Real TV Africa: Volhoubaar?

  • 2

Dit behoort verwelkom te word dat bruin mense ’n eie TV-kanaal – Real TV Africa – gaan kry. 

Onwillekeurig kom die vraag by my op: Hoe volhoubaar gaan dié inisiatief wees?

My skeptisisme baseer ek op die baie onsuksesvolle pogings van ‘n menigte bruines om “innoverend en kreatief” op veral die politieke en medialandskap projekte ter bevordering van die “bruin saak” aan te pak.

Baie van dié projekte kom wel van die grond af, maar sterf kort daarna ’n stille, pynlike dood. Hierdie jongste projek, Real TV Africa, se toekoms word dus deur die uwe op grond van dié historiese redes in twyfel getrek.

Real TV Africa staan onder aanvoering van Erald Felix, voormalige mede-aanbieder van die TV-program 50/50, wat alreeds ’n onsuksesvolle tydskrif, Izzit, vir bruines op sy kerfstok het.

Ek onthou nog soos gister hoe ‘n menigte bruines (insluitend meningsvormers en joernaliste uit die bruin gemeenskap) in 2008 by Goudini Spa in die Wes-Kaap saamgetrek het. Die geleentheid was die stigtingskongres van die Bruin Belange Inisiatief (BBI) en die bekendstelling van Izzit as mondstuk van bruines.

Ek was uit nuuskierigheid daar. Ook Lennit Max, Henry Jeffreys, Zelda Jongbloed en Willem Fransman. Die aktrises Fatima Abdool en Vinette Ebrahim, wat onderskeidelik by Izzit en die BBI betrokke was, het die “bruin saak” sterk bepleit.

“Hier kom ’n ding,” het ’n kongresganger opgemerk. “Die BBI en Izzit gaan volstoom bruin mense se belange verteenwoordig.” Na die kongres sou ek ’n vriend aanmoedig om op Izzit in te teken. Hy het gesê hy sal na die sesde uitgawe inteken. Sy aanvoeling was in die kol.

As ek reg onthou, was daar net een uitgawe van Izzit. Die BBI het momentum verloor nadat sy bestuurslede een vir een bedank het.

In 2010 het ’n handjievol swart Afrikaanses, onder meer wyle Jakes Gerwel en Trevor Manuel, by UWK saamgetrek om die Forum vir Swart Afrikaanses (FSA) te stig. Dat daar meer botteltjies water as mense was, was ’n vroeë aanduiding dat die forum gou gaan sterf. Die FSA-taakspan het nooit eens vergader nie.

Op die literêre front gaan dit ook nie aldag goed met die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) nie. Fransman moet egter geprys word, omdat hy die organisasie ten spyte van al die uitdagings aan die lewe hou.

Op die politieke front het organisasies wat veral uit bruines bestaan het, tot in hul graf gesukkel om ’n ordentlike en invloedryke bestaan te voer.

Die ontbinde Arbeidersparty het hom vanaf 1983 plek-plek in die politieke wildernis bevind weens sy deelname aan die driekamerparlement. Familieklieke, binnegevegte, beskuldigings van nepotisme en onenigheid oor partybeleid, veral oor ’n eenheidstaat tenoor ’n federale staat, het die party se einde beteken.

Die New Labour Party van Peter Marais kon nie eens een setel in die Wes-Kaapse parlement verower nie en moes ook roemloos die aftog blaas.

Die Onafhanklike Demokrate van Patricia de Lille het ook nie die pyp gerook nie en moes noodgedwonge in die DA se kooi spring.

Real TV Africa bring weer hoop. Kom ons hoop op sy sukses.
 

  • 2

Kommentaar

  • Die vraag is miskien: hoe wakker mens die bruin gemeenskap se identiteitsbewussyn aan?  Dis 'n langtermyn, kollektiewe oorlewingsdrang op 'n onbewuste vlak, met selfbehoud as sy eerste beginsel. 

     

    Die Engelse, byvoorbeeld, staar as't ware outomaties wantrouig en sinies oor The Channel na The Continent, histories die oorsaak van Perfidious Albion se ergste eksistensiële trauma. 

     

    Afrikaners weer, is epigeneties geprogrammeer om hoofsaaklik na Bloedrivier en sy onmiddellike nadraai, asook na die Engelse Oorlog en s? traumatiese nadraai, vir hul oorlewingsinspirasie terug te kyk.  Kyk maar na hoe Afrikaners, ook vanuit die mees uiteenlopende politieke hoeke denkbaar, toenemend in die aangesig van die ANC-elite se rassistiese National Democratic Revolution besig is om  kultureel, ekonomies en polities saam te staan en selfs te mobiliseer - laer te trek! 

     

    Real TV Africa se opdrag sal waarskynlik in sy kern die verskuilde vraag moet vra: waardeur is die Bruines, as 'n redelik homogene gemeenskap, epigeneties geprogrammeer om saam te staan en te mobiliseer, selfs al is dit dan net kultureel?  Hulle moet ook besef dat Afrikaners uit alle oorde vierkantig by hulle sal staan, al is dit net as kykers en in die gees, en mits dit deeglik gedoen word.  Ons deel mos 'n erg traumatiese maar ook positiewe geskiedenis en 'n taal.  Mag hulle sommer baie groot sukses behaal. 

  • Anthony Wilson

    Wat help dit jy staan buite en wys vinger en kritiseer net. Ek het nog altyd geglo dit is beter om te probeer en te faal as om NIKS te doen nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top