Refentse se Wandel in my woning: ’n onderhoud

  • 0

Refentse Morake (foto: verskaf)

Refentse Morake beskryf sy byna oornagsukses as gewilde Suid-Afrikaanse sanger as ’n natuurfrats, maar as jy terugkyk oor sy skrale 22 jaar, is daar meer sulke “toevallighede” as wat die meeste ander mense in ’n leeftyd ervaar, skryf Maryke Roberts met die bekendstelling van Refentse se nuutste enkelsnit, “Stormnag”,  en volledige album binnekort op die mark.

Baie mense ken reeds sy verhaal: As 17-jarige speel hy kitaar voor sy ouerhuis in Unitaspark in Vereeniging, toe Cecilia Marchionna, wat verder af in die straat woon, hom op video opneem en dit op haar Facebook-blad deel. Op die eerste dag kyk 30 000 mense daarna en binne vier dae 160 000. Dat hy talent het en die tonge aan die brand gesing het, was gewis.

Nie lank daarna nie speel hy in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn by die KKNK as straatmusikant toe sy gunstelingsanger, Karen Zoid, verbygekom en vir hom R10 in sy kitaarkas gooi. Daardie aand het KKNK-organiseerders hom na agter die skerms van die fees se openingskonsert genooi, waar hy verskeie musieksterre kon ontmoet. Hy tree by Karen se stalletjie, Republiek van Zoid Afrika, op en sy sukses is verseker.

Maar die geluk kom al van baie vroeër met hom saam: Toe hy vyf jaar oud was, kry sy ouma as beloning vir haar lang diensjare by Laerskool Voorwaarts in Meyerton die geleentheid om een kind se skoolgelde geborg te kry. Haar eie kinders is al grootmense en sy kies haar oudste kleinkind. Op vyf gaan die jong Sesotho-sprekertjie graad RR toe. Toe woon hy Laerskool Unitaspark in Vereeniging en Vereeniging Gimnasium tot matriek by.

Sy huistaal is Sotho, maar hy praat ook Zoeloe, Xhosa, Tswana, Pedi en Afrikaans. Sy pa is Zoeloe, sy ma is Tswana en hulle woon in ’n Sotho-omgewing. Tog erken hy dat hy “op skool altyd soos ’n alien gevoel het. Ek het nooit in enige van die groepies waarin mense hulself kategoriseer, ingepas nie.”

Hy was die enigste swart kind in sy klas. Hy vertel dat dit vir ’n rukkie “nogal weird” was. Alles is vreemd: die taal, kultuur, kleredrag. Selfs die reëls oor haarstyle. Hy lag egter as hy erken dat hy baie skuiwergate gehad het, want daar “was nie regtig reëls vir iemand met my hare nie”. Sy ouers was egter baie streng en sy kop was altyd kaal geskeer. Vandag is sy hare lank en weggebind.

Hy sê by hulle huis praat jy hard en duidelik – saggies praat is skinder. By die skool moet jy egter sagter praat – “Ek sit dan hier reg langs jou.” Niemand leer dié kultuurverskille vir jou nie; jy leer op die harde manier. “Dis nie vanselfsprekend nie; jy kom dit gou agter.

“Toe ek met my musiek begin om soveel mense te ontmoet, oorsee te reis en die grense oorgesteek het, het ek besef die grense van my sienswyse is ook gebreek. Ek het gou geleer dat jy nie met mense hoef saam te stem net om te verstaan hoe hulle dink en voel nie. Daar is nie ’n universele reg of verkeerd nie.”

Refentse lag as ek vra of hy kritiek kry dat hy meestal in Afrikaans – nie sy kultuur of moedertaal nie – sing. “Ek dink mense dink my verhaal is meer amusant as offensive. Afrikaans is nie noodwendig vas aan ’n kultuur nie. Omdat my hele lewe so ’n samevlegging van kulture en tale is, het ek nooit regtig uit plek gevoel nie.”

Hoe meer hy met Afrikaanssprekendes te doen het, hoe meer begrip het hy vir die kultuur en hoe meer besef hy dat daar nie groot verskille is tussen die verskillende kultuurgroepe in die land nie – almal streef na dieselfde dinge.

Dit laat my wonder: Hoe definieer hy kultuur? “Dis die wyse waarop mense verkies om te leef; om sekere dinge as volksbesit te sien. Wat ek baie interessant vind, is dat wanneer ek by skole optree, ek beslis nie meer die Afrikaans waarmee ek op skool was, ervaar nie. Die taal het evolve. Daar kan nou al kultuurgapings tussen twee generasies wees, selfs al kom hulle uit dieselfde huis.”

Refentse sê hy glo kultuur behoort nie grense te stel nie. “Grense is lyne op padkaarte en breine,” voeg hy droog by.

Refentse stel sy debuutalbum, My hart bly in ’n taal in 2016 vry, en sy tweede album, Deur my venster, die jaar daarna. Liefdegenerasie volg daarna.

Vandag sing hy “Reisiger”, “Oom Faan se plaas”, “Vuil Vanderbijl” en “Sonvanger” dat mense trane afvee van Kirkwood tot Koekenaap.

Dit laat my wonder: Wanneer hy liedjies sing wat as’t ware volksbesit is, is hy ooit bang dat sy weergawe nie vir gehore aanvaarbaar gaan wees nie? “Ek het nie ’n formule om iets myne te maak nie. Ek sing hierdie liedjies al van kindsbeen af en elke keer is dit anders. Op ’n stadium besluit ek dis hoe ek daarvan hou en dit werk ook vir gehore.”

Hy voeg ook by hy is nie bang vir enigiets nie. “Vrees is my grootste vrees.”

In 2017 word Refentse vereer met vier Ghoema-trofees vir My hart bly ’n taal. Hy stap weg met die pryse vir Album van die jaar, Manlike kunstenaar van die jaar, Digitale album van die jaar en ’n eretoekenning vir beste verkoper. Hy word ook genomineer vir Beste Kontemporêremusiekalbum in die gevierde SAMA-toekennings.

Hy erken dat hy baie gereeld dink hy droom; dat iemand hom binnekort aan die skouer gaan vat en hy gaan wakker skrik. “En dan weer terug wees op skool!” lag hy benoud.

Karen Zoid het destyds deure vir hom geopen, en sy bly een van sy gunstelingsangers, maar die glanspersoonlikheid wat die grootste bydrae tot sy loopbaan gemaak het, is Coenie de Villiers, vertel hy. Hy was nog op skool toe sy foon een oggend lui en hy hoor: “Refentse, dis Coenie de Villiers.” Hy lag as hy onthou dat hy onmiddellik die foon doodgedruk het.

“Ek was bang daar is snaakse agtergrondgeluide, of my vriende maak aanmerkings en ek wou regtig hê hy moes dink ek is die coolste ou ooit.”

Coenie het deurgery om hom touwys te maak oor die musiekbedryf en hom met raad en daad bygestaan, en is ook die grootste rede hoekom Refentse begin het om sy eie liedjies te skryf. “Hy het my jare se skoolgeld bespaar,” vertel hy met ’n groot glimlag.

En voeg dan half ingedagte by: “Hy was die mentor vir my wat hy nooit gehad het nie.”

Ek wonder hardop of hy soms bang is dat die sukses té vinnig, té veel gekom het. Dat hy te jonk is vir al die roem. “Tyd is relatief vir almal. Ek glo ek is presies waar ek moet wees. En as ek aanhou hard werk en my hele wese ingooi, sal ek aanhou uitblink.”

Sy broek beef seker as hy by Afrikaans is Groot of Innibos voor 55 000 mense optree? “Dit maak nie saak waar ek sing nie. Ek gaan half in ’n beswyming – ’n musiekbeswyming – en dan maak die getalle nie saak nie. Solank ek iemand raak met my sang, is dit goed. Of daar twee mense of 20 000 is, die musiek is vir my alles.

“Ek het geen formele sangopleiding gehad nie, maar musiek is deel van ons ryk kultuur. Jy sing in die kerk, by die huis. Dit was nog altyd daar. Toe ek die eerste maal op die verhoog gestaan het, het dit ook só gevoel: asof dit maar nog altyd só was.

“Ek was eenmaal saam met my ouma in ’n klein kerkie, meer in ’n sinkgeboutjie met 20 mense. Geen krag, geen musiekinstrumente. Maar die mense het in agt stemme gesing en dit boonop sonder begeleiding.”

Refentse het homself leer note lees, want, vertel hy, “Ek wil nooit op ’n plek in my lewe kom waar ek nie kan musiek maak nie.”

Hy het as kind een kitaarles gehad en gou besef dit wat die onderwyser hom wou leer, kan hy ewe goed op YouTube leer. “Ek het toe ook besef jy kan nie iemand musiek leer nie; dis binne jou. Elke musikant het sy eie stem. Elkeen sien musiek anders en neem jou na ’n ander plek met sy musiek.”

Vir iemand vir wie daar eerder musiek as bloed in sy are vloei, moet daar tog een liedjie wees wat sy ultimate gunsteling is? “Sjoe, dis soos om te vra ek kies tussen stiefkinders! Valiant Swart se “Sonvanger”. Hy het die mooiste manier gekies om iets só hartseer só mooi te verduidelik. Hy het diep begrip vir mense se denke en soveel diversiteit in sy woorde.”

Toe hy ná Coenie se inspirasie begin om sy eie liedjies te skryf, oordink hy dinge te veel, erken Refentse. “Ek het gesukkel aan die begin, maar toe ek besef ek moet net die waarheid op papier vertel, het dit begin vloei.” Hy probeer nou om elke dag of twee ’n nuwe liedjie te skryf. “Party sal nooit daglig sien nie, maar ek het darem al 20 opgeneem. Op elkeen van my drie albums is van my eie liedjies.”

Aan die begin het hy soms tot 280 optredes per jaar gehad, maar gou besef dat hy moet briek aandraai. “Ek het te veel belangrike gebeure soos Kersfees, Nuwejaar, verjaarsdae en tyd met my familie gemis. Ek was die afgelope vier jaar nie eers alleen of vry op my verjaardag nie. Ek neem dit nou rustiger.”

Refentse woon nie meer by sy ouers, Pule, ’n skoolinspekteur, en Maditlare, ’n produksiebestuurder, nie, al wil hulle so graag hê hy moet. Hy woon in Pretoria en sê dis lekker sentraal – nie net vir opname-ateljees nie, maar ook vir sy verskeie konserte. Hy lag egter as hy byvoeg dat “huis” op hierdie stadium bloot die plek is waar sy klere bly.

Maar hy verlang baie na Vereeniging. “Ek mis die karre wat op ’n Sondagmiddag by McDonald’s verby dice; die plek waar ek my common streep kan uithaal. Ek verlang na my mense,” gesels hy. Hy sê half ingedagte: “Vereeniging is ’n fenominale plek. Ek sal nog eendag teruggaan soontoe; of ook nie. Ek weet nie.”

Hy het tydens die inperking genoeg liedjies geskryf en opgeneem vir ’n nuwe album. Sy enkelsnitte “Stormnag” en “Sannie die loopdop” is in September vrygestel. Sy volle album, Wandel in my woning, word op 9 Oktober vrygestel. Die album se 11 snitte is ’n vrolike mengsel, met Afrikaans, Engels, Sotho, Zoeloe, rock, boeremusiek, mbaqanga, reggae, techno, alternative, rock ‘n roll, ‘n goeie dosis kletsrym en meer wat saam om een vuur sit en kuier en deurgaans verras met ongewone progressies en onverwagte wendings. Dis tegelyk diep poëties, eksperimenteel, tong-in-die-kies en loslit lekker, aldus Sony Music se persverklaring.

“Dit sal ’n wonderlike geskenk aan self wees,” verklaar hy toe ons groet.

Refentse Morake (foto: verskaf)

Nog vrae aan Refentse

Som jouself in vyf woorde op?

Onopsombaar.

Watter les of raad wat jou pa of ma jou gegee het, is iets wat jy elke dag toepas?

Om nooit besluite uit vrees óf uit plesier te maak nie. (Die raad het van sy ouma na sy pa en toe sy ma deurgefilter.)

Drie albums, en jy is 22. Is dit die pad wat jy gehoop het jy sou loop?

My ouers wou hê ek moet ’n prokureur word. Ek het gedink ek sal politiek byvoeg en president word. Ek het nooit gedink ek sou in ’n musiekrigting gaan nie, maar dis waar ek hoort.

Wat is jou doelwitte in die lewe?

Ek glo nie aan doelwitte nie, want dit het beperkings. Ek glo dat jy in jouself moet belê en dinge sal gebeur.

Hoe ontspan jy?

As ek kans kry vir ontspan, speel ek graag kitaar, of sokker of rugby in die straat saam met my vriende. Ek het ook nou begin gholf speel en geniet dit baie. Ek doen ook nou my vliegtuigloodslisensie en is mal oor lugvaart. Dis ’n pragtige kuns.

Ek geniet dit ook om in kerke op te tree. Dis lekker om sonder die applous te sing. Dit gaan nie daar oor jou nie; dit gaan net oor die musiek. Ek is nie ’n fan van celebrity nie, maar ek besef dat ’n groter roeping groter opofferinge noodsaak. My ouers weet ek behoort aan die mense, en aan musiek. En hulle is oukei daarmee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top