lewe = fees

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].


Mense vra altyd vir my: Hoe is dit dat ’n Indiër-man klas gee in Afrikaans?

Darryl David en Peter Baker by die BookBedonnerd Literêre Fees op Richmond.

Ek het baie goed oor die weg gekom met my Afrikaans-dosente, soos Rita Gilfillan en Johan van Wyk. Ek het net gevoel hulle gee om vir my. En hulle het my aan onvergeetlike letterkunde voorgestel. Onvergeetlike mense. Onvergeetlike tye. Onvergeetlike literatuur!

My eerste “boekefees” was eintlik die stigting van Suid-Afrika se nasionale boekedorp op Richmond in die Karoo. Die boekedorp is wat mens my “magnificent obsession” kan noem. Dit het my van my 33ste verjaarsdag tot my 37ste geneem om Suid-Afrika se boekedorp te vind. In daardie tydperk het ek meer as 300 000 km in my Honda Jazz gery. Dit was die dag na my 10de huweliksherdenking, na ’n Nederlandse kongres by die Universiteit Stellenbosch, dat ek die vergete dorp van Richmond ontdek het. Ek het dadelik geweet: hierdie dorp het die potensiaal om Suid-Afrika se boekedorp te word.

Peter Baker het ’n groot rol gespeel in die vestiging van die boekedorp. Elke projek het ’n “champion” nodig. Peter was daardie kampioen op Richmond. Nie eers my vrou het in my visie geglo nie. Maar toe Peter van my planne hoor, was hy die eerste persoon wat positief gereageer het, met die woorde: “That’s a whale of an idea.” En toe ek Patrick Mynhardt oortuig om ons boekedorp in 2007 te kom open (’n maand voor sy dood!), was dit Peter wat R10 000 uit sy sak gehaal het om vir Patrick se optrede te betaal.

Ons het die boekedorp met net drie winkels begin. Vandag het ons amper 13 boekwinkels in die dorp. (Sewe jaar gelede het die tydskrif Getaway se “Route to Nowhere” by Hanover gestop. Vandag lok die boekedorp duisende toeriste elke jaar.)

Rita Gilfillan

Patrick Mynhardt

Na Patrick se optrede het almal na my gekyk en gevra: Wat nou? Ek het instinktief geweet: ons moes ’n boekefees begin. Sonder enige ervaring, en sonder bywoning van ’n enkele boekefees, het ek die BookBedonnerd Literêre Fees begin. (Die Engelse “Book”-deel van die naam het nou verlore gegaan, maar dit was altyd my doel om deur die kombinasie van ’n Engelse en Afrikaanse woord aan te dui dat die fees en die boekedorp taalgrense moes oorskry. Tog moet ek byvoeg dat dit Afrikaanse skrywers was wat in die jeugjare van die boekedorp dit grotendeels ondersteun het. Mense soos Wium van Zyl, John Kannemeyer, Braam de Vries, Riana Scheepers, Etienne van Heerden, Eben Venter, Dana Snyman en my goeie vriend Rita Gilfillan. Ek sal dit waag om te sê hierdie is my mees ikoniese boekefees.

Hierna het ek die Olive Schreiner-fees op Cradock in die Oos-Kaap begin. Cradock is my hartland. Dit was by die Tuishuise in Markstraat, my gunsteling-gastehuis in Suid-Afrika, dat ek die bloudruk vir ’n boekedorp raakgesien het. Dus het my hart, ná die sukses met Richmond, na Cradock begin hunker. Ek het altyd gevoel Cradock is "Schreiner Country" en dat so ’n fees nie kon misluk nie. Nie met haar oorspronklike huis wat deesdae die Schreiner Museum is; nie met al die plase waar sy gebly het wat ’n mens tot vandag kan besoek nie. Nie met haar graf bokant Buffelskop nie. Nou dit is wat mens ’n "literary pilgrimage" noem!

Maar dit help niks as jy nie ’n “champion” in ’n dorp het nie. Sandra Antrobus, eienaar van die Tuishuise op Cradock, was, soos Peter Baker, daardie kampioen. NELM, die Engelse Literêre Museum, het geglo die projek sou misluk. Maar Sandra het hulle oorreed om saam met my te werk.

As die Afrikaanse koerante my eendag vir ete sou nooi en my sou vra wat die hoogtepunt van my jare in die literêre toerisme was, sou ek sonder aarseling antwoord: my pelgrimstog na Buffelskop. Ek wil Buffelskop eendag saam met Etienne van Heerden klim. Want Cradock is ook Etienne van Heerden-kontrei. By die eerste fees het ek in my openingspraatjie spottend vir Sandra Antrobus gesê: “Jy moet een van jou huise die Etienne van Heerden-huis noem.” Deesdae het die Etienne van Heerden-huis my gunsteling Tuishuis geword. A home away from home. Saam met Karoo Morning. Nee wat, hierdie is een van die mees literêre strate in Suid-Afrika. Vanjaar vier die Schreiner-fees sy vyfde verjaarsdag. Ek het klaar vir my vrou en dogter gesê dat as ek eendag tot die laaste bladsy van my boek kom, moet hulle my as stilletjies in hierdie straat strooi.

Olive Schreiner se graf op Buffelskop.

Die eerste Zoeloe literêre museum word tydens die Midlands Literary Festival bekendgestel.

My derde fees was die Midlands Literary Festival op my tuisdorp, Howick. Tot op daardie stadium was daar nie ’n populêre boekefees in KwaZulu-Natal nie. Daar was wel die Time of the Writer Festival, wat Breyten Breytenbach help stig het, maar oor die jare het dit meer op Afrika-skrywers begin fokus. Ek was ook beïnvloed deur die feit dat Howick in die middel van die bekende Midlands Meander-kunsteroete is. Dit is een van die sterkste “handelsmerke” in Suid-Afrikaanse toerisme. En my intuïsie was reg. Vir die eerste keer het uitgewers my genader met pryse vir skrywers. Vir die eerste keer het uitgewers die vliegtuigkaartjies van skrywers begin betaal. En skrywers was mal oor die skoonheid van die Middelland. Die fees het ’n stewige reputasie.

My vierde fees, die JM Coetzee-fees op Boekedorp Richmond, was ’n waagstuk. Die Nobel-pryswenner het, sover ek in daardie stadium geweet het, geen verbintenis met Richmond gehad nie, maar ek het net gevoel dis ’n tragedie dat Suid-Afrika nie sy twee Nobel-bekroondes vier nie. Die visie van die fees was dus om die kollig op ons Nobel-pryswenners te plaas. John Kannemeyer se biografie van JM Coetzee het groot impetus aan die fees verleen toe Kannemeyer se navorsing aandui dat Coetzee se ouers tydens sy ma se swangerskap op Victoria-Wes geboer het – dis net 70 km van Richmond af! (Maar die sfeer van die fees is veel wyer. Ek het geweet dat met Nelson Mandela, Desmond Tutu, FW de Klerk en Albert Luthuli onder ons Nobel-bekroondes, hierdie fees nie kon misluk nie.)

JM Coetzee
Breyten Breytenbach

Suid-Afrikaners besef nie hoe ’n groot skrywer JM Coetzee oor die wêreld geag word nie. Die JM Coetzee-fees is die enigste fees waar Suid-Afrikaanse Lugdiens my elke jaar bel om uit te vind wie op die program gaan wees. Dis die enigste fees waar Nederlanders my e-pos om uit te vind wanneer die fees plaasvind. (Ek moet terloops net noem dat in Suid-Afrika een van die borge my eendag gevra het hoekom ek die fees na ’n gewone Afrikaanse man vernoem het! Ja-nee – soos hulle in Engels sê, that one takes the cake!)

En ek moet net een ander ding byvoeg: mense skinder altyd dat John Coetzee onbeskof kan wees. My ervaring van hom is dat hy ’n ware gentleman is. Hy beantwoord altyd my e-posse. En hy vra altyd om verskoning as hy die fees nie kan bywoon nie. Dit is ook hoe John Kannemeyer hom ervaar het.

Met my vyfde fees (Breyten Breytenbach Boekefees op Montagu) het ek my hart gevolg. Breyten is my gunsteling-skrywer. Geen Suid-Afrikaanse skrywer kan met soveel gemak praat nie. Min Suid-Afrikaanse skrywers kan jou met hulle beelding verras. Maar op sy 70ste verjaarsdag het dit my hart gebreek dat daar ’n groot fees in Parys/Amsterdam (?) vir hierdie literêre reus was, maar amper niks in Suid-Afrika nie. Ek het van daardie dag af planne begin maak vir ’n fees vir Breyten Breytenbach. Mense het my gewaarsku: Breyten sal jou nie toestemming gee nie. Hulle was amper reg. Maar soos ek met mense spot: Perserverance is my middle name! Kan jy glo dis die eerste literêre fees in die nuwe Suid-Afrika wat die naam van ’n Afrikaanse skrywer dra? Dit was vir my baie verrassend dat daar die meeste euforie rondom hierdie fees was as ’n mens Breyten se geskiedenis met die “volk” in ag neem.

My sesde fees was ook ’n groot waagstuk: ’n kinderboekfees in Pietermaritzburg, by my universiteit. Ek het net gevoel ek reël al hierdie boekefeeste, maar ek sien geen kinders in die gehoor nie. Ek was so bang die saal sou leeg wees. Maar wat ’n sukses was dit nie! En dit in miskien die mees on-Afrikaanse deel van Suid-Afrika.

Ek en die kinderboekskrywers was verstom oor hoe wyd ons jong kinders in Afrikaans lees. Dit het my hoendervleis gegee. Dis ook my eerste fees wat die ATKV geborg het. En dis die enigste fees waar ek met Exclusive Books saamwerk. Maar ek moet LAPA Boeke spesiaal bedank. Hulle doen wondere vir Afrikaanse letterkunde. Ek kom baie goed oor die weg met die span van LAPA. Sonder LAPA sou my lewe heelwat moeiliker gewees het. Dit geld ook vir Coenraad van die ATKV. In die eerste twee jaar het ons skrywers van die kaliber van Marita van der Vyver, Francois Bloemhof, Jan van Tonder, Derick van der Walt, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo gehad.

Wat vir my baie opvallend is, is dat ons op hoërskool iets verkeerd doen. Daardie geesdrif vir boeke verdwyn ná graad 7. Of dit aan hormone toegeskryf kan word, weet ek nie. Maar oor een ding is ek seker: die kinderboekfees is vir my ’n lekker fees om te reël. Ek kon nie glo toe kinders my hand kom skud het om “oom” te bedank nie. Toe hulle hierdie jaar by die saal ingestroom het, het hulle my kom omhels. Dit maak die harde werk die moeite werd. (Hierdie jaar moes ek byvoorbeeld vieruur opstaan om Fanie Viljoen betyds by die lughawe te kry.)

Athol Fugard

My laaste fees is die Fugard-fees. Hierdie fees is die enigste fees wat ek nie self gestig het nie. Maar ek het vir jare gepleit dat Nieu-Bethesda ’n Fugard-fees moet begin. En dis presies wat hulle gedoen het. Met groot sukses. Hulle het my genader om te help, maar ek het gevoel die fees was in goeie hande. Maar toe het kleindorpse politiek ingetree. Nieu-Bethesda het sy Absa-borgskap verloor. In die jaar toe Fugard sy 80ste verjaarsdag gevier het, het die fees nie plaasgevind nie. Dis toe dat ek die “bankbestuurder”, Peter Baker van Richmond, genader het om hierdie fees vir die Karoo te red. Dus het ons in 2013 die Fugard-fees oorgeneem. Ons is nog nie op die vlak van die gloriejare van Nieu-Bethesda nie. Maar ons het nie ’n Absa wat agter ons staan nie. En ek moet byvoeg: vir my is hierdie die moeilikste fees om te reël. Kunstenaars is nie so vrygewig soos skrywers nie. Ek is nie gewoond aan mense wat vir my ’n rekening stuur as ek hulle na ’n fees nooi nie. Ek kan dit eintlik nie verstaan nie, want Grahamstad eis byvoorbeeld geld van al die fringe acts. Wel, miskien dink hulle ons is nie Grahamstad nie. Of miskien betaal die KKNK vir almal. Wie weet, maar dis harde werk.

Sêgoed van Darryl David

“Ek dink daar moet Afrikaanse bloed êrens in my are wees!”

“Om ’n Afrikaans-dosent in hierdie tydperk te wees in nie vir sissies nie.”

“In hierdie tydperk waarin ons ons bevind, speel boekefeeste ’n ongelooflike rol. Uitgewers doen min of niks nie om hul kleiner skrywers se boeke te bemark. Die Departement van Kuns en Kultuur doen boggherol! (Noem één groot literêre inisiatief van hierdie departement oor die laaste dekade! Al die groot idees kom van buite af.) Ek sou dit waag om te sê dat, sonder boekefeeste, boeke ’n baie laer profiel sou gehad het.”

Ek het ook die land se enigste Zoeloe Literêre Museum by my universiteit begin, die enigste letterkundige museum vir ’n swart taal. Hiervoor was ek op Morning Live en vir byna ’n week in die Pietermaritzburg-gebaseerde provinsiale koerant, The Witness. Maar behalwe Etienne van Heerden het nie ’n enkele persoon uit die literêre wêreld, of enige koerant behalwe die Witness, ’n verslag oor ’n groot oomblik in ons literêre geskiedenis gehad nie. Almal weet van NALN, van NELM. Selfs die hoof van my universiteit het my tot vandag toe nie geluk gewens nie. Tot vandag toe het die universiteit nie ’n sent tot die Museum bygedra nie. Ek het ’n R120 000-borgskap op eie inisiatief gekry.

The One That Got Away ... Iemand mag dalk dink daar was geen mislukkings nie. Maar die groot teleurstelling was die mislukking van ’n André Brink-fees op Grahamstad. Dit sou ’n ikoniese fees geword het. Alles was gereël. Die Engelse gastehuise het kamers geborg. Vir ’n Afrikaanse skrywer van formaat. Maar dit het uiteindelik nie uitgewerk nie. André P Brink is ’n legende. Sulke mense kom een keer in ’n lewe voor. Eendag...

Nog ’n droom wat my vir jare ontwyk is ’n Dalene Matthee Boekefees! Ek het vir Knysna geskryf, maar hulle het gedink my van is Wiedefokisjy?! Nie ’n piep van Knysna Toerisme of ’n enkele gastehuis nie! Kan jy jou verbeel – ’n boekefees op die Tuinroete waar ’n mens boeke en Matthee se boswêreld kan kombineer. Dit kan sekerlik nie misluk nie? Gelukkig het ek vir Dalene se dogter Hilary geskryf. Sy het my van Uniondale vertel, waar Dalene vir amper sewe jaar gewoon het. Die Prins Alfred-pas loop van Uniondale na Knysna. En daar kry ek sopas die goeie nuus: die eerste Dalene Matthee Boekefees vind vanaf 24–27 September op Uniondale plaas!

Nog ’n droom wat my bes moontlik vir die res van my dae sal ontwyk, is vir Johannesburg bedoel. Op hierdie stadium wil ek nie verder uitbrei nie. Maar ek kan mense verseker: dit sal die grootste idee in die geskiedenis van boekefeeste wees. Dit sal my present aan die swart skrywers van Suid-Afrika wees. Van ’n Indiër-Afrikaans-dosent.

Hoogtepunte?

Ongetwyfeld die stigting van die boekedorp! Ek dink nie mense besef hoe moeilik dit was vir ’n "nobody" – ’n Indiër nobody nogal – om ’n boekedorp in die Karoo te begin nie. Sonder geld! Met net ’n droom.

Boekedorp Richmond kom uit ’n sprokie! Een joernalis het ons tereg die sprokiesdorp van die Karoo genoem.

Koop Big Dan's Sofie by Kalahari.com

En skrywers soos Keith Britz ... Vir 25 jaar het Afrikaanse uitgewers hom net die deur gewys. Ek het in hom geglo. Hom na my eerste fees genooi sonder ’n gepubliseerde boek. Om die verhoog met die legendariese Patrick Mynhardt te deel. Vier jaar later is hy ’n finalis in die European Union Literary Awards. Daarna ’n finalis vir die Sunday Times / Alan Paton-prys. Sy Big Dan's Sofie is aan my opgedra. Meer spesiaal sal ek sukkel om te vind.

Waar is die Afrikaanse letterkunde 20 jaar na demokrasie?

Al ly Afrikaanse Departemente dwarsoor Suid-Afrika, is daar geen twyfel dat Afrikaans ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van boekefeeste en kunstefeeste in Suid-Afrika nie. Die KKNK is die grootste kunstefees is Suid-Afrika. En wat boekefeeste betref, het Afrikaans-dosente ’n monopolie. Dorothea van Zyl is die dryfkrag agter Woordfees. Ek is in beheer van sewe boekefeeste.

Afrikaans kan baie trots op hierdie prestasie wees.

Nou moet ek net die pos van Minister van Kuns en Kultuur kry. Dis sekerlik wat Obama bedoel het met daai wonderlike frase: The audacity of hope.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief

Young Voices Conference 2004
My memory: the past in six movements
– Arja Salafranca
2004-10-04

Briewe deur die lug
Amos met die klein mondjie
– Kirby van der Merwe
2000
Feeste
Die igloe op Buffelskop: ’n Persoonlike terugreis (I)
– Etienne van Heerden, Menán van Heerden
2010-07-14
Feeste
Boekbedonnerd 2013: Toppies innie langpad en ’n taal in ’n doodloopstraat
– Francois Verster
2014-05-21
Feeste
Booktown Richmond's BookBedonnerd Festival 2014
– Naomi Meyer, Darryl David
2014-05-21
Feeste
Breyten Breytenbach Boekefees 2013: Vier seisoene in die paradys
– Clinton V du Plessis
2013-07-10
Feeste
Breyten Breytenbach Boekefees 2013: Oor Montagu en literêre toerisme
– Gerdus Senekal
2010-07-14
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top