Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand deur Izak du Plessis: ’n lesersindruk

  • 0

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand
Izak du Plessis
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092741

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Misdaad bly een van die grootste trekpleisters vir die leserspubliek. Wie hou nie daarvan om te lees van hoe verskriklik laag “ander mense” soms daal nie? En die ander lekker element: die manne en dames in blou uniform wat daar is om ons te beskerm. Toegegee, die polisie, veral Suid-Afrika se polisiediens, is voos van ongure karakters en die politici se manier van bestuur help ook nie die situasie veel nie. Maar iets aan die gedagte van wetstoepassers wat gewelddadige misdadigers daagliks in die gesig staar, wat hulle lewens vir ons op die spel plaas, gryp die mens se verbeelding aan. En ’n stroom van misdaadfiksie is daar dus elke jaar wat ons gulsig koop en lees. Daar is ook ’n element van misterie agter die misdaad. Die sielkunde agter misdadigers kan ons soos legkaartstukke aanmekaar probeer pluis vanuit die veiligheid van ons eie huise. Hoekom is misdadigers soos hulle is? En in die geval van ene Ralph Haynes is die vraag: Wat het van hom geword?

Die joernalis Izak du Plessis het natuurlik voorheen al oor Ralph Heynes geskryf in sy boek Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters (Penguin, 2017). In daardie publikasie verskyn ’n hoofstuk oor Ralph Haynes. Nou het Du Plessis ’n meer omvattende ondersoek na Haynes se lewe van stapel gestuur, deur veral mondelingse getuienis te versamel by mense wat betrokke was by Haynes se doen en late. ’n Volledige biografie oor Haynes is die boek nie. Dit beslaan maar 171 bladsye. Maar dit verskaf ’n veel meer omvattende blik op Haynes. Die publikasie van verskeie foto’s van Haynes en ander betrokkenes maak die verhaal veel meer tasbaar. Haynes, wat op sy foto's voorkom as ’n doodgewone man, se gelaatstrekke herinner my ’n bietjie aan die oorlede sanger Worsie Visser, veral in sy jonger jare. Maar onder die op die oog af doodgewone voorkoms skuil daar ’n uiters andersoortige karakter. Een wat verweef is met die onderwêreld van misdaad, dwelms en geweld.

Oor sy kinderjare word daar nie uitvoerig geskryf nie. Die belangrikste is om daarop te let dat Haynes in armoedige omstandighede grootgeword het in Randfontein, en die armoede van sy jeug het waarskynlik sy lewe lank ’n blywende effek op sy psige gelaat. Heynes het ook vroeg in sy lewe reeds met die gereg gebots en in die tronk beland, maar het na sy vrylating wonderbaarlik buite die tentakels van die gereg gebly, deels vanweë sy bande met korrupte polisie, maar ook om ’n ander baie strategiese rede (mens moet dalk ook daarby voeg dat die tronk in die meeste gevalle maar niks anders is as ’n universiteit en afrondingskool vir misdadigers nie). Volgens Du Plessis was Haynes ’n uiters uitgeslape misdadiger deurdat hy veral lief was daarvoor om ander misdadigers uit hulle geld uit te kul. Dit het daartoe bygedra dat daar selde klagte teen Haynes ingedien was, want watter skelm of boosdoener sal homself vrywillig by die polisie gaan aanmeld en so laat inkrimineer?

Dan is daar die celebs, wat baie help om die storie van Ralph Haynes net nog meer geur en aansien te gee. Haynes het graag vriende gemaak met verskeie bekendes, soos die sanger Steve Hofmeyr en die oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen (1971–2017). Vir die doel van sy navorsing het Haynes ook met Hofmeyr ’n onderhoud gevoer, wat meer lig gewerp het op die goeie vriendskap wat daar tussen Hofmeyr en Haynes bestaan het, wat ook gekenmerk was aan wilde partytjies met ander bekendes. Voeg daarby ook ’n Robin Hood-ondertoon aan die lewe van Ralph Haynes, wat glo bekend was daarvoor dat hy graag kos aan Randfontein se arm inwoners versprei het. Dit alles maak Du Plessis se boek soveel meer aanloklik vir soveel meer lesers. Op hierdie punt moet mens dalk ook net byvoeg dat Suid-Afrika se bekendste privaatspeurder, Mike Bolhuis, ook prominent in die boek na vore tree ...

Leë beloftes van kookolie, diamante, goud, voertuie en belastingontduiking, dit is alles van die tipiese maniere waarop Haynes na bewering miljoene geld uit niksvermoedende slagoffers gemaak het en wat in die boek gedokumenteer word.

Teen die einde van sy lewe het dinge vir Haynes egter begin uitrafel. Die globale ekonomiese insinking van 2008 het waarskynlik daartoe bygedra dat daar al minder geld in omloop was, en ook swendelaars uit die onderwêreld se skelmstreke. Daarby het Haynes in die laaste jare ook na bewering aan dwelms verslaaf geraak, en daar was ook sy huwelik, wat te midde van sy finansiële agteruitgang en dwelmmisbruik al meer gesukkel het.

Die laaste hoofstuk van die boek word gewy aan die uiteindelike verdwyning van Haynes op 21 Januarie 2011. Wat presies van Haynes geword het, is vandag nog onbekend, maar verskeie teorieë bestaan, onder meer dat hy vermoor is, dat hy oorsee gevlug het, of iewers op ’n plaas woon. Du Plessis verreken al dié moontlikhede noukeurig, maar kom uiteindelik tot die slotsom dat om uit te pluis wat van Haynes geword het, “nie die doel van die boek (is) nie” (170). Die boek se doel is om die verhaal van Haynes se bande met die onderwêreld te vertel, tot sy uiteindelike verdwyning.

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand is lekkerder leesstof as baie misdaadfiksie, veral omdat mens deurentyd bewus is van die feit dat mens hier nie met fiktiewe karakters te doen het nie, maar met karakters wat werklik bestaan of bestaan het. Die boek bevat al die eienskappe van lekker misdaadfiksie, net dat dit nie fiksie is nie, en daardie wete maak dit selfs meer prikkelende leesstof.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top