Rachel Ruysch

  • 0

“Rachel Ruysch” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Rachel Ruysch

Rachel Ruysch kyk na die dooie mol op vader Frederik se lessenaar. Die dier dryf droomloos in ’n fles met blou water en dit lyk asof hy die seën uitspreek oor ’n kudde, nes priester Calvyn tydens nagmaal. Den Haag se vernaamste tulpsmous, Lars, dra gereeld dooie gediertes aan vir haar vader, professor Frederik Ruysch, wat weer in ruil vir Lars betaal: twee stuivers vir ’n “vars” spesmaas uit Hollandse bodem, met al die ledemate in plek, en drie stuivers vir ’n dooie gedierte van elders. Veral vanuit Kaap de Goede Hoop kom daar vreemde spesies saam met die VOC-skepe wat Vader in vervoering bring. Vader lyk nooit só bly as priester Calvyn opdaag vir biduur nie. Rachel weet haar pa se studeerkamer is sy heiligdom en wetenskap sy geloof.

Daarenteen is die werkskamer van Rachel se grootvader, Pieter Post, nie bont en vreemd nie maar vaal en saai. Hy versamel nie dooie goed nie maar teken planne vir huise. Net laas week het die Haegse Post Tydingen Courant Grootvader kom besoek in sy studeerkamer. Oupa hou van fyn reguit lyne op papier. Hy sê Vader se nes is ’n skepping wat God nie in sewe dae kon uitdink nie. Nogtans is die twee boesemvriende. Die ganse familie kom elke Sondag na nagmaal bymekaar en dan eet hulle hutspot, rookworst of Friese Nagelkaas. Die mans drink advocaat, die vrouens vermaan die kinders en teen skemer begin die knechte op te ruim. Maandae keer algar terug na hul werkswinkels om getrou hul gulde te verdien.

Rachel ken haar vader se werkskamer soos die palm van haar hand: Daar is ’n hoek vir ruspes, miskruiers en skoenlappers. Hy laat lê die goeters in ’n kalkerige poeier sodat dit kan uitdroog, maar nie verkrummel nie. Sodra die goggas bros is, mag Rachel die insekte met speldjies vaspen teen die groot wit bord. Versigtig met sy inkpen skryf Vader die lang Latynse naam en datum by elke spesie. Daar is ook ’n tafelblad vir voëls, gerangskik van klein na groot, die grootste daarvan ’n nonnetjiesuil uit Zuid-Afrika. Om te verhoed dat die gediertes begin vrot en stink, spuit Vader die voëls in met ’n konkoksie wat hulle styf maak en na verf laat ruik. Niemand mag dan aan hulle raak nie, selfs Vader dra handskoene van fluweel sodat die veertjies lê presies soos hulle moet. Daar is ook ’n glaskas met spinnekoppe en slange wat haar gebroeders laat spaander, maar vir Rachel skrik dit nie af nie. So ook nie die fles met die gebreklike handjie van ’n kind nie. Rachel het beloof om nie met haar vingers te raak aan enige ding of dier in die kamer nie, en wanneer moeder Maria vra: “Rachel, waarmee kyk ons?” antwoord sy plegtig: “Met ons ogen, Moeder.”

Rachel ontvang tuisonderrig saam met haar susters. Anders as hulle, is sy nie gretig om te weef nie. Ook die kruissteek vind sy langsaam. Rachel het wel ’n netjiese greep op ’n stokkie houtskool, en soos haar pa, skuif sy namiddae in agter haar lessenaar en kies iets uit sy ateljee om te skets. Benewens geraamtes, insekte en gediertes is daar dikwels ook tulpe, bolle, knolle en stingels om te teken. Rachel verlustig haar in die taak om dit so akkuraat moontlik na te boots. Dis moeilik om korrels sand en fyn wortels met kryt te maak, maar vader Frederik wys haar telkens hoe: Hier druk jy te hard, daar kan jy wyer die lyn trek, so maak jy jou randjies skerp, Rachelkind. Hy praat sag en geduldig en bring sy neus tot reg teenaan die papier om te sien wat sy doen.

Rachel leer elke dag iets nuuts. Haar oë is wakker en blink wanneer Lars Tulpsmous nuwe skatte aflewer. Haar vingers is pal swart met houtskool en uiteindelik stem Vader in dat sy mag oorslaan na olieverf. Rachel blom! Sy het haar eie houtkissie en kwassie gekry met haar veertiende naamjaar, met blou, rooi en geel pigment. Sy sit vir ure in die ateljee en verf en waag dit selfs om verbeteringe aan haar vader se verfwerk uit te wys. As Moeder begin neul dat sy nie genoeg help in die huis nie, verduidelik Rachel hoe die son geskuif het en hoe sy dit wil vasvang op die doek. Gelukkig is Moeder vertroud met eksentrieke kunstenaars in haar midde en het in elk geval genoeg jongetjies om te hiet en gebied.

In 1675 is Rachel 15 en het reeds elke item in haar pa se werkskamer geteken. Haar ouers maak die besluit en Rachel is oorstelp: Sy vertrek na Amsterdam vir ’n vakleerlingskap by die vername Willem van Aelst. Rachel het een tas, twee chemise’e, ’n stomacher en haar fartingale. Willem neem die meisie in en wys haar sy ateljee. Rachel staan in verwondering: Op elke oppervlak is blomme, takke en vrugte in stapels neergelê. Sommige items is vars, ander het al ’n geruime tyd verwelk en verrot. Hierdie blommerangskikkings is deurmekaar en vreemd, so anders as wat sy dit ken. Tussendeur die plante is suurlemoene, druiwetrosse, leë mosselskulpe. Haar neus sukkel om al die reuke in die vertrek te akkommodeer. Haar oë gly oor die vuil vloer en op na die houtplafon; sy sien die skarniere van die houtrame vir die vensters, die gedrupte was van kerse wat laatnag gebrand het. Die kamer ruik na tabak, ontbindende blare en, vaagweg, stroopwafels. Dit is die bekende reuk van ’n kunstenaar se huis en Rachel voel haarself eg tuis.

Soggens voor eerste lig staan sy op, maak die bedpan leeg en gooi die donsdeken netjies oor haar katel. Sy neem ’n kers, stap af by die steil houttrappe en neem stellig posisie in agter die esel. Rachel dra ’n voorskoot, bespikkeld met olie en pigment in vele skakerings: ’n geskenk van moeder Maria. Die reuk van verf, verdunners, hout en lap is deel van Rachel, dit gaan lê in haar vlegsels, haar naels is kort en alewig gevlek. Maar Rachel gee nie om oor danse in die dorp met jonge knape nie of balrokke van sy nie. Rachel wil verf. Willem sluit dikwels by haar aan eers na middagete. Dan wys hy haar hoe om die blomme te rangskik dat dit nie styf lyk of plat lê nie. Sy luister fyn, drink elke brokkie wysheid van haar mentor in. En wanneer Willem haar eerste uitstalling reël, weet sy dat vader Frederik, moeder Maria en oupa Pieter sal kom om te sien wat sy gemaak het.

Vir haar eerste uitstalling besluit Rachel natuurlik op blomme. Sy neem iets van alles, gooi dit in ’n vaas en sit ’n swart doek daaragter. Sy begin kleure meng. As die prentjie te netjies is, speel sy deur ’n granaat oop te sny en dit teenaan die vaas te plaas. Selfs ’n oorryp piesang word gestileer. Ook gebruik sy jong tulpe in haar ruiker, die blare het nog nie eers begin oopvou nie. Die asimmetriese samestelling van haar ruiker prikkel iets botanies in Rachel, alhoewel sy ook anatomies en presies te werk wil gaan. Sy maak ’n kompromie: stele skets sy so akkuraat moontlik, maar ook so dies wat reeds verlep het. Op een doek bring sy verskillende stadiums van bot en verrot aan en versteek klein insekte in haar ruiker: ’n spinnekoppie of ’n ruspe daar. Rachel produseer uiteindelik 13 skilderye en skryf onderaan elkeen haar naam, sowel as haar ouderdom.

Die openingsaand van haar eerste uitstalling word bygewoon deur Rachel se familie en kunstenaarvriende van Willem. Buiten haar moeder, is Rachel die enigste vrou. Die mans staan ’n kring om die jonge meisie. “Waarom skilder vroumense net blomme en kos?” vra die eerste een. “Ons verf dit wat ons ken, gewoonlik maar iets uit die tuin of kombuis,” antwoord Rachel. Die mans lag. “Maar ek moet juis oefen aan my anatomiesketse. Enige manlike vrywilligers wat vir my sal sit?” Die mans lag weer, sy geniet dit om hulle te vermaak. “Waarom lyk jou blomme so onnet?” vra ’n ander. “Omdat die natuur nie formeel gerangskik is nie,” antwoord sy. “Dink net hoe mooi is ’n onbevange bos hare, hoe interessant die voue van ’n warm laken ...” Een of twee mans gee ’n wolwefluit. Moeder lig haar wenkbroue, maar Rachel weet sy is nie werklik kwaad nie. “Mevrou Ruysch ...” “Mejuffrou,” korrigeer sy die lang man ’n entjie verder. “Verskoon my, mejuffrou Ruysch. Daar is spinnekoppe op stingels en blomkoppe wat verrot: Wat sê jy vir die kyker?” Rachel vind sy oë, die oë wat detail raaksien. Sy merk ook dat die lang man se vingerpunte gevlek is. “Memento Mori,” sê Rachel. Die stilte dui daarop dat sy moet verduidelik. “Ek sê ek is ’n mens en vrou, dat lewe bestaan uit seisoene, dat lewe en dood deel is van dieselfde bestaan, dat ons kinders baar en groei en oud word en doodgaan, nie altyd in daardie volgorde nie, maar dat alles deel is van dieselfde prentjie. Dat ek vuil is, en mooi, terselfdertyd. Dat ek asemrowend kan wees ten spyte van die dag se stank. Dat ek warmbloedig is, energie het, lewe en dat, en dat ...” Elke persoon in die kamer kyk aandagtig na Rachel, sy sien hoe hul nekke vooroor leuen om beter te kan hoor. “Ek sê dat ek Rachel Ruysch is en dat ek sal skilder tot die dag van my dood.” Vir ’n enkele oomblik is dit nog stil, en dan bruis die vertrek met applous. “Bravo! Bravo!” Die man met die gevlekte vingerpunte se oë hou haar vas en Rachel voel vir die eerste maal in haar lewe verower.

Teen die tyd dat Rachel 18 is, is die waglys vir haar werk vier weke lank. Elke keer wanneer sy ’n nuwe skildery begin, stap sy na die tafelblad. Sy kies telkens swart fluweel om te drapeer teen die agtergrond, en dan ’n houtstomp of vaas as basis vir die rangskikking. Sy kies ’n versameling takke, blare, blomme en blomsoorte, en steek een of twee goggas vas op onverwagse plekke. Vanmôre het die tulpsmous homself oortref: Uit die hoop verruklike blomme om van te kies, was daar bittergousblom, tuinaffodil, papawers en madeliefies. Die dahlias is lewensgroot en die witbotterblomme se koppies nog toe. Perfek! Rachel werskaf tot laatnag met die samestelling. Haar rug is gedraai na die deur van die ateljee, maar sy hoor skarniere draai. Toe sy omkeer, staar sy vas in die man met die gevlekte vingerpunte, die man by haar eerste uitstalling. “Bolsche bol en wyn, hoe klink dit, mejuffrou Ruysch? My naam is Juriaen ...” “Pool,” voltooi Rachel sy sin. “Welkom, meneer Pool, ek het gewag vir jou.”

Dit is die volgende winter. Rachel besluit om klaar te maak vir die dag. Juriaen het reeds die tweeling gebad en stadig maar seker kom die woeligheid tot rus. Sy staan by die wasbak en vryf die verf van haar vingers af, sy wil nie hê dit moet afgee op die linne wat sy later nog moet uithang nie. Sy voel die saligheid, die stilte, en dink dat sy vanaand lus het vir kibbeling. Juriaen het juis vanoggend vir hulle by die mark gaan koop. Hulle dae van krenterig wees is verby: Albei van hulle se skilderye is in aanvraag. Sy verdien weliswaar dubbeld wat Juriaen verdien, maar hy staan in met die kleintjies sodat sy onverstoord kan werk. Met haar salaris alleen kan hulle boonop ’n knecht bekostig. Rachel is besonders trots op haar jongste werk: Die rangskikking bestaan uit rose, aandblomme, doringtakke, mielies en druiwe. Sy het ook verrotte suurlemoene in hul erf opgetel en lê dit aan die voet van die rangskikking. Sy dink sy moet vader Frederik se nuwe mikroskoop leen, sy wil seker maak oor die geel jassie van die heuningby en mooi oplet na die oë wat swart en wyd sit teen die kop. Sy het onlangs begin eksperimenteer met regte mos en skoenlappervlerke wat sy doop in olieverf en dan mee skilder. Sodoende kry sy die allerfynste lyntjies getrek. As als verloop volgens plan, gaan sy hierdie skildery inskryf vir die bekendste kunsveiling in Amsterdam, aangebied deur die Amptelike Kunstvereniging. Vermeer gaan deelneem, Clara Peeters, Jan van Huysum, en natuurlik, Rembrandt. Sy hoor Rembrandt se nuutste werk het verkoop vir 400 gulde.

Rachel klim laataand in die kooi, gedaan, maar toe Juriaen haar in haar nek begin soen, draai sy na hom, maak haar hare los en trek haar nagrok bo-oor haar skouers. “Mevrou Ruysch, jy ruik na sitrus en soet blomblaar en terpentyn. Eenvoudig onweerstaanbaar.” Nege maande later skenk Rachel geboorte aan hul eerste seun, bereik die ouderdom van 47 en werk vir 10 uur per dag aan haar skildery vir die groot veiling, getiteld Blomme, ’n stillewe.

Die aand van die Amptelike Kunstvereniging se veiling stap Rachel en Juriaen op met die trappe van die stadsaal. Binne-in is die lokaal swierig verfraai: Kerse en ruikers pronk op wit tafeldoeke, keurige versnaperings en wyn word aangebied in oorvloed. ’n Vioolspeler staan eenkant en speel vrolike deuntjies. Behalwe vir lede van die Amptelike Kunstvereniging, is die burgemeester van Amsterdam, vername kunstenaars en prominente lede van die samelewing ook teenwoordig, op spesiale uitnodiging natuurlik. Die veiling skop af en dis ’n jolige affêre. Die afslaer se stem bulder bo die gedruis van die groep mense en telkens slaan hy die hamer as ’n prys beklink is. Alles gebeur so vinnig, Rachel se wange gloei van opwinding. Met elke kunswerk wat op die verhoog aangebring word, verduidelik die afslaer kortliks iets omtrent die kunstenaar, daarna oor die kunswerk en dan begin die bieëry. Rachel en Juriaen waag dit om soms hand op te steek, uit pure ondeundheid, en is dan merkbaar verlig as iemand anders ’n hoër prys aanbied. Al kan hulle nou kunswerke bekostig, het hulle eenvoudig nie meer plek in die ateljee nie. Hulle lag uitbundig, geniet die mense en samesyn en die klein bietjie senuweeagtigheid wat Rachel aanvanklik gekwel het, is vergete.

“Dames en here, ons kom nou by die tweede laaste kunswerk vir vanjaar, deur niemand anders geskilder nie as Rembrandt Harmenszoon van Rijn.” Daar is ’n kollektiewe “ah” deur die mense. “Al die pad uit Leiden bring hy vir ons: Batseba by haar bad, voltooi in 1654.” Die afslaer praat ’n volle vyf minute oor Rembrandt en sy sukses, en toe hy begin met die bieëry, sit hy die eerste bedrag in op 200 gulde. Daar is wye belangstelling, hande skiet hier en daar die lug in, die afslaer moet spook om voor te bly. Hy praat in ’n rammelstem en die oë rek behoorlik toe hy die bedrag van 400 gulde bereik. Dit blyk vir Rachel of twee here in die stryd gewikkel is om die skildery te bekom: Nes dit lyk of dit die einde is, lig een sy hand en die prys word met nog 10 gulde verhoog. Uiteindelik val die hamer op 500 gulde, daar is luide applous en Rachel weet: Nou is dit my beurt.

Die esel word tot in die middel van die verhoog gedra, die afslaer maak sy keel skoon en gee ’n beskrywing van Rachel en haar kunswerke. Hy gaan voort: “Vir die Amptelike Kunstvereniging van Amsterdam is dit vanaand ook ’n voorreg om lidmaatskap aan te bied vir hierdie besonderse vrou, ’n eerste in ons geskiedenis. Ons verwelkom jou, Rachel Ruysch, jy is ’n kunstwonder en ons eie kunstheldin.” Daar word gejuig, sy voel in ekstase, in die fleur van haar lewe, en sien haarself soos wat sy haar skilderye sien: verruklik, lewendig, deurleef, asemrowend mooi. ’n Stilte daal weer neer. Die sluier van haar werk word stadig gelig tot die volle skildery sigbaar is in die middel van die verhoog. Dis asof die werk saggies sing. Dit is die allermooiste skildery: ’n droom van kaktus, naaldekoker en akkedis wat saam met Turkse tulpe blom teen ’n swart agtergrond – ’n visuele ontploffing, ’n meesterstuk.

Sy moes geweet het, die eerste hand in die lug is dié van Juriaen. Sy glimlag vir hom, maak vir hom ’n kamma-kwaai gesig en wag. Nog ’n hand skiet die lug in. Weer bie Juriaen. Stadig maar seker kom nog ’n paar hande in aanmerking, die afslaer gesels nou teen ’n rapsie vinniger tempo. Rachel haak in by haar man, ook om sy arm nou stewig vas te hou. Sy waardeer sy lojaliteit, maar sy wil haar werk dophou, sien wat dit bekom op meriete. Juriaen verstaan dadelik en steek nie weer hand op nie. Maar die afslaer bly gesels. Soos hy al vinniger praat, speel die vioolspeler ook sy deuntjie in accelerando. Die kunsliefhebbers staan nader. 300 gulde. Dis die meeste wat sy nog verdien het met ’n skildery. 350. 360. 370. Rachel se hartklop stoot ook op. 380. Sy besef sy knyp Juriaen se arm so styf vas dat hy haar greep moet wikkel om te verslap. Dit hou nie op nie, dit voel of sy droom. Later trek die afslaer by 600 gulde. Dis meer as wat Rembrandt gekry het! Sy voel of sy wil gil. Haar kop jaag, sy sien voor haar oë elke enkele takkie wat sy nog ooit geskilder het. Sy sien die irisse van haar kinders. Sy dink aan die verf in Juriaen se naels, sy wieg soos die lote van haar stingels, sy ruik die wortelsisteem van ’n raap, sy dink aan vader Frederik se mol in die blou water, sy dink aan haar eerste palet, sy wil oopbars van lewe soos ’n blomblaar in die son! Die hamer val neer. “1000 gulde, dames en here, toegestaan aan Rachel Ruysch vir haar portret: Blomme, ’n stillewe.

Op die ouderdom van 83 blaas Rachel haar laaste asem uit. Sy word begrawe langs Juriaen en sewe van hul kinders. In die grond by haar graf plant haar naasbestaandes appelsaadjies, pruimpitte, grassaad en tulpbolle, kompleet asof hulle tuinmaak. ’n Jaar later blom die tulpe rondom die leiklip met enkele woorde gegraveer:

3 Junie 1646–12 Augustus 1750
  Rachel Ruysch
  Memento Mori

*

Die skildery in die lokprent is ’n stillewe deur Ruysch (1700), tans in die Mauritshuis se versameling.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top