van die Sunday Times ingestel. In hul hofstukke het hulle erken dat mnr Mervis se artikel in wese lasterlik was. Hul verweer was dat dit egter nie onregmatig was nie, want dit was billike kommentaar oor 'n aangeleentheid van openbare belang.

Die saak het voor regter Hiemstra van die Witwatersrandse hooggeregshof gedien.[1] Die regter het Mervis en die ander verweerders gelyk gegee en beslis dat, hoewel lasterlik, die gewraakte hoofartikel oor mev Waring inderdaad billike kommentaar verteenwoordig het. In ons reg is billike kommentaar 'n erkende regverdigingsgrond in ‘n lasteraksie.

Regter Hiemstra was ook van mening dat mev Waring te sensitief was. Hoewel mense in die openbare lewe volle beskerming teen lasterlike opmerkings oor hul karakters geniet, moet hulle aanvaar dat hulle van tyd tot tyd aan die ontvangkant van sterk taal oor hul politieke standpunte sal wees. Die spreekwoord lui nie verniet nie: "As jy hout kap, moet jy verwag dat die spaanders sal trek."

Naskrif: Joyce Waring se eggenoot, Frank (1908–2000), was op sy dae ‘n kranige rugbyvleuel. Hy het gedurende die jare 1931–1933 verskeie kere vir die Springbokke uitgedraf en drieë gedruk. Daarna het hy ‘n parlementêre loopbaan gevolg – eers vir die Verengde Party en later vir die Nasionale Party. Hy is in 1962 as minister van sport in die Verwoerd-kabinet aangestel.

[1] Waring v Mervis and Others  1969(4) SA 542 (WPA)

  • 2

Kommentaar

  • Die Verengde Party waarna in die naskrif verwys word is sekerlik meer van toepassing op enkele hedendaagse partye.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top