
Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square: ’n memoir (Tafelberg, 2024)
Titel: Portchie Van Tweeling tot Trafalgar Square: ’n memoir
Outeur: Portchie
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624094715
Portchie? Pas 60, ’n kunstenaar, handelaar, gasheer, toeganklik, ’n lewensgenieter. Sy familie ken hom as André. Sy volle naam is Jan Hendrik Viljoen. Hy is wyd berese, ’n groot, vriendelike man en bes moontlik enig in sy soort in die land.
Hy het pas sy eie storie geskryf. Portchie doen sy ding soos Portchie dit doen. Self.
Hy beskryf sy kinderdae op Tweeling, waar sy ouers vernuftige ondernemers was. Groente, klere, ’n kafee, ’n vervoermaatskappy was alles deel van die Viljoen-lewe. Hulle was uitstekende bemarkers: Die uitstalling van groente sou byvoorbeeld “waarborg” watter groente met watter groente verkoop sou word, soos tamaties wat langs beet uitgestal is. Die kindervertelling is simplisties eerlik.
Hy sou uit daardie onskuldige en gelukkige lewe ’n skatryk, eiesoortige kunstenaar-ondernemer word.
Hy verf (hy gebruik nooit die woord “skilder” nie) gemiddeld een werk per dag. Sy bome is altyd blou. Sy uitstallings is groot, wyd en feitlik oorheersend met vrolike mense op fietse en in klein dorpies.
........
Een Portchie lyk op die oog af soos baie Portchies.
........
In 2016, op ’n openingsaand in La Galleria, Pall Mall, Londen, het 450 mense opgedaag teenoor die gewone verwagting van die galery dat sowat 50 mense sou opdaag. Binne twee weke is R3,8 miljoen se werk verkoop.
Hy het sy eie legende, of noem dit selfs ’n klein dinastie, gevestig. Hy het ’n bedrywige groot winkel op die mees besoekte kol in Stellenbosch. Hy besit ’n almagtig groot huis langs die Eersterivier wat hy Maria’s Manor noem, na sy ma. Hy het ’n Steinway-klavier en het al ’n besonderse jenewer “geskep”. Sy 12-sitplek-eettafel is elke aand gedek met glinsterende glas en eetware. Daar is altyd mense in sy huis.
Portchie is ’n innemende boek met ’n vrolike Portchie-voorblad en baie illustrasies van sy werk: yslike madeliefies, die essensiële blou bome, figuurtjies op fietse, spelende kinders, mense in diggeboude prentjieshuise.
Een Portchie lyk op die oog af soos baie Portchies. Soms kan die kyker wel dieper kyk na klein verrassings, en word dit ’n gesellige fees met die groot aantal geïllustreerde werke in die boek. Hy erken dat hy nie gunstelingkunstenaars as inspirasie gebruik nie. (Ek sou darem ’n kopknik na Modigliani gee.) Maar die kyker kan miskien ’n vae herinnering aan Grandma Moses, die gevierde sg Amerikaanse volkskunstenaar beleef.
Portchie se onwaarskynlike naam kom van ’n vriend in sy eerste jaar op Paul Roos Gimnasium. “Wat doen jou pa?” wou die vriend weet. “Hy boer met en verkoop groente.” “O, soos in ’n Portugees?” Die ontstaan van ’n moontlik snydende, maar prettige naam.
’n Onwaarskynlike naam vir ’n man wat ’n enigma sou word: bekend, suksesvol, en wat soms snedig, of selfs kinderlik, geag word.
........
Portchie is ook ’n beeldhouer. Dis moontlik waar die kyker sy kop ernstig in die rigting van “kunstenaar” sou knik.
........
Die boek bevat ’n besonder interessante aantal illustrasies (goed, hier is ’n aartsbemarker aan die werk) maar die leser (kyker) sal ongetwyfeld toegee dat daar Portchies én Portchies is.
Oordeel self. Daar wag verrassings.
Portchie is ook ’n beeldhouer. Dis moontlik waar die kyker sy kop ernstig in die rigting van “kunstenaar” sou knik. Veelkantig, fyn, soms aangrypend, soos die beeld van ’n man met ’n hoender op ’n fiets, met die titel: ’n Hoender vir Jesus.
Lees ook:


Kommentaar
Wat ek die heel meeste van die boek geniet het, is die eerlikheid waarmee Portchie sy storie skryf. Ek wil dankie sê dat daar nooit 'n sweempie bitterheid of verwyt te bespeur was nie. Die boek is geskryf met selfkennis en opregtheid van iemand wat elke probleem en hindernis kon oorkom, deur wat ookal hy aangepak het, onder die diepe bewustheid van God se rol in sy lewe. Wat ek die meeste van hom beny is die manier waarop hy die potlode wat vir hom uit gedeel was, tot by die kruin van sukses kon benut en gebruik het! Dankie vir jou mooi hart en dankie dat jy nie net jou eie nie, maar ook elkeen wat enigsins iets met jou te doene het, wys hoe selfs blou bome se koelte geel, rooi en groen kan wees.