Professor T op BritBox: ’n TV-resensie

  • 0

PROFESSOR T (BritBox)
Met Ben Miller en Emma Naomi
Regie: Dries Vos

.............
Moenie vir Professor Jasper Tempest vlak kyk nie. Mense wat al te dikwels na flou, onwaarskynlike nabootsings van ’n whodunit gekyk het, om dan net verveeld na ’n ander program oor te skakel lank voor die skuldige agter tralies beland het, mag hul tone versigtig in hierdie fliekdam steek. Maar wees nie bevrees nie. Dit is stukke beter as vele ander nabootsings wat jy al gesien het.
................

Moenie vir Professor Jasper Tempest vlak kyk nie. Mense wat al te dikwels na flou, onwaarskynlike nabootsings van ’n whodunit gekyk het, om dan net verveeld na ’n ander program oor te skakel lank voor die skuldige agter tralies beland het, mag hul tone versigtig in hierdie fliekdam steek. Maar wees nie bevrees nie. Dit is stukke beter as vele ander nabootsings wat jy al gesien het.

Die draaiboeke is deeglik gekonstrueer en weldeurdag, die regie formeel en statig, en die ontknopings verrassend intelligent en sonder aansittery of te veel vals misleidings.

Boonop is dit oorspronklik en bekyk die eeu-oue speurresep uit ’n nuwe oogpunt en konfronteer die kyker met ’n karakter so eksentriek, jy sal ’n hele episode neem om aan die strak, onvriendelike man gewoond te raak. Maar vanaf episode 2 ontdooi hy soos jou yskas gedurende beurtkrag. En begin ’n mens hom nie alleen respekteer nie, maar ook van hom hou.

.............
Professor T is gebaseer op die hoogs gewilde gelyknamige Belgiese televisiereeks wat al deur verskeie ander Europese lande oorgemaak is, en nou het die Britte hom beetgekry en eintlik eers bekend gemaak. Dit is donker, moeilik, verg konsentrasie maar bowenal geduld. Tog, wanneer dié toonlose, stroewe man se brein eers oortyd begin werk om ’n moord op te los, mag jy verslaaf raak aan hom en sy metodes.
.................

Professor T is gebaseer op die hoogs gewilde gelyknamige Belgiese televisiereeks wat al deur verskeie ander Europese lande oorgemaak is, en nou het die Britte hom beetgekry en eintlik eers bekend gemaak. Dit is donker, moeilik, verg konsentrasie maar bowenal geduld. Tog, wanneer dié toonlose, stroewe man se brein eers oortyd begin werk om ’n moord op te los, mag jy verslaaf raak aan hom en sy metodes. Agatha Christie sou trots gewees het.

Nes Hercule Poirot was die eksentrieke Professor Tempest eers Belgies. Maar in die Britse gedaante, met die uitstekende Ben Miller wat net sóms toelaat dat sy menslikheid deurskemer, raak hy soos daardie moedswillige nefie van jou wat jy  nie kan verdra nie, maar op ’n dag eensklaps bevriend wanneer jy hom verstaan. Die karakter is soos om deur ’n dik boek te blaai, en dit val onverwags op ’n foto oop waarop die man sowaar glimlag!

Jasper Tempest is ’n geniale professor in kriminologie aan die Cambridge Universiteit wat sy studente beledig, as oninteressant afmaak en nie sy talente of breinkrag werd is nie. ’n Speurder, Lisa Donckers (die gesaghebbende Emma Naomi), en haar kollega Dan (Barney White) wend hulle na hom om ’n reeks moorde op te los waar geen leidrade gelaat is nie.

Wat maak hierdie reeks so anders as wat hierdie opsomming dalk voorgee? Want dit ondersoek tot in die fynste detail hoe die professor se geniale logika werk. Hoe hy feit van fiksie onderskei, oëverblindery ontmasker, die geringste leidraad raaksien en verby die ooglopende vals misleidings kyk.

Boonop ken hy die menslike psige maar al te goed. Het hy al die statistieke in sy kop. Hy weet hoeveel moordenaars gif gebruik om moorde te pleeg, wat ’n misdaadtoneel verraai, wat misgekyk word soos in episode 2 wanneer ’n skoenafdruk ’n geheim verklap wat so deeglik ontleed word, dis onmoontlik om die professor nie te bewonder nie. En hy weet ook watter gesigsuitdrukkings dikwels die skuldige verraai. Selfs ’n handbeweging.

Stadig maar seker ontrafel die professor die geheime en snuffel die skuldiges emosieloos en sonder simpatie uit. Die oplossing van die moord blyk dan eintlik heel eenvoudig te wees. Maar Tempest leer die kyker (en ander speurders) hoe om die besonderhede en inligting noukeurig te bekyk en te ontleed.

Maar hier kom die eintlike lekkerte van hierdie taai tameletjie. Nie sedert Poirot was daar so ’n vlymskerp, intelligente, meedoënlose, noukeurige ontleder van ’n moordenaar se psige nie. Maar! Hy pluis sy ontledings in ’n enkele stoel op die dak van ’n toringgebou uit, dans later die tango daar saam met ’n voormalige minnares, dra altyd handskoene, selfs wanneer hy klasgee, en dwing sy studente om op hul tone te wees. En hy loop op die reguit lyne op ’n teerpad!

Dan probeer hy sy oordrewe, senuagtige ma (Frances de la Tour) op die vreemdste, donker-komiese maniere ontduik. En sy woonstel en kantoor is so klinies steriel, nie eers enige moderne skoonmaakmiddel sal ’n haartjie iewers teëkom nie.

Leunstoelspeurders mag ook aangemoedig word om moordsake vanuit ’n nuwe perspektief te beskou, en om die ragfyn werkings van ’n kriminele brein te ondersoek en selfs te respekteer. Hier mag jy nie een raampie van die reeks miskyk deur weg te kyk nie.

Raak gefassineer deur ’n genie wat nie ’n duiwel omgee of jy van hom hou of nie. Wat aanvanklik in episode 1 blyk geen persoonlikheid te hê nie, sodat moordenaars hom nie om die bos kan lei nie, en dan by die polisie as raadgewer aansluit en om self te ontdek dat hy eintlik ook maar net mens is met ’n leë yskas en ’n koue bed!

Professor T sal die bloue moord uit jou irriteer tot jy uiteindelik respek en bewondering vir hom kry. Probeer dit! Op BritBox.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top