Raaiselman deur Salma Swanepoel: ’n resensie

  • 0

Titel: Raaiselman
Skrywer: Salma Swanepoel
Uitgewer: Romanza
ISBN: 9781779871480

Ek het sommer baie lekker aan Salma Swanepoel se Romanza, getiteld Raaiselman, gelees. Volgens die skrywersbio voor in die boek strek Swanepoel se wortels van die Wes-Kaap tot die Vrystaat. Op die oomblik woon sy saam met haar eggenoot, kinders en troeteldiere naby die see. Dit is haar passie om liefdesverhale te skryf wat haar lesers heerlik laat ontspan.

Raaiselman is ’n teer, onopgesmukte en skoon liefdesverhaal – die tipe storie waar die leser van meet af aan duim vashou dat die held en heldin by mekaar sal uitkom. Jy weet die boek sal ’n gelukkige einde hê, maar steeds ... ’n Mens hoop en wens die tweetjies sal eerder gouer as later besef dat hulle vir mekaar bedoel is en dat hulle dan lank en gelukkig saam sal wees.

Ek kon uit ’n hele paar Romanzas kies watter een ek wil lees. Raaiselman se onkonvensionele openingsin het dadelik my aandag getrek. “Ek dink ’n man behoort darem voortande te hê.” Dit het my laat regop sit en ek het sommer net gewéét hierdie een gaan ’n lekkerleesboek wees. En ek was reg. Dis ’n mooi storie wat teen ’n goeie pas uitspeel, met net genoeg misterie om geensins voorspelbaar te wees nie.

Beide die held en heldin is geloofwaardige karakters waarvan ek dadelik gehou het. Hulle is albei goed afgeronde karakters sonder te veel emosionele bagasie. Albei weet wat hulle uit die lewe wil hê. Alana Rothman is ’n skoonheidskundige wat haar eie salon bedryf, en Roux Hougaard, ’n nuwe intrekker op die dorp, is ’n elektrisiën by ’n fabriek wat motoronderdele vervaardig. Roux beland op Alana se masseertafel vir ’n rugmassering en later kom hy vir nog twee ander behandelings. Alana woon meeste Saterdae troues by om die bruid en haar gevolg te grimeer en loop haar daar ook in Roux vas. Hy het ’n outydse motor by sy oupa geërf en dié is in aanvraag as bruidsmotor.

Dit neem nie lank vir Alana om aangetrokke tot die aantreklike Roux te voel nie. Hy is ’n onderhoudende geselser, uitstekende danser, is hoflik en kom baie goed met haar ouers en ouma oor die weg. Selfs toe haar huismense vir ’n paar dae weggaan om by familie te kuier en haar ouma se niggie, tannie Lillian, by Alana kom oorslaap, is Roux die perfekte heer. Hy maak selfs tyd om saam met haar en die ou dame bordspeletjies te speel om hulle geselskap te hou. Sommer gou is Alana smoorverlief. Die aanduidings is daar dat Roux dieselfde oor haar voel. Hulle gesels lekker met mekaar en dis duidelik dat die twee se pad na mekaar se harte sonder enige duwweltjies is.

Maar daar is tóg ’n vlieg in die salf. Iemand is besig om die salon te saboteur en swart te smeer op sosiale media. Iets wat Roux sê, laat Alana snuf in die neus kry. Waarom het die eerste insident plaasgevind op die dag dat hy vir sy eerste behandeling na haar salon gekom het? Meteens dui alles daarop dat Roux die skuldige is. Hy erken dat hy foto's van die salon geneem het. Boonop kry Alana verkoue en hulle kan mekaar vir dae lank nie sien nie. Haar hart is bitter seer en sy is erg teleurgesteld in hom. Hoe kon sy haarself so met hom misgis het!

Op hierdie stadium lyk dit of die ontluikende liefde ’n vroeë dood gesterf het. Die leser kan nie help om saam met Alana te rou oor wat kon gewees het nie. Hoe vergewe Alana sulke verraad? Dit is net ondenkbaar dat die verhouding wat net-net tussen haar en Roux wou posvat, enigsins ’n kans staan om hervat te word. Hoe jammer tog!

Op bladsye 84 en 85 word Alana per ongeluk Lara. Alana se van word ook afwisselend as Rothman en Rothmann gespel. Afgesien daarvan is die boek taalkundig goed versorg.

Dit het my opgeval dat Alana en die twee ander vroue wat saam met haar die skoonheidsalon bedryf, koek eet sodra hulle ’n kans kry. Alana se ma-hulle en tannie Lillian glo ook aan lekker eet en kuier. Ek was heeltyd honger terwyl ek die boek gelees het. Dit was slim van die skrywer om kos te gebruik om haar karakters en lesers emosioneel saam te snoer. Ons almal weet immers hoe heerlik vertroostend ’n eetdingetjie is.

Die skrywer maak melding van mense in die regte lewe, byvoorbeeld Aletté Winckler, Stefaans Coetzee en Minki. Dit alles gee aan die liefdesverhaal ’n kontemporêre, relevante geur.

Die agtergrondinkleding is puik. Dit moet ’n milieu wees waarmee die skrywer vertroud is, andersins het sy gesorg dat sy deeglik navorsing doen. Die daaglikse roetine en behandelings in ’n skoonheidsalon word getrou uitgebeeld. Selfs vir my, iemand wat glad nie vir skoonheidsbehandelings gaan nie, het die salon as ’n vriendelike dog professionele plek oorgekom. Swanepoel se beskrywings van die grimeersessies vir bruide en hul gevolge en alles wat daarmee gepaard gaan, is beslis geloofwaardig.

Lees Salma Swanepoel se Raaiselman met ’n geruste hart. Ek het lekker daaraan gelees en die storie geniet. Ek sal ook uitkyk vir nog boeke uit Swanepoel se pen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top