President Zuma se kabinet

  • 3

'n Kabinet (Bron: http://demenglog.com/cabinets/cartoon-pick-of-the-week-procartoonists.html)

President Jacob Zuma se nuwe kabinet is nie net te groot en lomp nie, maar dit bevat ook te min versoeningselemente soos verpand in sy inhuldigingstoespraak.

Sprake van ’n kleiner kabinet het nie gerealiseer nie. Met Zuma se kabinetsaankondiging Sondag het ek die name van die uitvoerende gesag neergeskryf. Die aflees van name van adjunkministers het my uitasem gemaak. Ek moes ophou skryf.

Ek was geskok met die 35 ministers en 36 adjunkministers. Hoekom so 'n groot kabinet? Het die land genoeg geld vir die salarisse, behuising, vervoer, personeel en ander voordele van kabinetslede?

Zuma se beweegrede vir die aanstel van ’n uitvoerende gesag van 74 lede is nie heeltemal duidelik nie, maar dit is beslis nie in die beste belang van die land nie. ’n Groter kabinet beteken nie noodwendig goeie en doeltreffende regering nie. ’n Kleiner kabinet kon meer doeltreffend gefunksioneer het. Dit sou ook die belastingbetaler ’n helse klomp geld gespaar het.

In sy inhuldigingstoespraak verlede Saterdag by die Uniegebou in Pretoria het Zuma tereg gewag gemaak van die belangrikheid van die voortsetting en begronding van die versoeningsprojek in die land. Hy het presidensieel gelyk, sy toespraakinhoud was goed en hy het verbasend gemaklik voorgelees.

Die deurlopende tema van versoening in sy inhuldigingstoespraak het egter ongelukkig nie in die aanwysing van sy kabinet neergeslag gevind nie. Ongelukkig suggereer die onderliggende nuanses van dié aksie dat Zuma in sy tweede termyn as president die Madiba-versoeningsprojek nie geesdriftig gaan uitbou, onderhou en bevorder nie.

Suid-Afrika is nog steeds, weliswaar in ’n al hoe mindere mate, ’n ras- en etnies-verskeurde en gepolariseerde gemeenskap. Dit ten spyte van al die verbeteringe met die bevordering van nasionale samehorigheid sedert 1994.

Dit sou dan heel gepas gewees het as Zuma dié werklikheid in gedagte gehou het met die aanwysing van die kabinet om die dreigende ontsporing van die versoeningsprojek teen te werk. Maar die President het hopeloos te min bruin mense, Afrikaners en leiers van opposisiepartye in die kabinet aangestel. Hy het liewer die kabinet met alliansievennote gelaai. Is die groter prentjie van ras-, etniese en politieke inklusiwiteit (doelbewus?) vergeet?

Zuma het ’n belangrike geleentheid gemis om daadwerklike en praktiese uitvoering aan sy versoeningsbelofte by die Uniegebou te gee.

Die President se boodskap van “radikale sosio-ekonomiese transformasie” aan die een kant en die spoedige implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) aan die ander kant is verwarrend. Wat is nou so radikaal aan die NOP? Dit word dan reeds deur die ANC se linksgesinde alliansievennote teengestaan omdat hulle sê dit is te pragmaties en markgerig.

Volgens mediaberigte het die SAKP die aanwysing van Tito Mboweni as minister van finansies heftig teengestaan, omdat hy ’n rekord van fiskale dissipline binne die makro-ekonomiese raamwerk het. Hoe “radikale sosio-ekonomiese transformasie” binne die skelet van die pragmatiese NOP gaan plaasvind, moet Zuma verduidelik.

Gegewe die onaanvaarbare slakkepas waarteen die ekonomie groei, is ’n pragmatiese benadering nie die antwoord nie. ’n Radikale lewe moet in die groei en transformasie van die ekonomie ingeskop word om die lewensomstandighede van armes te verbeter.

  • 3

Kommentaar

  • Jason jy weet BAIE meer oor die dinge as ek. Die best analise wat ek tot dusver gelees het het gekom van Randi Erentzen, 'n man wat 'n baie lang pad met die ANC stap. Hy's 'n oud-professor in Geskiedenis by UWK. Hy't onder andere gesê - Zuma het onmiddellik van die opvolgdebat klaar gespeel. Cyril staan al in die koalisie reg om oor te neem. Weet jy wat sê die Township intelectuals: "Die Xhosas het hulle beurt gehad. Die Zoeloes kry nou 'n tweede kans met Zuma en dan kan 'n Venda maar oorneem! Dankie vir jou puik artikel. You never cease to amaze me!

  • Speedo, heel waar wat jy noem. Dit was soos Mandela se groep, die klomp wat in Zambië "gesokkel/struggle" het. Toe is dit Mbeki se groep wat in Angola "gesokkel/struggle" het. Eersgenoemdes was hoofsaaklik "Exiles". Nou is dit die Zoeloe "locals" se beurt. En dit is reg was jy seg, die volgende groep is die Venda's  se "intellektueles" se beurt. Weet nie of die Nadoo's en dan die Hendrikse se beurt dan kom en uiteindelik weer die Botha's of Van der Merwes weer gaan beurt kry nie. Sal maar wag en sien.

  • Daar is in die pers berig dat 40% van die kabinet aktiewe of ex-kommunistiese partylede is, wat die teenstand
    teen Tito Mboweni kan verduidelik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top