Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand deur Izak du Plessis: ’n resensie

  • 1

Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand
Izak du Plessis

Penguin Random House
ISBN: 9781776092741

Dis hoe dit is onder die rampokkers van die Wes-Rand.

Ralph Haynes was ’n groot man met ’n bos krulhare en ’n breë gesig; ’n afbeen charismatiese rampokker met die groot titel “Godfather van die Wes-Rand”. In 2011 bestyg hy ’n helikopter, word daarna moontlik in ’n bakkie gesien. En daarna nooit weer nie.

Genoeg stof vir ’n rillekker verhaal. En dis hoe Izak du Plessis hierdie verhaal aangedurf het. Groot name in die onderwêreld duik op: Ferdi Barnard, Corrie en Mike Goosen, oudpolisieman Charlie Landman; selfs Mike Bolhuis, hoewel nie betrokke by Haynes nie en blykbaar minagtend oor hom; ook name uit die glanswêreld, soos Joost van der Westhuizen, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr, en ander bedrewe nagklubkunstenaars. Die vroue is vroue van die ontkleeklubs. Dis die Wes-Rand: Randfontein, Krugersdorp; vertonerig ryk en ellendig arm.

Dis ook die wêreld waarin die fluitjieblaser in die Zondo-kommissie, Angelo Agrizzi, sy werk in die voormalige Bosasa uitgevoer het. Dis waar Ralph Haynes al van skooljare af ’n legendariese misdadiger geword het. Op 21 is hy tronk toe vir moord.

Du Plessis, ’n radiojoernalis, het in ’n vorige boek, Boereverneukers, ’n kort hoofstuk oor Haynes geskryf. Die volle verhaal het hy daarna weer gaan soek.

’n Leeswenk: Durf die boek aan asof jy, die leser, ’n luisteraar is wat sit en luister na ’n storieverteller, want dis Du Plessis se styl. G’n letterkundige toertjies nie. G’n diepte-besprekings of filosofiese ontledings nie. Ook g’n aspris skoktaal nie, net die taal van die omgewing en van die noulettende ondersoeker. Wat jy lees is dus wat jy kry. Direk. Tog laat Du Plessis hom soms die weelde toe om ’n asem-ophou-beskrywing te bied, soos oor die dag toe hy nat van die sweet, hartkloppend, doodbang weggery het van die huis in Krugersdorp waar hy met ’n gesiene, gevaarlike rampokker sou gepraat het.

’n Vreemd-interessante feit is ook hoeveel vriende van Ralph, én hy self, ’n been in motorfietsongelukke verloor het. Die motorfietsbende Mac’s was deel van die Wes-Randse skemerwêreld.

Du Plessis se Ralph Haynes is ’n man wat in verskeie verbeteringskole was, en nooit skool klaargemaak het nie, maar hy is as besonder slim beskou. Hy het eenkeer groente gaan steel en dit aan ’n ouetehuis besorg.

Du Plessis het, duidelik deur versigtig te trap, die lewenslange vertroue gewen van Dawie Lötter, wat na Ralph se dood by dié se pragtige weduwee ingetrek het. Dawie, hoewel van die middelklas, het van jongs af bevriend geraak met Ralph, een van 17 Haynes-kinders uit ’n ellendig arm buurt. Dawie was saam met Ralph op sy laaste sending en daarom word in die onderwêreld ook gegis of Dawie dalk aandadig was aan Ralph se dood (saam met Ralph se vrou Jacky). Ook is in daardie kringe gegis dat Ralph dalk bloot uit die helikopter in ’n mynskag afgeslinger is.

Du Plessis wys daarop dat die rampokkers saam sou werk, maar onder mekaar ook sou verneuk in sake, liefde, en ooreenkomste.

In Ralph se dampkring het die rampokkers (en die korrupte polisie onder wie Ralph baie vriende had) mekaar op verskillende opdragte ontmoet, hoofsaaklik om diamante, goud, koper of selfs dwelms te “knock” – die woord vir grootskaalse diefstal.

Ralph en Jacky (haar trourok het R25 000 gekos) se verhouding was luuks, gevaarlik en, vreemd genoeg, aandoenlik. Die twee sou vir mekaar in Jacky se dagboek boodskappe skryf. Du Plessis se aanhalings is verstommend aangrypend, beide vir die liefdesverklarings en ook vir die viesheid vir mekaar. Direk na die troue het Ralph haar beveel om haar borste te vergroot. Sy was baie dankbaar daarvoor.

Sy weer het besef dat hy erg selfbewus was oor sy lompe kunsbeen en aanbeveel dat hy ’n nuwe moet kry.

Du Plessis gee ook insae in die insypeling, amper oorname eintlik, van buitelanders in die onderwêreld toe korrupte polisie eers bedrywig begin raak het

Onder die korruptes was daar een eerlike polisieman wat teen elke prys vir Ralph wou uitlewer. Hy was saam met Ralph op skool. Luke Enslin. Maar toe het die noodlot ander planne met Ralph gehad.

Du Plessis laat die leser toe om self oor die romantiek of die tragedie van die rampokker te oordeel. Hy het die storie bloot oorvertel. Daarom bly die boek en karakters ná die lees tog boeiend in die gedagte van die leser.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top