Prince Albert Leesfees

  • 0

Die Prince  Albert-biblioteek vier vanjaar sy 150ste bestaansjaar met ’n opwindende Leesfees  oor die naweek van 9 tot 11 November – wat fokus op pryswenner-spanningsverhale, aktuele onderwerpe en skerpskutter-joernaliste. Dit is nog ’n aanloklike aktiwiteit in hierdie besonderse Karoodorp wat sy 250ste jaar aan die voet van die magtige Swartbergpas vier.

Corina van der Spoel, aanbieder van RSG se Skrywers en boeke, is die organiseerder. Naomi Meyer het haar oor die Leesfees uitgevra.

Baie dankie dat jy tyd in jou besige program maak om my vrae te beantwoord – terwyl jy radioprogramme aanbied en nou ook die Prince  Albert Leesfees organiseer. Met eerste oogopslag is my indruk oor die Prince Albert Leesfees dat hier ’n sterk klem val op mense wat ’n konneksie met die dorp het, en ook onderwerpe wat die mense van die omgewing in die besonder sal prikkel. Is my gevoel reg? En wat is jou persoonlike verbintenis met Prince Albert?

Ja, daar is verskeie skrywers en kunstenaars wat in die omgewing van Prince Albert woon, en ons wou hulle graag betrek, maar ook wyer kyk na wat relevant of interessant mag wees vir die gemeenskap daar. Ons het die fees begin op ’n klein skaal – ek beskryf dit graag as ’n fees op ’n menslike skaal. Ons moes ook aanbied wat finansieel sin maak. Ons het net een borg en dit is die Writers’ Guild.

Ek besoek Prince Albert sedert 2008 gereeld vir vakansie  en ek dink dit is ’n fantastiese plek, so tussen die berge en die Groot Karoo, waar jy net tot rus kan kom. Ek het vriende gemaak met van die inwoners wat my gevra het om te kom help reël aan hulle groot Leesfees. Die dorp is klein genoeg dat besoekers gesellig kan wandel van lokaal na lokaal, tussenin heerlike kos kan eet of ’n glas plaaslike wyn kan drink en dan weer aanstap na die volgende boekegeleentheid. Dis my idee van plesierigheid!

Prince Albert vier vanjaar sy 250ste verjaardag. Hoe dink jy sal die Leesfees bydra tot die feesvieringe? En waarom ’n leesfees?

Prince Albert se openbare biblioteek vier ook vanjaar sy 150ste bestaansjaar en boonop is die plaaslike koerantjie, Die Prince Albert Vriend / The Prince  Albert Friend, ook 100 jaar vanjaar. Die plaaslike Writers’ Guild vier hul 10de bestaansjaar, dus is daar baie redes om ’n fees te hou rondom lees en om die passie van die geskrewe woord met inwoners en besoekers te deel. Die biblioteek is die vierde oudste in die Wes-Kaap en speel ’n belangrik rol in die dorp deur sy proaktiewe bibliotekaris, Reinie Smit. Op enige tyd van die dag sal jy die inwoners, oud en jonk, in die biblioteek vind. Dit is veral wonderlik om te sien hoe kinders na die biblioteek stroom in die middag. Dus is die opening van die Prince Albert Primêr se biblioteek gedurende die Leesfees ’n hoogtepunt. Ons wil baie graag  die plesier van lees hier op die platteland aanmoedig. Wat het DR Seuss gesê? "The more you read, the more things you will know. The more that you learn, the more places you'll go."

Ek sien die name van Louise Smit, Carel van der Merwe, Maritz Spaarwater, Bernadette le Roux, Sydda Essop, Tim Cohen, Andrew Brown en David Welsh op die program. Hoe het julle besluit watter skrywers om te nader? Wat hierby aansluit: ek sien temas soos hidrobreking op die spyskaart. Het jul dalk eers aan aktuele sake gedink en toe die skrywers gekies?

Ons het ons laat lei deur wat die jongste boeke is wat gepubliseer is en dan ook ’n konneksie gesoek met Prince Albert, hetsy dat die persoon nie te ver van Prince Albert af woon nie of een of ander band het met die dorp, of dat die onderwerp van belang is vir die gemeenskap.

’n Plaaslike laerskool se biblioteek word, soos jy pas genoem het, by hierdie geleentheid geopen. Kom die kinders nog al die jare sonder boeke reg? Is dit ’n toevalligheid dat die opening van die biblioteek met die fees saamval?

Die skool se biblioteek is deur Linda Fodor begin met die hulp van Edulis. Die biblioteek word al meer as twee jaar lank gebruik, maar ons het besluit om die “grand opening” te hou sodat dit saamval met die Leesfees.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het twee jaar gelede ’n kompetisie gehou tussen die skoolbiblioteke, en Prince Albert Primêr se biblioteek is aangewys in die 3de plek. (Daar was ook 'n kategorie vir die beste skoolbibliotekaresse, waar Linda Fodor 1ste geplaas is). Dit alles gee ons goeie redes om die nuwe biblioteek met ’n fanfare te open.

As jy een rede moet kies waarom mense vanuit alle windrigtings hul motors moet pak en die naweek van die 9de November Prince Albert toe moet ry, wat sal jy as die hoogtepunt kies?

Om te kom deel in die wonder van boeke, berge, waterstrome, mense, spoke, sterre ... Die dorp is ’n gelukspakkie!

Lees die program van die Leesfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top