Poorte van die hel

  • 2

“Poorte van die hel” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Poorte van die hel

Hy het die gesig van ten minste drie verskillende mense as jy hom aandagtig beskou. ’n Picasso sonder die hand van die meester.

Amos het fout met sy chromosome. Êrens is daar ’n stukkie te veel of ’n stukkie te min. ’n Wêreld behep met simmetrie het hom nog nooit hiervoor vergewe nie.

Hy is die Christelike plig van ’n kerk waar al die lidmate sonder skouers skuur hemel toe gaan. Voor haar dood, net ná haar tweede ent, maar dit hou geen verband nie, het tannie Stella vir die ouderling gesê die kerk moet hulle asseblief ontferm oor die bywoner in haar jaarts. Niemand het van die bywoner geweet nie.

Haar kinders het haar huis verkoop en die bywoner uitgesit. Die ouderling het met die kinders gaan praat. Die bywoner is haar basterseun, sê hulle. Toe hulle pa dood is, het hulle ma vieslikhede met ’n swart man aangevang. Hy het glo die huis uitgeverf. Hulle wil niks met die baster te doen hê nie. Hy is nie bloed van hulle nie.

Amos is nou die tuinier by die kerk, asook die nutsman, die skoonmaker van die manstoilette en die verdrywer van diewe en vandale saans. Hy het die titel faktotum.

Aan die einde van die week kry die faktotum ’n emolument. Die kerkraad gebruik nie graag die woord geld nie. Daar is bydraes, daar is skenkings, daar is fondse, daar is vergoedings, daar is inkomste en daar is uitgawes. En daar is Amos se emolument wat hy Vrydae in ’n koevert kry. Op die koevert staan in groot swart letters DANKBAARHEIDSFONDS. Die koeverte is bedoel vir lidmate se maandelikse of jaarlikse bydraes. Die koeverte is so baie en word so min benut dat dit gebruik word vir Amos se emolument. ’n Mens mors nie.

Amos is baie in sy skik met sy koeverte. Dit is min dat mense in sulke groot letters vir hom dankie sê. Hy bêre al die koeverte in ’n boksie van Takealot wat hy in die straat opgetel het.

Die kerkraad sorg ook vir huisvesting vir Amos. ’n Eenvertrek-Wendy met ’n badkamer tussen die krakende bloekombome op die kerkterrein.

Die enigste mens wat hom daar besoek, is Anna, die waarnemende koster. Sy het hom gehelp om tweedehandse meubels by Ollie se Gat te koop en dit met haar bakkie vir hom aangery. Sy het gordyne van groen en wit blokkiesmateriaal vir sy twee vensters gemaak en ’n waaier vir hom gekoop teen die vlieë en die Februarie-hitte.

Ouderling Jan Visser het haar een Vrydag by die Wendy sien in- en uitgaan. Beswaard het hy by die kerkraad aanbeveel dat die waarnemende koster net onder toesig van ’n kerkraadslid die huisvesting van die faktotum betree. Die kerkraad het aanbeveel dat ouderling Visser voortaan oor die eer van die waarnemende koster sal waak.

Anna het dertig jaar lank in die moerbeibos van die lewe gedwaal voor sy by die kerk aangekom het. Sy is baie hartlik deur die begrafnisondernemer en sy vrou, twee getroue lidmate, verwelkom.

Sy het elke kortpaadjie en dwaalspoor in die bos geken. Dus was dit nie vir haar moeilik om kringe om ouderling Jan Visser te hardloop nie. Sy was dikwels by Amos om hom te leer lees en skryf. Sy het hom ook geleer kos kook, hoewel sy self nie baie bekwaam in daardie rigting was nie.

“Bo blink, onder stink, en dis nou die waarheid,” sê Anna. Amos het haar vertel van die kerkraadsvergadering waar hy vermaan is oor sy kennisgewings in die manstoilette.

Anna sit voete op die tafel in die kerksaal en drink koffie saam met Amos. Sy het ’n ou vadoek tussen haar skoene en die tafeldoek uitgesprei. Daar is agtien dennehouttafels in die saal, almal bedek met lang, wit, strykvrye tafeldoeke. ’n Suster wat ’n kursus in binneversiering gedoen het, het daarop aangedring dat al die tafelpote bedek moet wees. Tafelpote is aanstootlikhede wat gehoor, maar nie gesien mag word nie.

Amos kon nog nie genoeg ontspan om sy voete op die kerk se tafels te sit nie.

Anna en Amos drink goeie koffie, beter koffie as wat die vorige koster, die regte koster, met die kerkgeld gekoop het. Die regte koster, ’n aantreklike, geskeide vrou, is weg. Skoonveld. Sy het eenkeer teenoor Anna bely dat sy kasterolie gebruik om haar geplukte wenkbroue aan die groei te kry. Sy het bely dat sy jaloers is op Anna se wilde wenkbroue.

Die aantreklike regte koster se wegraping het onverwags gebeur. Sy het een Sondag, haar laaste Sondag, die klok so hard en aanhoudend voor die diens gelui dat die ouderling aan diens gaan kyk het wat aangaan. Die wewenaar-dominee en die gemeentelede het al rusteloos begin rondkyk.

Die ouderling was ’n vlieënier in die Suid-Afrikaanse lugmag tydens die glorietyd van apartheid. Soos die meeste vlieëniers het hy lieflike ligblou oë en is hy getroud. Hy het die koster by die luiende klok aangespreek. Die klok het egter sy stem doodgelui. Hy het die koster teen haar bo-arm getik om haar aandag te trek.

Volgens die getuienis van die ouderling uit sy hospitaalbed het die koster daarop die haak van die lang stok uit die metaalring van die klok getrek, agteruit getree en hom met die stok oor die kop geslaan. Herhaaldelik. Die stok het gebreek, prys die Here. Elke ding bereik ’n breekpunt, vroeër of later.

Geen noemenswaardige skade is aan die gewese vlieënier se IK aangerig nie, volgens die dokters. Waarskynlik te danke aan sy bos silwerswart hare. Ongelukkig loop hy vandag met ’n kierie, want met die weghardloop het hy oor ’n wortel van die bloekomboom voor die ingang van die kerk geval. ’n Mens se gebeente kan ook net soveel aanslae hanteer.

Die regte koster het haarself daar en dan uit haar pos ontslaan. Sy het nie die diens, wat heelwat later begin het, bygewoon nie. Sy is glo sak en pak daardie middag uit haar woonstel, wie weet waarheen, die meubels êrens gestoor.

Lelike praatjies doen die ronde van ’n owerspelige verhouding en ’n swangerskap. Nog leliker praatjies lek uit dat ’n kerkraadslid daarby betrokke is. Luister, luister wie daar fluister in die stille nag … dié ouderling of dié diaken of dalk nog dominee self?

Die wewenaar-dominee het twee Sondae later ’n vurige preek gehou oor die tong, die kleinste orgaan in die liggaam. Daardie klein vleesklokkie kan ’n hele bos aan die brand steek. Die preek het goed afgegaan en die gemeentelede het lank daaroor gepraat.

Anna is aangestel as waarnemende koster tot tyd en wyl sy haarself bewys as betroubaar genoeg om die regte koster te wees. Wanneer dié heuglike dag sal aanbreek, is onseker. Intussen bly haar emolument laer as dié van die verdwene regte koster.

Geen betroubare suster of broeder van die gemeente het in die roeping van koster belanggestel nie. Anna was bereid om met die stofsuier onder die kerkbanke in te kruip omdat haar bakkie dringend ’n nuwe tydbelt nodig het. Sy het ontdek daar is Christelike spinnekoppe wat hardnekkig Sondag ná Sondag die diens wil bywoon.

Anna het sonder die nodige papiere en aanbevelings by die kerk aangekom. Sy kon onthou dat sy laas in die kerk was voor sy universiteit toe is. Dié kerk is intussen afgebreek om plek te maak vir taxistaanplekke.

Sy is minder gretig deur sommige gemeentelede aanvaar. “Ongebalanseerd,” het ’n suster met ’n Romeinse helmhaarstyl teen ’n ander suster se pienk poeierwang gefluister.

Op ’n kerkraadsvergadering waar die welstand van die nuwe suster se siel bevraagteken is, het die wewenaar-dominee die kerkraadslede tot verdraagsaamheid gemaan. “Sy is nou hier, broers, dis tog die belangrikste.”

Die dominee se lewens- en wêreldbeskouing is aansienlik verruim nadat sy godvresende ou moeder in ’n jollie kerk beland het. Hy het saam met Moeder na ’n diens gegaan sodat hy haar oë kon oopmaak vir die onsalighede van die geesvangery. Toe ervaar sy siel so ’n oplewing dat hy gereeld dog skelm jollie kerke bywoon.

“Amos, jy moes my gevra het om jou te help met die papiere wat jy in die manstoilette opgeplak het,” sê Anna vir Amos terwyl hulle koffie drink.

Amos knip sy rosyntjie-oë. “Moes ek gesê het hulle moet hulle eie stront skoonmaak?”

Anna skud haar kop. “Nee, nie stront nie en nie kak nie. ’n Mens moet dit nie so stink laat klink nie.”

Amos snuif. “Maar dit stink mos.”

“Maar jy mag dit nie sê nie. Dis hoe die lewe werk, Amos. Kom ons skryf ’n mooi ding vir die manstoilette.” Sy trek ’n stuk papier nader.

“Is die vroue se toilette ook so vol maagwerkings?” vra Amos.

“Nee. Vroue is soos katte … hulle is skaam en wil nie hê iemand moet weet hulle akkies nie. Mans is soos honde … hulle stront sommer orals en laat dit net daar lê.”

Anna het vier nuwe kennisgewing by haar woonstel gaan tik en by die rekenaarwinkel laat druk. Haar drukker is van nul en gener waarde totdat sy weer geld vir ink het.

Sy het die kennisgewings laat lamineer en sy en Amos het dit met wondergom vasgeplak: een teen die binnekant van elke toiletdeur in die mansbadkamer en een by elke wasbak.

In Copperplate Gothic Bold word versoek: Die kerkraad sal dit waardeer indien u die toiletborsel gebruik nadat u opelyf beleef het.

Die “beleef” van opelyf was ’n belangrike punt. Anna het ’n eks-verloofde gehad wat haar telkens verseker het dat mans opelyf belééf. “Dis hoekom hulle toilette so lyk, Anna. Vroue hét eenvoudig opelyf; dis hoekom hulle toilette skoon is.”

Anna het vier nuwe toiletborsels vir die twee manstoilette by Pep op die kerk se rekening gaan koop. Vir die linkshandiges was daar ’n borsel aan die linkerkant en vir die regshandiges ’n borsel aan die regterkant. Sy was so in haar skik dat sy die volgende dag twee nuwe handdoeke vir die wasbakke gaan koop het. En nuwe houers met vloeibare seep.

’n Week later loop die ouderlingkassier vir Amos in die tuin by. Amos se dik piesangvingers hou ’n skilpadjie vas. Trane loop oor die breë, onpaar bene van sy gesig.

“Hy is dood. Hy het omgeval. Niemand het hom gehelp nie.”           

Die kassier kyk van die faktotum se glansende nat neusopeninge op na die blou hemel. ’n Paar donswolke dryf verby.           

“Van wanneer af het die kerkraad besluit oor toiletborsels? Nogal nadat ons opelyf belééf het?”           

Amos kyk af na die skilpadjie in sy hand. “Hy is van honger dood. Of van dors. Kon iemand hom nie maar opgetel het nie?”           

Die kassier draai op die hak van sy gekussingde sportskoen om en loop saal toe. Vir wat sukkel hy met die idioot met sy deurmekaar gesig? Dis daardie waarnemende koster wat agter die kennisgewings sit. Die merrie. Dis háár soort taal daardie; sy is glo ’n skrywer. Hy snork. Snaaks hoe skrywers altyd armlastig is. Kyk die skedonk wat sy ry. Maklik veertig jaar oud.           

Hy gaan staan in die deur van die kombuis. Anna is besig om die koppies vir Sondag se tee uit te sit.           

“Wat is dit van toiletborsels en opelyf? Wanneer het die kerkraad oor so iets besluit? En die nuwe handdoeke en seep? Het jy weer eiereg gebruik? Soos met die duur koffie? Dink jy dis jou eie geld wat jy so kan mors?”           

Sy wange dril van ontsteltenis.           

Anna tik met ’n teelepel op die swart marmer van die toonbank. “Ek het opdrag gekry om die koster se verpligtinge oor te neem. Dit sluit in die vervanging van gehawende toerusting soos toiletborsels. En handdoeke en seep. Dit moet gereeld gebruik word om die koste te regverdig. Ons gemeente is klein en ons kan dit nie bekostig dat duur toerusting ongebruik rondlê nie. Dis hoekom ek die kennisgewings opgesit het.”           

Die ouderlingkassier kyk met vernoude oë na haar. Die vlesige voue weerskante van sy neus verdiep. Die een kant van sy brein verstaan haar volkome. Uitgawes, kostes, deeglike gebruikmaking van toerusting en infrastruktuur. Die ander kant van sy brein voel dat sy hom beveel om die toilet agter homself skoon te maak.           

“Dis verdomp die idioot … die skoonmaker … se werk …” Die ouderlingkassier vryf sy lang neus.           

Anna, die waarnemende koster, loop na hom toe. “Maar het jy jouself dan nie lief nie?”           

“Wat?” vra die kassier. Hy retireer.           

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Soos – jou – self. Dit word elke week van die preekstoel af verkondig. In jou geroepenheid as ouderling moet jy die gemeente hierin voorgaan. Bespeur ek ’n traagheid wat onder die aandag van die kerkraad gebring moet word?”           

“Jý!” sê die kassier. “Jy gaan jouself nog in die hel in praat.” Hy retireer verder en val oor die uitgetrekte stoel waar Anna laas gesit het.           

Anna loop nader om hom op te help. Hy vlieg op en hou die beige plastiekstoel soos ’n stormram voor hom.           

“Jy … jy … jou Jesebel! Lê by die idioot in sy hut rond en dan wil jy vir mý kom preek. Ek kyk jou lankal uit. Swaai jou heupe en borste vir al wat man is. Die poorte van die hel is wawyd oop vir jou!”           

Anna weet wat hy wil hê. Sy moet inskiklik wees vir sy aanbiedinge om die krane by haar woonstel te kom regmaak. Om haar bakkie se olie te vervang. Sy moet tasbaar dankbaar wees omdat hy voorgestel het dat haar emolument verhoog word. Sy moet glimlag as sy kunstande skitter vir ’n vuil grappie.           

Anna haal haar selfoon uit haar voorskoot se sak. Sy skakel die videokamera aan en hou dit in die lug op.           

“Het jy nog iets om te sê? Ek wil graag met my werk aangaan. Behalwe die koppies moet ek nog vee en die kerk stofsuig en ek is besig met die studie van ’n belangrike werk, Satan, Prince of this world. Het jy al daarvan gehoor? Het jy geweet ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug? Het jy geweet bose geeste trek in mense in?”           

Amos staan in die deur van die saal en streel oor die dooie skilpadjie se dop. Hy wil dit vir Anna kom wys. Die kassier stamp hom uit die pad. Hy kners onder sy asem: “Verdomde idioot! Jou en die hoer se dae is getel.”

Tien dae later is die begrafnis. Die gemeente is geskok en verslae. Só vinnig gebeur ’n ding. Die een oomblik is jy in die fleur van jou lewe, die volgende lê jy dood in die kerksaal se toilet.           

Die begrafnisondernemer het so hier en daar in mense se ore gefluister wat hy in die mans se badkamer aangetref het. Die oorledene se kop was in die toilet, sy nek gebreek, sy broek af. Blykbaar wou hy net voor die val die toilet gebruik.           

Amptelik, volgens die lykskouing, is hy dood aan ’n hartaanval. Nie heeltemal onverwags nie in die lig van ko-morbiditeite soos obesiteit, hoë bloeddruk en diabetes. En drie keer geënt, maar dit hou geen verband nie. Waarskynlik was hy reeds dood toe hy met sy kop in die toilet geval en sy nek gebreek het, reken die patoloog.           

Anna het opgelet dat die nuwe weduwee besonder vrolik was by die begrafnisfunksie in die saal. Die weduwee het aangedring op ’n skemerfunksie – sy het per ongeluk die woord onthaal gebruik – sodat vonkelwyn bedien kon word.           

Die kerkraad het eers oor die saak gesit, want die gebruik van sterk drank word nie op kerkterrein toegelaat nie. Behalwe die lekker Nagmaalwyn van Bonnievale. Die dominee het hulle egter oorgehaal. “Kom ons stuur Tiens weg met ’n lekker partytjie, manne. Hy het baie vir die kerk beteken. Ons geld goed belê. Danksy hom kan ons nog ’n jaar of vyf aangaan.”           

Die nuwe weduwee het besonder aanvallig in haar swart aandrokkie vertoon. Sy het ’n sjarmante toesprakie gelewer: “Julle hoef my nie jammer te kry nie, liewe broers en susters. Ek het my trane afgedroog, want ek weet waar my dierbare Tiens vanaand is. Aan die sy van die een wat hy gedien het …”           

Anna het die weduwee gekomplimenteer met haar nuwe haarstyl. Dit het haar aansienlik jonger laat lyk.           

“Oornag blond van verdriet,” het die gewese lugmagkaptein met sy arm om die weduwee se middel geskerts. Hy het haar ’n broederlike tikkie op die boud gegee. Sy lieflike ligblou oë het geglim. Sy vrou het nog ’n happie koek gevat en sy kierie vir hom gebring.

Anna en Amos sit nog ’n rukkie in die saal en drink koffie. Die susters het ’n bietjie opgeruim en die laaste begrafnisganger is weg. Die hadidas wat in die bloekoms nesmaak, skree steeds ontevrede oor die lawaai van die aand.           

“Anna,” sê Amos en streel oor die nekkie van die makgemaakte kransduif wat hy in sy Wendy gaan haal het om vir die mense te wys, “hy was nie ’n goeie mens nie. As hy my duif gevang het, sou hy sommer sy nek omgedraai het.” Die duif knipper sy rooi oë.           

“Ja,” sê Anna, “hy was nie ’n goeie mens nie. Hy moes my nie vasgekeer het nie, Amos. Hy moes my nie vasgedruk het nie.”

“Die Here het ons mos gehelp, Anna.”

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top