
Titel: Reckless Daughter: Joni Mitchell
Sprekers: Danie Marais, Kerneels Breytenbach en Desmond Painter
Kunstenaars: Lise Swart, Jackie Lätti, Riku Lätti, Andries Bezuidenhout, Schalk Joubert
Wat is ’n Woordfees sonder die musiekmissionarisse wat ’n ikoon huldig? Kerneels Breytenbach en Danie Marais het ’n besondere kennis van kontemporêre musiek en kan heerlik gesels. Toe bring hulle Desmond Painter aan boord, en siedaar: ’n Wenresep!
Ek gaan Nadine Petrick se openingsparagraaf steel, want ek kan my resensie nie beter inlei nie:
Dis reeds ’n instelling dié – Danie, Kerneels en Desmond. Elke jaar by die Woordfees kry ’n mens kans om te induldge in drie van die grootste musiek-nerds (vergewe my, kêrels) in die land se uitgebreide kennis oor ’n spesifieke musikant. Springsteen, Paul Simon, Dylan… maar waar is die vroue?, wonder jy. Gelukkig het hulle hierdie jaar self tot inkeer gekom.
Lees gerus die res van haar resensie.

Vir 90 minute kon ons terugsit vir ’n interaktiewe lesing oor Joni Mitchell. Die sprekers het hulle geselsies telkens toegelig met videogrepe. Veel groter as lewensgroot was Mitchell, oud en jonk, dus op die verhoog teenwoordig en ’n deel van die interessante vermaak.
Links van die skerm het ’n groep gewikste musikante gesit.

Lise Swart
Lise Swart se lieflike stem het baie geklink soos ’n jonger Joni Mitchell en Jackie Lätti het die ouer Mitchell laat leef op die verhoog.

Jackie Lätti
Riku Lätti was op die klavier, Schalk Joubert op bas en Andries (Roof) Bezuidenhout het die kitaar geslaan en gesing.
’n Sterk vrou of ’n ligtekooi?

Kerneels Breytenbach
Joni Mitchell het as jong meisie ’n baba gehad, wat sy moes laat aanneem omdat die pa verdwyn het en haar ouers nie vir haar veel steun gebied het nie. Hierdie hartseer agtergrond sou in baie van haar liedjies teregkom, maar die feit dat sy bereid was om haar lyf met meer as een man te deel, sou aan haar ’n negatiewe konnotasie koppel.

Danie Marais
Marais, Breytenbach en Painter het daarop gewys dat dit ’n uiters seksistiese houding was (en is), want die mans wat openlik met groupies geslaap het, talle van hulle, is vereer daarvoor, terwyl Mitchell as vrou skynbaar nie die reg had om meer as een man toe te laat by haar nie. (Dit het ook nie gehelp dat van haar lovers swart was nie.)

Desmond Painter
Hierdie houding sou skynbaar ook haar musiekloopbaan terughou. Sy het volgens die sprekers nie die erkenning gekry wat sy moes gehad het nie.
Musikale progressie
Mitchell was egter ook verantwoordelik vir die manier waarop na haar musiek gekyk is, word die gehoor vertel. Sy sou eers later in haar loopbaan vir mense soos Jaco Pastorius toelaat om haar klank te verdiep. Vir té lank het sy dalk op haar soet stem en effens kinderlike sjarme staatgemaak.
Dat sy egter ’n musikale reus is, is nie te betwyfel nie.

Schalk Joubert
Haar gebruik van hangende akkoorde (“suspended chords” in Engels), is ondersoek en is verduidelik. Mitchell het niks aan die toeval oorgelaat nie en die onafgerondheid van haar lewe en die musiek, wat dikwels ’n biografiese inslag had, is weerspieël in die akkoorde wat nie afgesluit is nie.

Riku Lätti
Schalk Joubert en Riku Lätti het die tegniek verduidelik, terwyl Mitchell self daaroor gesels het op die grootskerm.

Andries Bezuidenhout
Ek het soveel geleer in hierdie sessie.
Op 80 steeds met ons
Mitchell word in November 80.
As folkmusikant het sy met die beste meegeding en talle mans, waaronder Leonard Cohen, is skynbaar deur haar kennis van musiek geïntimideer.
Later sou Mitchell oorskakel na jazz en sy het selfs popmusiek gemaak.
In 2015 het sy ’n breinaneurisme gehad en moes van voor af leer sing.
In 2022 het die organiseerders van die Newport Folk Festival haar op ’n stoel op die verhoog laat sit en sy het die oë van almal om haar nat gesing.
Hierdie heerlike huldeblyk aan Mitchell se titel is natuurlik ontleen aan haar eie album Don Juan’s Reckless Daughter. David Yaffe het ook ’n biografie oor haar geskryf met die titel Reckless Daughter.
Onthou om volgende jaar vroeg te bespreek vir die Marais-Breytenbach-Painter-vertoning!
- Foto’s: Izak de Vries

