Rand en sent deur Suzaan Steyn: ’n resensie

  • 0

Rand en sent
Suzaan Steyn
Uitgewer: Penguin Books
ISBN: 978-1-77609-238-3

As jy ernstig oor jou geldsake is, jou sente omdraai en ingeligte finansiële besluite wil neem om vir jou ’n voorsprong in die lewe te verseker, is Suzaan Steyn, ’n bekende nuusleser en ook gewilde radiopersoonlikheid, se boek getiteld Rand en sent – geskoei op die gelyknamige RSG-program wat Suzaan aanbied – noodsaaklike leesstof. Ek het die boek van waarde gevind en reken dat elke Suid-Afrikaanse huisgesin ’n kopie van hierdie omvattende, kompakte en praktiese gids tot goeie persoonlike finansiële bestuur op die boekrak behoort te hê. Nie almal kan finansiële adviseurs of konsultante bekostig nie, en daarom is ’n boek soos Rand en sent, wat kenners van gerespekteerde finansiële instellings se kundigheid op ’n eenvoudige, verstaanbare en toeganklike wyse beskikbaar stel vir die man op straat, uiters welkom.

Rand en sent word in ’n gerieflike sagtebandformaat uitgegee en beslaan 204 bladsye propvol wenke en raad wat oor 20 boeiende en insiggewende hoofstukke strek. Die huidige ekonomiese klimaat en vooruitsig noop Jan Alleman om sy finansiële geletterdheid op te knap. Die dae van sorgeloos en onoordeelkundig werk met geld, is lankal verby – jy moet noodgedwonge spaar en jou rande sover moontlik laat rek. Gelukkig kan finansiële vaardigheid aangeleer word en kan oud en jonk baat vind by die waardevolle inligting in dié boek vervat. Rand en sent belig kwessies wat relevant is en dus werklik die dwingende behoefte aanspreek oor hoe om besluite te neem wat jou in staat kan stel om finansieel te oorleef.

Helena Conradie (bestuurshoof by Satrix), Wouter Fourie (direkteur van Ascor Independent Wealth Managers en die Instituut vir Finansiële Beplanning), Jeanette Marais (direkteur by Allan Gray), Annelie Smith (uitvoerende hoof van korporatiewe en spesialismarkte by RBS) en Piet Nel (belastingspesialis) is van die kundiges met wie Suzaan op haar gewilde RSG-program gesels het en wie se bydraes saam met vele ander kenners s’n in die boek saamgevat is. Die gewildste onderwerpe waarop luisteraars van die program die meeste gereageer het, word behandel. Die interessante temas sluit onder meer in: aanlyn transaksies, belasting, beleggings, eiendom, skuld, jou kredietrekord, versekering en testamente, boedels en trust. Die boek vertel ook meer oor aandele, trusts, polisse, skeidingspakkette en pensioenuitbetalings.

Geweldig baie fasette van ’n mens se lewe word deur geld (of die gebrek daaraan!) geraak. Die ou mense het nie verniet gewaarsku dat geld soos water vloei nie. Jy moet bewustelik besluite neem oor hoe om geld te verdien en ook oor hoe om dit vas te hou of aan te wend sodat dit vir jou en jou afhanklikes ’n suksesvolle finansiële toekoms kan besorg. Dit maak dus bloot sin dat jy die verantwoordelikheid sal opneem om te leer hoe om jou geld tot jou voordeel te laat werk. Dit beteken nie net dat jy weer moet kyk na hoe jy jou geld verdien en ook jou begroting en spaar- en belggingsopsies moet oorweeg nie. Jy moet beplan aan jou aftrede en dink aan noodsaaklikhede soos lewensversekering, medies, ’n noodfonds vir die wis en die onwis en begrafnisdekking. Dan moet jy boonop ook nog jou regte ken wanneer dit kom by byvoorbeeld arbeidskwessies (werkloosheidsversekering, kraamverlof, ens), wanneer jy jou werk verloor, eiendom aanskaf en belasting moet betaal. Jy wil darem ook jou geld geniet en jou gesin bederf met ’n vakansie dan en wan. Die meeste mense voel skoon oorweldig wanneer hulle aan hul finansiële verantwoordelikhede en verpligtinge dink. Finansiële besluite kan verreikende gevolge hê en baie swaar op jou gemoed rus.

’n Boek soos Rand en sent kan baie daartoe bydra dat jy saans rustiger slaap. Nie net verskaf dit nuttige inligting oor hoe om ’n entrepreneur te wees en jou eie onderneming en/of aanlyn winkel te begin nie, maar dit leer jou ook hoe belangrik dit is om ’n besigheidsplan te hê en bemarking te doen. Die boek gee ook wenke oor hoe om gesonde geldgewoontes by jou kinders te kweek. In baie gevalle is dit nodig dat ons ons leefstyle in heroënskou moet neem. Is dit byvoorbeeld nodig om ten duurste te gaan uiteet saam met vriende wanneer julle lekker en goedkoop tuis kan eet?

Suzaan reken dat geld baie soos plante is: Jy moet daarna omsien indien jy wil hê dat dit vir jou ’n opbrengs gee. Ons almal droom daarvan om genoeg geld te hê, om sonder gebrek deur die lewe te gaan en uit te sien na ’n gerieflike oudag. Dit gaan egter nie vanself gebeur as ons nie dadelik en daadwerklik bewustelike en ingeligte keuses maak om ons geld te beskerm en te laat groei nie. Verkwansel die goed in jou huis wat jy nie gebruik nie en net stof vergader. Verkoop jou vaardighede. Beplan jou inkopielys slimmer. Begin ’n stokvel saam met mense wat jy vertrou. Daar is soveel idees oor hoe om geld te spaar. Begin net. Vandag nog. Ek het die meeste gebaat deur die spaarwenke rakende die aankoop van kruideniersware te volg. Dis ongelooflik hoe baie jy kan bespaar deur net weer vir ’n slag nugter na jou aankope te kyk. Ek spring byvoorbeeld deesdae springmielies om aan te smul gedurende fliekaande tuis. Dis goedkoper as aartappelskyfies, én gesonder.

Ek het ook waarde geput uit die hoofstuk “Wanneer jy jou werk verloor”. Dit is ’n aaklige werklikheid wat menige Suid-Afrikaner in die gesig staar. Jy lees en hoor byna daagliks van mense wat afgelê word en hulle werk verloor. Dis gerusstellend om te weet dat “Wanneer jou werkgewer jou kontrak wil beëindig, is daar reëls wat hy moet volg.” Jou regte in só ’n geval word op bl 195 uitgestippel tesame met die voorstel dat jy nou eers moet rustig raak en kreatief moet dink. Die goue raad hier is: “Praat ... met ’n finansiële adviseur. Hy sal saam met jou kyk na wat jy alles op daardie oomblik nodig het; waarsonder jy werklik nie kan klaarkom nie en waarsonder jy sal móét klaarkom.” Dis goed om voorbereid te wees en te weet wat jou te doen staan sou jy jou werk verloor. Dit help ook om te onthou dat swaarkry dikwels nuwe geleenthede bring.

Ek gaan Suzaan Steyn se Rand en sent gereeld raadpleeg. Nie net verduidelik dit moeilike finansiële begrippe op ’n wyse wat ek verstaan nie, maar die goeie raad, wenke, verduidelikings en weldeurdagte voorstelle is geensins te versmaai nie. Dié boek verskaf aan my ’n magdom betroubare inligting waaraan ek rustig kan lees en herkou. Ná die lees van hierdie boek is ek meer as ooit vasberade om my rande te laat rek. Hopelik rek hulle nie net nie, maar kry ook kleintjies!

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top