Waar het dinge skeefgeloop vir die ANC?
Om die blaam uitsluitlik voor Duduzane se pa se deur te lê, is ’n oorvereenvoudiging van ’n komplekse vraag. Zuma het nie in isolasie tot die hoogste pos gestyg nie. Wat hom aantreklik vir die kingmakers gemaak het, was die feit dat hy beïnvloedbaar is, die feit dat hy nie sommer op sy eie ’n nuwe idee sal kry en daarmee sal hardloop nie.
Hulle was natuurlik reg. Hul enigste fout was die aanname dat Zuma net na hulle sal luister en net deur hulle beïnvloed sou word.
COPE en die EFF is direkte gevolge van daai denkfout. Voor die 2019-verkiesings, en ek vermoed inderdaad vroeg reeds in 2018, kan ons ’n nuwe akroniem by daai lys voeg.
Maar waar het dinge skeefgeloop vir die ANC? Daar is diegene in die binnekringe van die ANC wat reken dat dinge alreeds by Madiba verkeerd gegaan het, dat hy skeuring gebring het toe hy te vinnig versoening begin praat het. Dit is natuurlik op sigself alreeds tekenend van gesindhede binne die ANC dat versoening nie wenslik was nie, dat hulle sou verkies het dat daar bloedvergieting moes wees. Dit is hopelik net die mening van ’n splintergroepie binne die party.
Daar is beslis ’n groter groep wat voel dat ekonomiese mag nie vinnig genoeg geskuif het na dié in politieke magsposisies nie – in elk geval nie op eerbare maniere wat die integriteit van die stelsel in stand hou nie. Hierdie groep reken dat die opkoms van ’n Zuma onvermydelik was. Die opkoms van ’n korrupte leier wat sy eie ekonomiese belange voor dié van die land stel, was eintlik ingebou in die sisteem.
Die grootste fout in die sisteem is waarskynlik dat slegs diegene in beheer kan ryk raak. Die swart middelklas is nog altyd kunsmatig klein gehou. Die probleme in die opvoedingstelsel dra daartoe by dat swart mense nie kan vooruitgaan nie. Of dit doelbewus gedoen word, is ’n ope vraag.
Selfs diegene wat wel ryk geword het, kan seer sekerlik nie met skoon hande na die tafel kom nie.
Dis in die lig hiervan dat ek die sg dirty tricks campaign teen Cyril Ramaphosa met belangstelling dophou. Enige veldtog om ’n politikus te diskrediteer, het tradisioneel sekere elemente gemeen. Seksuele wangedrag, soos wat nou as openingsalvo teen Cyril gevoer was. (Dit was destyds ook met Vavi die geval, en het met Zuma misluk.) Iewers is daar gewoonlik ook aantygings dat hulle nie “of the people” is nie. Nuwe Marikana-aantygings kan hier gebruik word. Finansiële wangedrag – of dit nou belastingontduiking is, onwettige maniere om geld te bekom, of wat ook al. Tensy al Cyril se ooreenkomste, kontakte en ondernemings silwerskoon is, verwag ek dat ons in die komende weke heelwat vuil ekonomiese wasgoed sal sien wapper.
Die hele veldtog ruik na desperaatheid. In ons politiek is dit winner takes all, veral wat die ekonomiese sy van sake betref. Almal wil hul vingers in die tesouriesak sit.
Soos wat die vuil wasgoed uitgehang word, begin hierdie veldtog al meer lyk en voel soos die Trump-Clinton-verkiesingstryd verlede jaar. Die onderliggende ANC-aanname, een wat nie langer sonder meer as korrek aanvaar kan word nie, is dat die wenner uit hierdie stryd, en dus die volgende president van die ANC, ook president van die land sal word. Anders as tien jaar terug, is dit nie meer voor die hand liggend nie. Wie ook al hier triomfeer, sal die land moet oortuig dat hy of sy waardig is.
Soos met die Trump-veldtog, is die dilemma altyd dat die persoon wat probeer om ’n min of meer etiese veldtog te gebruik, wat probeer om met die kwessies in interaksie te gaan eerder as om net die opponente vuil te smeer, altyd aan die kortste ent trek. Clinton se e-posse was op die ou end glad nie so belangrik nie, maar die aandag wat in die media daaraan gegee is, het haar einde beteken. Sou sy verkies het om dieselfde taktieke teen Trump te gebruik, sou sy waarskynlik met heelwat meer ammunisie gesit het.
Dit bring ons natuurlik by die media. Miskien was daar in vervloë dae ’n tyd toe daar onpartydige beriggewing deur joernaliste was. Ek weet nie. Ek het grootgeword in die tyd van nasionalistiese NP-propaganda. Elke berig, ongeag hoe feitelik dit probeer wees, het ’n emosionele impak na een of ander kant toe.
Dieselfde joernaliste wat seker gemaak het dat Clinton se e-posse op die voorblad van elke koerant beland, wens sekerlik nou dat hulle eerder hulle monde gehou het. Trump het hulle wat hom gehelp het aan bewind kom, nou in die visier. Clinton sou nooit die vrye pers op dieselfde manier bedreig het nie.
Ramaphosa is naïef as hy dink negatiewe beriggewing gaan nie sy kanse beïnvloed nie. Joernaliste is naïef as hulle dink die keuse wat hulle maak in hoe hulle berigte verpak, het geen invloed op die uitkomste van verkiesings nie. As ons aan die einde van hierdie jaar met NDZ as president van die ANC sit, sal dit beslis nie wees omdat sy die meer bekwame, charismatiese leier is nie. Dit sal wees omdat sy, of diegene wat haar toutjies trek, die meer aggressiewe smeerveldtog gekies het.
Waar laat dit die ANC, en op langer termyn, die land? Ons kan net sowel sangomas besoek en dolosse gooi om die antwoord daarop te kry.


Kommentaar
As Zuma kon oorleef het met 783 aanklagte teen hom, kan Ramaphosa hierdie een maklik oorkom. Hy is in elk geval `n baie beter keuse ...