Present laughter: ’n resensie deur Danie Botha

  • 0

NOËL COWARD

PRESENT LAUGHTER

Met Patrick Ryecart, Kate Normington, Michele Maxwell, Nicole Franco, John Maytham, Marcel Meyer, Matthew Baldwin, Skye Russell, Jo Da Silva en Dean Roberts.

Regie, stel- en beligtingsontwerp: Fred Abrahamse

Bou van stel: Just Sets

Kostuumontwerp: Marcel Meyer; geskep in Kunstekaap se garderobe

’n Pieter Toerien-aanbieding in The Theatre On The Bay. Tot 10 Maart 2018. In samewerking met Alan Brodie Representation Ltd, Londen.


Gary Essendine, o Gary Essendine! Hy is ’n voortreflike en uiters gewilde verhoogakteur. Goed in romantiese komedie.

Dis die laat jare ’30 van die vorige eeu in Londen. Hy het so pas 40 geword. Vir baie nogal ’n keerpunt-ouderdom. Nou  glo hy hy moet Afrika toe. Dit raak dadelik sy sakevennote, huishouding en verskeie dames. Veral laasgenoemdes hoop om tog weer passievol met hom in die kamer te verkeer. Hulle luste gaan oor in listigheid. Dis handig as jy laataand jou huissleutel “vergeet” en wil oorbly. (Coward gebruik die woord “latchkey” wat destyds in Bosman en Van der Merwe se Tweetalige Woordeboek vertaal is as “knipsleutel”...) 

 Patrick Ryecart vertolk Gary. As ’n mens sien hoe hy al as veelsydige akteur presteer het, kan ’n mens glo dat hy baie van sy eie ervarings in sy vertolking kan betrek. Hy kom byvoorbeeld ook vir die eerste keer uit Londen om hier in Suid-Afrika te kom speel.

Hy vorm die spil waarom die intrige draai. Hy speel feitlik sonder aanstellerigheid en melodrama. Sy karakter word in bronne beskryf as selfbehep; vir my was daar min daarvan. Soos die Nederlanders sê: “Hy doet normaal.”  Die ander karakters se spel kan dan daarmee boeiende en baie snaakse kontraste vorm. Coward se kenmerkende spitsvondighede, woordspel en ironisering laat ’n mens spontaan lag.

Visueel is dit ’n besonder treffende aanbieding. Regisseur Fred Abrahamse het die stel so ontwerp dat daar ’n verskeidenheid speelvakke gebruik word. Jy sien en hoor al die spelers. Daar’s die trappe waarteen Dean Roberts as Fred flink met vele drinkgoed uitbeweeg. En dis ook  waar Jo Da Silva as die huishulp, Miss Erikson, sommer die stoffer agter haar aansleep en so woerts-warts iets afstof. Sy mik-mik vir die kroonkandelaar. Gaan sy dit ooit bykom? Dis een van die wonderlike komiese hoogtepunte.

Op die boonste vlak daag die besoekers op. John Maytham as Henry en Marcel Meyer as Morris verskyn in een toneel besonder brullend en dominerend. Hier sien ’n mens ook die eerste keer vir Matthew Baldwin in sy uiters energieke spel as Roland Maule. Wild skud hy blad. En hy hou aan en aan daarmee.

Die dames, betrokke by riskante liefdesverhoudings, trek baie aandag met hul binnekomste: Kate Normington as Liz; Nicole Franco as Joanna en Skye Russell as Daphne. Hulle fleurige gewade is ontwerpe van Marcel Meyer in die aller helderste kleure. En ook daardie geelste der geelste baadjie van Roland Maule.

Te midde van die gedoentes is daar iemand wat “kalmte uit die onrus haal”. Dit is Gary se sekretaresse wat hier op die onderste vlak opstap. Michele Maxwell is eenvoudig lewensgetrou as Monica Reed. Sy weet presies wat om te antwoord; sy oordonder niemand nie, maar haar mensekennis blyk duidelik uit haar reaksies. Dis ’n voorreg om haar spel te beleef.      

Van Coward se bekendste komposisies word tydens toneelwisselinge gespeel. Dit lewer kommentaar op die inhoud. Aan die einde hoor ons toe: “Why must the show go on?”

Ja, dit móét! Baie mense moet dit nog sien en geniet.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top