Rainbow Scars: Die seer van Suid-Afrika

  • 0

Teks: Mike van Graan
Regie: Lara Bye
Spelers: Terry Norton, Mbulelo Grootboom en Kertice Maitisa

“You could be me, and you could be living in the township ...”

Rainbow Scars, die nuutste werk van die bekende Suid-Afrikaanse teksskrywer en 2013 se Festival Playwright, Mike van Graan, is vanjaar by die Nasionale Kunstefees as deel van ’n reeks van sy werk te sien. Soos wat die titel voorstel, bespreek die produksie die dinge waaroor daar te min gepraat word: dit wat beseer, vermink en verlore gaan in Suid-Afrika se “reënboog”-bestaan.

Dit is byna twintig jaar na die val van apartheid. Lindi(we) (Kertice Maitisa) ’n adolessente jong dame, is op tweejarige ouderdom by die dood van haar ma deur haar ma se werkgewer, Helen Roberson (Terry Norton), aangeneem. Lindi het tot op hede heelwat uitdagings teëgekom vanweë die voorregte wat sy geniet het as die swart aangenome dogter van ’n wit vrou. Die mees uitdagende was egter toe sy haar neef Sicelo ontmoet, wat haar om hulp smeek vir hul verarmde familie. Hiermee kom ook die wending van die verhaal.

Tipies van Van Graan, skroom ook Rainbow Scars nie om gesprekke wat so dikwels deur die Suid-Afrikaanse samelewing vermy word, aan te pak nie. Argumente ontstaan waarvoor daar geen resolusie of antwoord is nie en ongelykhede word aan die lig gebring waarvoor niemand verantwoordelikheid aanvaar nie. In ’n land wat vir die teenoorgestelde streef, lê Lindi die ware stand van sake bloot: “This place is so obsessed with race!”

Mbulelo Grootboom vertolk met groot sukses die karakter van Sicelo. Hy is vir lang tye op die verhoog gelaat sonder teks of handeling, maar bly nietemin gefokus en dra suksesvol by tot die struktuur. Die speelse ma-dogter-verhouding voel op tye geforseer, onnatuurlik en aangeplak. Die produksie vloei egter gemaklik van toneel tot toneel en lei uiteindelik tot ’n spanningsvolle klimaks.  

Hierdie produksie is tot 4 Julie by die Nasionale Kunstefees te sien. Kaartjies kan by Computicket bespreek word.

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top