Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis deur Gustaf Pienaar: ’n resensie

  • 1

Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis
Gustaf Pienaar
Protea Boekhuis 
ISBN: 9781485309390

Regsgeleerdes wat vir leke skryf sodat gewone mense kan verstaan, is ’n kosbare bonus om sin in ’n onderstebo wêreld te bring. Dink maar aan die bydraes van Langenhoven, regter Toon van den Heever, en ook die Konstitusionele Hof-regter Johan Kriegler wat op hoogs bejaarde leeftyd heel prikkelende resensies oor wydlopende Afrikaanse boeke skryf.

Voeg nou by dié liefdeswerk Regsalmanak 100 deur Gustaf Pienaar, uitgegee deur Protea Boekhuis.

Dis ’n skatkamer van 100 hofstories of regsvertellinge wat Pienaar oorspronklik onder meer vir die internetuitgewer LitNet geskryf het. Die gedrukte media het bewus geword van Pienaar se ondersoekende vaardigheid, en hy skryf ook weekliks in die eiendomsbylae van Die Burger. Pienaar het die wysgeer oor die reg vir die sg volk daar buite geword. Hy skryf met ’n liefde vir Afrikaans en die wye belangstelling van die weetgierige joernalis wat hy net sowel kon geword het as hy nie die regsberoep as loopbaan gekies het nie.

Regsalmanak 100 is ingedeel in vertellinge van baie jare van regspleging wat datumgewys in die 12 maande van die jaar georganiseer is. Dis ’n heerlike allegaartjie van stories: In Januarie 1981 is daar byvoorbeeld ’n boeiende relaas van “popspeel in die hof”; in Junie 1966 is daar ’n vertelling van Volksie-stoot onder die invloed; en in die Kersgety van Desember lees ons van Die Groot Krokodil se swanesang in 1997.

Een van my gunstelinge is die uitspraak op appèl in Mei 1976 onder die onnutsige hofie “Drie vroue ‘pleeg’ gholf”. Dit kon net sowel hul manlike eweknieë se lot gewees het met die wispelturige Skotse spel.

Die gevierde, nou afgetrede Konstitusionele Hof-regter Albie Sachs skryf in ’n voorwoord: “Ons (regters) werk met woorde, en word van die mees invloedryke storievertellers van ons tyd.” Maar agter elke hofstorie lê daar ’n neergelegde beginsel. In die 100 vertellinge hou Pienaar streng by die beginsel van billike regspleging onder veranderende omstandighede. Van die aankoms van die Romeins-Hollandse reg met die VOC in die 1650’s; die Britse imperialisme; Uniewording in 1910; en toe die groot verandering: die politieke omwenteling van 1994 wat Suid-Afrika as demokratiese staat tot stand gebring het: ’n demokratiese Grondwet. Dit het beteken dat die Grondwet, en nie meer die parlement nie, het die hoogste gesag geword.

Dit was ’n enorme omwenteling. Weg is die vingerswaaiende politici se mag om agter die parlementêre stembusmeerderheid te skuil vir magsoorskryding: hulle wil is ondergeskik aan ’n hoër gesag. Pienaar wys egter daarop dat die Konstitusionele Hof nie onberispelik in sy uitsprake is nie. Hy verwys na twee uitsprake wat toon dat (hoewel daar geen appèl teen hul uitsprake is nie) die Konstitusionele Hof nie verhewe is bo kritiek nie. Die een geval gaan oor die plek van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van die Vrystaat en die ander oor die afskaffing van die doodstraf.

Die burgerlike spanningsveld, soos Pienaar dit noem – taalregte en doodstraf – sê hy kon gehanteer gewees het op die basis dat dit die Konstitusionele Hof sou betaam het om wyd met alle betrokkenes te konsulteer en dan daarna ’n weldeurdagte uitspraak te lewer. Die taalkwessie is nou nog hangende, aangesien Gelyke Kanse in dispuut staan met die Raad van die Universiteit Stellenbosch oor die plek van Afrikaans en daar gretig op die uitspraak gewag word.

Teen hierdie regsbeginselagtergrond het Pienaar ’n belangrike hoekpaal vir die gewone burger se verstaan van die reg ingekap met sy 100 stories oor ons regserfenis. As jy wil-wil baklei met jou buurman wie se boom jou tuinmuur omstoot, of as jy die onbeskofte padvark die middelvinger wil wys wat kan uitloop op ’n padwoedegeveg, besin eers rustig met Gustaf Pienaar se 100 stories. Dit kan jou ellendes en ergernis – en baie geld – bespaar.

 

Lees ook

Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis deur Gustaf Pienaar: ’n onderhoud

  • 1

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Ek sou my ou skoene agternagooi vir enige resensie deur Ton Vosloo. Vir so 'n positiewe resensie ook my nuwe newwies. Geluk Gustaf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top