Rachmaninoff en Hongaarse lanterns

  • 6

Rachmaninoff was glo sosiaal lomp. Hy het eendag besluit hy wil vriende maak met Stravinsky, wat by geleentheid terloops opgemerk het dat hy van heuning hou. Toe daag Rachmaninoff in die middel van die nag met ’n groot pot heuning by Stravinsky op.

Dit herinner sterk aan my sosiale vaardighede toe ek baie jonk was. Toe ek op varsity was – ja, dit was Pukke – noem die kampusster, die ekstravagante, misterieuse diva Thea Cloete, eenkeer dat ek tog eendag by haar moet kom tee drink. In die Drama- en Kultuurgeskiedenisdepartemente en elders was sy ’n rockster.

Ek laat my nie twee keer nooi nie en daag onaangemeld op – dit was voor die tyd van selfone. Ek stap eenvoudig in, soos ’n mens destyds kon doen. Ek beland eers in haar pa Theunis (TT), digter en departementshoof, se studeerkamer en vertel hom ’n paar dinge oor sy departement, wat na my mening maar saai was en sleg afgesteek het by die flambojante Engelsdepartement. Hy het sy werk opsy gesit en met groot aandag en simpatie na my klagtes geluister.

Thea is nie tuis nie, sê hy, maar ek kan in haar studio gaan wag as ek wil. Dit was maklik om haar studio te herken, neffens die woonkamer: ’n skemerwêreld met gordyne soos bruidsluiers, rose in antieke silwervase, kerse in silwerkandelare, ’n klavier, kitaar, esel, gefolterde selfportrette in waterverf teen die muur.

Daar tref sy my later aan. Ek hoor haar van ver aankom, hoor hoe sy haar pa liefderyk uittrap omdat hy al weer haar Tipp-Ex gesteel het. Kraaikak het sy dit genoem en ek was verstom dat ’n mens so met jou pa kan praat. In haar studio het sy gesê: “Roos, let’s get smashed.” Ons het Tassies gedrink, in kristalglase.

Sy het my – hopeloos verstrooid, pynlik skaam, koponderstebo, stamelend – ’n paar dinge omtrent myself vertel, soos dat mense ’n vertederinkie vir my het. Sy is een van die min mense wat verkleinwoorde terloops kan gebruik, sonder ’n sweem van kosbaarheid. Soos dat ek kán praat, ek moet net diep asemhaal en begin. Ek het haar daar en dan iets vertel wat die vorige week by die kanoklub gebeur het (ek het op my niggie se aandrang daar aangesluit om mense te ontmoet). Sy het aan my lippe gehang.

Die wonderlike van haar was – vir iemand soos ek wat min of geen selfbeeld gehad het nie en nie geweet het of ek kom of gaan nie – dat sy mens so cool laat lyk en jou gedurig aanhaal by haar interessante vriende: “Soos Roos sê ..” of “Sonder om Roos tot ’n kultusfiguur te verhef, wil ek net sê ...” Dit was onweerstaanbaar. Sy het ook gesê: “Ons probeer almal om alternatief te wees, maar Roos is werklik koddig.”

Boedapest (foto: Pixabay)

Ek het my vroeg daarmee versoen dat dit beter is om voor gelag te word as om oor die hoof gesien te word. Hierdie soort gelatenheid het my nuttig te pas gekom toe my kinders tieners was.

Sommige mense herken ’n mens, asof uit ’n vorige lewe of ’n droom, en jy voel jou wel in hul teenwoordigheid. Die Cloetes se klinkersteenhuis in Reitzstraat het my tweede tuiste geword; ek het selfs my eie kamer gehad. Dit was my Brideshead revisited. In daardie boek skryf Waugh oor die soort verliefdheid wat Britse seuns vir mekaar het wat nie volwaardig seksueel is nie, eerder ’n idealisering. So was dit vir my. Ek was in elk geval totaal afgesny van my seksualiteit; daar was bloot sekere mense wat my rustig en gelukkig gemaak het. Hul teenwoordigheid was genoeg.

Thea was wat sy ’n epikuris genoem het. Sy het haar omring met die estetiese. Ons het lang agtermiddagtees in haar pa se lieflike tuin geniet. Alles was ’n geleentheid, monumentaal. Feeste, soos in Antonia’s line. Alles was ritueel. Sy het argeloos die beste Royal Albert of Arzberg-teestel uitgehaal, met ’n ragfyn tafeldoek, met gekleurde kristalletjies soos konfetti in die suiker. Dan het ons jasmyntee gedrink en gepraat oor die lewe terwyl die dag doodgaan, met die geur van verbleikstruik, viooltjies en daardie wit bloeisels wat in die lente soos vrugteslaai ruik. Ek het gedink die res van die lewe gaan só wees. She brings you tea and oranges that come all the way from China. Ja, Leonard Cohen was die agtergrondmusiek van die vriendskap, en Janis Ian en klassieke musiek, veral Beethoven se klaviersonates. Ons het die grootste luukse, dié van tyd, aan ons vingerpunte gehad.

Ons was bevoorregte wit kinders in ’n bubble. Ons het skoonheid liefgehad, in musiek, argitektuur, die natuur en veral boeke. Ek het nog ’n paar jaar benodig om mens te word en dit het my universiteitsjare my gebied: nie klasloop nie – daarvan het min gebeur – maar lees waar my neus my lei en luister na briljante vriende se gesprekke. ’n Mens moes iemand in die rede val om ’n spreekbeurt te kry, maar ek het die meester van die oneliner geword wanneer iemand vir ’n oomblik moes asemskep.

Wanneer ’n mens baie jonk en vir die eerste keer uit die nes is, neem jy dinge as vanselfsprekend aan. Jy aanvaar die wêreld is propvol fassinerende, superslim, elegante, betowerende mense. Ek was gelukkig om nog heelparty besonderse individue raak te loop, maar niemand het ooit weer van binne gegloei soos Thea Cloete in haar vroeë twintigs nie: beeldskoon op ’n lumineuse, eksotiese manier, met akwamaryn oë, ’n mond soos ’n roos net voor dit afgaan, liberaal ingekleur, lang, blink hare, fyn hande met die langste vingers denkbaar, ’n stem soos heuning, ’n voorliefde vir die kollig, maar ook ’n ware kindness en ’n onweerstaanbare humorsin. Sy het haar daagliks in verstommende uitrustings geklee, het geweet hoe om ’n entrance te maak met ’n fyn aanvoeling vir stemming en tema. Sy was ’n hoogs vrygewige vriend wat met liefdevolle oorgawe aan my menswees geskaaf het: “Roos, jy was altyd jou hande, al het jy net gepiepie.”

Later het ons uitmekaargedryf, maar ek onthou haar altyd op ’n agtermiddag in Potchefstroom in die lente: In a dream of Hungarian lanterns / In the mist of some sweet afternoon.

  • 6

Kommentaar

  • David Willers

    Diep roerende artikel. Pragtig. Dit neem my vijftig jaar gelede na my studentejare.
    En daarna toe ek self oor daai einste Boedapest brug gestaan het, die Gelert hotel aan my linker sy, met die Turkiese bad.

  • Michele Meyer

    Ek verlang nooit terug na jonkwees nie, maar Deborah het my nou teruggesleep in tyd. By die lees van hierdie heerlike stuk het ek onthou van sweem deur semesters en osmoties leer van lieflike, loflike en liederlike dinge en deurgaans heilig oortuig te wees jy het die kosmos aan jou voete.

  • Ek hoop sy lees hierdie. Dis darem wonderlik as iemand iewers onthou hoe jy was At Seventeen. Of drie en twintig.

  • Thea Cloete Oberholzer

    Ek het dit gelees (by herhaling) met diep verwondering. Ek onthou myself anders - an outsider, ‘n donker flonkerende ster. Te alternatief - daarom dat Roos vir my so wonderlik was. Twee donker flonkerende sterre. Vandag stuur vriende foto’s vir my uit my jeug en ek dink: ek het nie geweet ek was so mooi nie ... ook maar goed. Net Roos kan so skryf. Soos sy van Leonard Cohen gesê het kan ek van haar sê: ek wens ek het eerste daaraan gedink om dit so te skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top