50/50
Regisseur: Jonathan Levine
Kamerawerk: Terry Stacey
Rolverdeling: Joseph Gordon-Levitt, Seth Rogen, Anna Kendrick, Anjelica Huston, Bryce Dallas Howard
Looptyd: 100 minute

Dat hierdie film konneksies het met die skeppers van Sideways en About Schmidt beloof al veel. Moet egter nie ’n komedie verwag soos die lokprent – of sommige resensente – aandui nie.
Dis ’n fyngestemde drama oor ’n 27-jarige man, Adam (Joseph Gordon-Levitt), wat met ’n seldsame vorm van ruggraatkanker gediagnoseer word. Soos omtrent enigeen van ons sal reageer, kan hy dit nie glo nie, voel hy dat daar iewers ’n groot fout is. Hy leef dan gesond, rook nie, drink nie en is hardwerkend en ordentlik. Hy’t nog ’n vaste meisie ook en hulle verhouding gaan oor meer as net seks, soos hy aan sy vriend Kyle (Seth Rogen) verduidelik. Dié het omtrent net seks op die brein en sien dadelik die voordele van ’n kankerstatus om meisies op te tel.
Soos Adam se siekte vorder, verskerp die fokus op sy verhouding met die mense in sy lewe, soos sy versmorende ma (Anjelica Huston) en Katherine (Anna Kendrick), die jong sielkundige wat hy gaan sien.
50/50 bied ’n subtiele maar terselfdertyd vlymskerp ontleding van bevoorregte Westerlinge se lewe wanneer daar ’n krisis oor hulle pad kom. Alles ánders gebeur dan so maklik en vanselfsprekend, maar voor die vrees vir die dood – en die dood self – staan mense magteloos.
Puik spel deur Joseph Gordon-Levitt en Anna Kendrick maak hierdie film beslis die kyk werd.

