Die eerste en moeilikste deel van die lockdown is verby. Die ekonomie, of wat daarvan oorgebly het, word stadigaan weer oopgemaak. Asof dit ’n hek of ’n sluis is.
Mense begin weer werk, en rondbeweeg. Binne die volgende maand of wat sal die skole oopmaak, as alles volgens plan verloop. Iewers langs die pad gaan meer besighede oopmaak, en meer besighede ondergaan. Die enigste besighede wat in hierdie tyd van inkomste en wins kan seker wees, is begrafnisondernemers, mediese praktisyns, naaldwerkers wat maskers maak, en die sluikhandel in drank en sigarette. Nie noodwendig in daai volgorde nie.
Iewers vorentoe gaan daar ’n einde kom aan die vrees en onsekerheid wat met die virus gepaard gaan. Daar gaan ’n kuur of ’n teenmiddel ontwikkel word. Of mense gaan tropimmuniteit ontwikkel, teen groot lewensverlies. Maar daar sal ’n einde kom.
Hoe gaan die lewe daarna daar uitsien? Gaan die manier waarop ons sosiaal verkeer ingrypend verander, of gaan ons soos sediment in ons ou, bekende groewe teruggly? Gaan ons ’n terugkeer sien na etes in restaurante, kuiertjies in kroeë, swetende lywe in nagklubs en in gyms? Gaan ons steeds in kantore werk, met die gepaardgaande verkeersknope en astronomiese huur vir kantoorspasie in kantoorparke?
Of gaan die tendens om te isoleer met groter dringendheid toegepas word? Gaan ons ’n toename in Zoom-vergaderings in plaas van fisiese byeenkomste sien? Die besparings daaruit alleen kan yslik wees. Geen vliegtuigkaartjies, hotelakkommodasie, onthaaltoelaes, konferensiekostes, voertuighuur nie. As die tendens om werkers van hul huise te laat werk, voortgaan, sal daar reusebesparings op alle kantoorparafernalia wees. Geen kantoorhuur, elektrisiteitsuitgawes, gesukkel om uit te vind wie die skryfbehoeftes wegdra of gestoei oor wie die kantoor op die hoek of die parkeerspasie onder die skadunet moet kry nie. Geen seksueleteistering-klagtes nie. Geen aanvalle op vroue wat laataand na hulle voertuie terugkeer nie.
Maar aan die ander kant sal ons waarskynlik ’n toename sien in huishoudelike geweld, en in huisbrake. Boewe weet immers dat daar nou meer rekenaars en ander kantoortoerusting in huise gaan wees.
Dan is daar opvoeding. Keer ons terug na tradisionele klaskamers, of gaan afstandonderrig meer gewild word? Tuisopvoeding, waar die ouers self hul kinders moet leer, het alreeds geblyk nie te werk nie. Maar as daar klasse oor die internet of toegewyde televisiekanale gehou kan word, sou dit werk? Dieselfde met universiteitsopleiding. Dit sou die huidiglik onbekostigbare opvoedingsektor binne bereik van meer mense kon plaas.
En dit het die potensiaal om die gaping tussen ryk en arm verder te vergroot. Immers sal net kinders en jongmense met internettoegang, rekenaars en die spasie om te werk kan voordeel trek uit so ’n afstandsonderrigsituasie.
Dit sou ook beteken dat werkers hulle rekenaarvaardighede moet opskerp, en enigeen wat dit nie kan doen nie, sal uit die nuwe ekonomie uitgesluit word.
Koeriers en ander afleweringsdienste behoort dan in gewildheid toe te neem.
Vir enige skrywer is die volgende vraag natuurlik hoe die boekbedryf in die postkorona tyd daar uitsien. Die gedrukte media in die vorm van tydskrifte en koerante is al geruime tyd onder druk. In die vyf weke van die lockdown het heelparty tydskrifte aangedui dat hulle waarskynlik nie sal kan voortbestaan nie. Dieselfde met verskeie gemeenskapskoerante. Aanlyn media, daarenteen, het in hierdie tyd floreer.
Vir skrywers van fiksie het ’n ander probleem kop uitgesteek: rowers wat e-boeke kopieer en versprei. Aanvanklik is dit gratis gedoen, maar iewers het hulle uitgewerk hulle kan geld maak daaruit. Is dit ’n oordrywing om hulle rowers te noem? Nee, ek dink nie so nie. As iemand jou in die straat met ’n mes voorkeer en jou geld afvat, is dit roof. Net omdat daar nie fisieke kontak met e-rowers is nie, beteken dit nie daar is nie finansiële verlies nie.
Ook hoe ons gesinstrukture saamgestel is, sal waarskynlik ingrypend verander. Heelparty mense wat alleen bly, het in hierdie tyd verkies om saam met ander in lockdown te gaan. Gekose familie eerder as gebore familie sal waarskynlik nou meer gereeld saamwoon. Die stigma, as daar steeds nog stigma is, om op veertig plus ’n huismaat te hê eerder as om huiseienaar te wees, sal waarskynlik verdwyn.
Maar gaan die aard van ons samelewing verander? Ek dink nie so nie. Daar sal nog steeds selfsug, hebsug en nyd wees. Daar sal steeds mense wees wat vir hul gemeenskap omgee en daadwerklike verskille probeer maak. Die postkorona tyd gaan waarskynlik net groter eerlikheid omtrent wie ons in wese is, na vore bring.


