The Post
Regie: Steven Spielberg
Draaiboek: Liz Hannah en Josh Singer
Spelers: Meryl Streep, Tom Hanks, Sarah Paulson, Bob Odenkirk, Tracy Letts, Jessie Mueller
Verlede jaar het #GuptaLeaks en kie ’n mens opnuut bewus gemaak van die absolute noodsaaklikheid van ’n vrye pers vir die behoud van ’n demokratiese bestel. The Post sluit daarby aan deurdat dit as’t ware die voorstorie verskaf vir die Watergate-skandaal wat die ondergang beteken het van VSA-president Richard Nixon – moontlik die grootste oorwinning nóg van die media oor ’n korrupte politikus.
Met Steven Spielberg as regisseur verwag ’n mens baie, en die film begin inderdaad foutloos: Viëtnam 1966, Amerikaanse soldate aan die veg in gietende reën. Dit bring die kyker onmiddellik onder die indruk van die oorlog as ’n morsige affêre waarin gewone mense ontsettend gely het, terwyl die res van die tonele hoofsaaklik in deftige privaatwonings en ’n koerantkantoor in Washington DC afspeel.
In hooftrekke is die verhaal betreklik eenvoudig: die Amerikaanse regering het reeds halfpad deur die oorlog (1955-1975) besef dat hulle geen vordering maak nie, maar vier opeenvolgende presidente was nie bereid om dit te erken en Viëtnam te laat vaar nie. The Pentagon Papers, ’n verslag oor die oorlog, is in 1971 aan die New York Times gelek. Ben Bradlee (Tom Hanks), vlymskerp redakteur van die toe nog klein en onbelangrike Washington Post, het die storie dadelik opgetel toe die Times met ’n hofbevel verbied is om verder te publiseer – maar daarvoor moes hy die toestemming kry van die koerant se eienaar, Kay Graham (Meryl Streep). Graham se pa het die koerant aan haar man Philip oorgedra, maar ná Philip se skielike dood moes sy oorneem in ’n vyandige, manlik gedomineerde omgewing. ’n Besluit om te publiseer kon beteken dat sy alles verloor in ’n hofstryd teen die Nixon-administrasie.
Die film se eerste deel is gelaai met ’n oormaat nogal verwarrende inligting, maar dan kry dit vaart volgens die bekende formule van jaag teen tyd om die storie uit te kry en die slegte ouens aan die kaak te stel. Terselfdertyd bied dit ’n nogal nostalgiese blik op die werkinge van ’n tradisionele koerantkantoor, tot by die setters wat nog elke woord in lood moes set voor die drukpers kon begin hardloop.
The Post het Oscar-nominasies gekry vir beste rolprent sowel as beste aktrise, maar dis na my mening nie in dieselfde klas as Spotlight, 2016 se Oscar-wenner met ’n soortgelyke tema, nie. Meryl Streep lewer soos altyd gesagvolle spel, maar ek meen Tom Hanks het eerder ’n nominasie as beste akteur verdien.
As jy The President’s Keepers verslind het, is hierdie net die fliek vir jou!
Sterre: 4

