In sy Regsalmanak-rubriek skryf Gustaf Pienaar weekliks oor 'n interessante regsaak wat gedurende die betrokke week van enige jaar in Suid-Afrika plaasgevind het.
Mev Welsh, mev Clark en mev Moore het op 'n middag gaan gholf speel op die Observatory-baan in Johannesburg. Hulle was nog groentjies in die spel – mevv Moore en Clark het vantevore maar slegs vier of vyf keer gespeel, terwyl mev Welsh darem met 'n paar potjies méér kon spog. Sy was ook die enigste een wat so 'n bietjie onderrig ontvang het.
Die drie dames se spel was iets om te aanskou: soveel van misslaan en skeefslaan het die joggies op die Observatory-baan lanklaas gesien. Maar hulle was bewus van mekaar se foute en tekortkomings en het dit so aanvaar. Hulle het ook al geleer waar 'n mens vir jou eie veiligheid moet staan as 'n maat op die bof afslaan. Vir diegene wat nie gholf speel nie (en ek is een van hulle): 'n mens staan glo óórkant die speler (nooit agter sy rug nie!) en wel so 'n bietjie ágter die bal, vir geval dit met die slaanslag skeef sou trek.
Mev Clark het nie heeltemal in dié ideale posisie gestaan toe mev Welsh op die besondere middag by die tweede bof afgeslaan het nie. Sy was wel oorkant mev Welsh, dog so 'n paar sentimeter vóór die bal, dit wil sê aan die skoonveld se kant daarvan.
Mev Welsh het al die rituele uitgevoer wat van 'n mens verwag word wanneer jy afslaan. (Vir my lyk dit alte dikwels na ’n hen wat nesskrop of ’n hond wat sy lê probeer kry.) Tog het iets lelik skeefgeloop met mev Welsh se slaanslag. Die bal het na regs gevlieg en mev Clark op die linkeroog getref. Die skade aan haar oog was so ernstig dat die oog verwyder moes word.
Mev Clark het 'n aksie om skadevergoeding ten bedrae van net minder as R18 000 teen mev Welsh ingestel. In die middel van die 1970’s was dit nogal ’n aardige bedrag. Sy het aangevoer dat die skade die gevolg was van mev Welsh se nalatigheid. Volgens die getuienis van mev Moore – dis nou die dame wat nie direk by die voorval betrokke was nie – het mev Welsh voorheen toe hulle saamgespeel het, die bal verskeie kere op dieselfde manier in skoon die verkeerde rigting geslaan. Sy moes dus redelikerwys voorsien het, so is geargumenteer, dat sy die bal daardie middag by die tweede bof ook kon misslaan en daardeur een van haar medespelers kon beseer. Sy het versuim om vas te stel presies waar mev Clark staan voordat sy afgeslaan het, en sy het versuim om mev Clark te waarsku om na 'n veiliger posisie te beweeg – so het die argument verder gelui.
Die eis is in die Randse hooggeregshof van die hand gewys, waarna mev Clark haar na die appèlhof in Bloemfontein gewend het. Die uitspraak is op 1 Junie 1976 gelewer. Die hof het aan die hand van die getuienis beslis dat die bal tydens die besondere hou teen 'n hoek van tussen 85 en 87 grade moes afgewyk het van die beoogde koers ten einde mev Clark te kon tref. Dit was 'n baie sonderlinge soort hou – selfs vir 'n beginner soos mev Welsh. Die hof het beslis dat dit nie redelikerwys van haar verwag kon word om die vlug van die bal te voorsien en daarteen te waak deur byvoorbeeld mev Clark vooraf te waarsku nie. Buitendien is gholf 'n soort spel waarin daar 'n mate van risiko vir speler sowel as toeskouer opgesluit lê. Die hof het dus saamgestem met die Witwatersrandse hooggeregshof dat mev Clark se eis van die hand gewys moes word, met koste.