Prysgeld van R500 000 vir wetenskaplike werk in Afrikaans

  • 0

jhmprys650

Prysgeld van R500 000 sal van aanstaande jaar gesamentlik deur Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), die Universiteit Stellenbosch en Naspers toegeken word aan ’n akademikus of navorser wat in Afrikaans werk en sodoende die taal se aansien as wetenskap- en akademiese taal uitbou.

Die Jan H Marais-prys, die grootste van sy soort vir Afrikaans, is Saterdagaand (30 Mei 2015) deur prof Andreas van Wyk, voorsitter van HJMNF, bekendgestel by ’n dinee waar die 100-jarige bestaan van die Fonds gevier is.

Die dinee het by die Jannie Marais-huis op Coetzenburg plaasgevind. By die geleentheid is ook erkenning gegee aan “Stellenbosch se weldoener”,  Johannes Henoch Marais (1851-1915), wat Saterdag presies 100 jaar gelede oorlede is.

Die oggend is ’n kranslegging by Marais se graf op Papegaaiberg gehou.

hetjan-3

Bun Booyens, Conrad Sidego, Esmaré Weideman, Andreas van Wyk en Wim de Villiers by die kranslegging.

 

"Ek moet egter dadelik ook vra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Waar is die groot pryse vir akademiese skryfwerk in Afrikaans, waar is die finansiële aansporing vir navorsingswerk in Afrikaans? Dit kan tog nie net van die Universiteit kom nie. Bygesê, in hierdie verband verrig LitNet baanbrekerswerk."

- Wim de Villiers in 'n onderhoud met Jean Oosthuizen, LitNet

“Hierdie prys sal akademiese  werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans bekroon,” het Van Wyk gesê. “Die prys word in samewerking met Naspers en die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied, wat elk tot die prysgeld bydra.”

Van Wyk het verduidelik die saadjie vir die prys is deur prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, geplant.

“Ná sy aanwysing as die volgende rektor van die US verlede jaar, het hy in ’n onderhoud gevra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Hy het daarop gewys dat finansiële aansporing kan nie net van die Universiteit af kan kom nie. Hierdie prys is ’n reaksie op sy uitdaging,” het Van Wyk gesê.

Beoordeling sal hanteer word deur ’n komitee van vooraanstaande plaaslike en internasionale akademici en wetenskaplikes wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns saamgestel sal word. Die eerste oorhandiging sal op 26 Mei 2016 op Stellenbosch plaasvind. Die prys sal elke jaar op Stellenbosch oorhandig word. HJMNF stel geen vereistes oor hoe dit aangewend moet word nie en die ontvanger kan dit na goeddunke gebruik.

Werk in alle dissiplines – geesteswetenskappe, natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe en tegnologie – binne en buite Suid-Afrika kan genomineer word.

hetjan650

Die Fonds het in 1915 tot stand gekom danksy ’n erflating van Jan Marais. Danksy versigtige en deurdagte bestuur staan dit vandag meer as R1 miljard sterk.

Dit was ook danksy oom Jannie – soos studente hom graag noem – se nalatenskap van £100 000 (vandag sowat R100 miljoen werd) dat die US in 1918 uit die Victoria Kollege kon ontstaan. Marais het ook kort voor sy dood £30 000 geskenk vir die totstandkoming van die destydse Nationale Pers Beperkt (vandag Naspers) en die dagblad De Burger (vandag Die Burger).

HJMNF skenk jaarliks meer as R20 miljoen aan skole, universiteitsprogramme, hospitale, kultuurprojekte, regsklinieke en verskeie ander organisasies en projekte in veral Stellenbosch. Deur sy betrokkenheid by onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en ondersteuning aan uitvoerende kunstenaars strek die hulp van die Fonds ook landswyd.

Die boek Nalatenskappe sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers, deur die historikus Pieter Kapp, emeritus-professor aan die US, is by die dinee bekendgestel. Die boek is deur Tip Africa Uitgewers uitgegee. Uittreksels uit Die goeie gewer, Herman Binge se dokumentêre film oor Jannie Marais, is ook by die geleentheid vertoon.

Twee uitstallings wat die lewe van Jannie Marais en sy broers uitbeeld, is tot einde Junie in onderskeidelik die US se biblioteek en die Jannie Marais-huis (deesdae die setel van Maties Sport) te sien.

hetjan-1

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top