Pou-resensie (Prime Video) – soveel intrige

  • 0

Die pragtige en energieke Anna Pohl het in ’n geïnstitusionaliseerde ruimte grootgeword, in ’n suiwer, puriteins-Calvinistiese organisasie wat as Die Stigting bekend staan. Die organisasie se missie is om ’n plek van “geregverdigde onskuld” aan jong vroue te verskaf, waar hulle ver weg van die vermeende korrupsie van die buitewêreld kan ontwikkel. Dit is ’n versmorende omgewing vir die rebelse Anna en dit is nie lank voordat sy Die Stigting se streng morele gedragskodes oortree nie. As straf word sy weggestuur na een van Die Stigting se stigterslede, Sarel Cilliers, ’n teoloog van die apartheidsera wat nou op sy afgesonderde plaas wegkwyn. 

Erkenning: https://www.youtube.com/watch?v=kloQJYUsY5w

Die plaas is die woonplek van ’n magdom spoke van die verlede, sigbares sowel as onsigbares. En Anna kan nêrens heen vlug nie en is heeltemal aan die genade van hierdie donker magte oorgelewer. Sarel word deur angswekkende visioene geteister, op die oog af demone wat sonder ophou in sy ore fluister. En dan is daar ook die pou wat van gedaante verwissel en wat Anna uit sy hok langs die plaashuis treiter. Weldra word al die karakters ingetrek by konfrontasies met mekaar as gevolg van die plaas se geskiedenis, sy somber onderstrominge, en veral die geheimsinnigheid rondom Sarel se dogter, Klara, wat jare tevore reeds dood is.

Die Netflix film Annihilation is ’n komplekse wetenskapfiksiefilm waaroor mense al verhandelinge geskryf het, asook vriendskappe oor verloor het. Dit lei tot hewige debat. Ieder geval, elke gebaar, kledingstuk, invalshoek, kleurverandering, die posisie van die vrou se rugsakke, die verandering van die “hiëna” se stem, alles het betekenis. Alhoewel daar soveel is om in te neem (en oor te baklei), word dit met groot sorg verpak sodat dit maklik is om te verstaan.

Dieselfde geld vir Everything everywhere all at once. Die film spin onder beheer uit. Jy word oorval met wonderbaarlike beelde, mal karakters, selfs maller stories, en dialoog wat diep sny of vermaak. En net voor die einde, voor die trein die spoor byster raak, word al die chaos vasgevat, verpak en aan jou voorgelê as ’n eenvoudige, maar edele konsep.

Die Pou-draaiboek het nog een herskryf nodig gehad, ’n klein bietjie afronding. Daar is soveel betekenis in die stilering, die stelinkleding, die ou koffer en die moderne rugsak, Anna se klere wat verskillende vroue verteenwoordig, die ou en die jong Klara, Die Stigting, die gebruik van die naam Sarel Cilliers, ens, ens. Van die betekenis raak verlore in ’n wasigheid. Mens voer nie jou kyker met ’n lepel nie, maar jy moet jou film ook nie so kompleks maak dat dit ontoeganklik is nie.

Dit is ’n jammerte, want die film is deurtrek met teer oomblikke, gewaagde oomblikke, tonele wat so mooi geraam is dat dit jou asem wegslaan, momente wat jou diep seermaak en belangrike kommentaar op chauvinisme, die inperking van vroue, die afbreek van die “ander” en patriotisme. Die draaiboek was ongelukkig 90% klaar.

Die hoogtepunt is sonder twyfel Johan Botha se kragtoer as die stoere oom wat glo die duiwel is op sy spoor. Goeie genade. Sarel se genadelose donkerte oorskadu al die ander akteurs en red met tye die film.

Pou is Jaco Minnaar se debuutrolprent as regisseur. Alhoewel daar hier en daar haakplekke is, is dit ’n besonder interessante wegspringplek vir ’n belowende loopbaan. Ek sien uit na sy tweede en derde film.

Ns: Prime Video bevat ’n paar Afrikaanse produksies. Kyk uit vir Dominee Tienie. Dit is nie ’n perfekte film nie, maar Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg maak dit die moeite werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top