Breyten Breytenbach Boekefees 2013: Oor Montagu en literêre toerisme

  • 1

Die derde aflewering van die Breyten Breytenbach Boekefees het verlede naweek (5–7 Julie) in Montagu plaasgevind. Soos mens uit die naam aflei, hou dié fees hom besig met die verering en verkenning van die man wat algemeen as die grootste (lewende) Afrikaanse digter beskou word. Dat die fees dan ook hierdie area, waar hy in die buurdorp Bonnievale gebore is, plaasvind, is betekenisvol. Om in jou geestesoog in te sien hoe hy as "gewone kind" in hierdie plattelandse omgewing grootgeword het, verleen ’n mate van menslikheid aan sy ontsaglikheid as literêre figuur. Die veld en berge hier spreek ook van ’n geborge rustigheid wat ’n byna meditatiewe uitwerking op mens het.


Vrydag

Die verrigtinge word geopen deur die organiseerder, Darryl David, wat bekend is vir sy stigting van literêre feeste op plattelandse dorpies. Hier dink mens onder andere aan die Fugard-fees in Richmond (die Karoo een), die Schreiner-fees in Cradock en die Midlands Literary Festival in Darryl se tuisdorp, Howick.

Thys Human, wat hom as prosakenner op veral Ingrid Winterbach se werk toespits, is eerste aan die woord. Hy begin deur te noem dat hy homself juis weens sy fokus op die prosa ‘n bietjie uit sy element voel, maar met sy lesing, getiteld "Gestol in vlug: beweging en stilstand in Breytenbach se laatverse", is daar niks fout nie.


Thys Human

Kunshistorikus en skrywer Elza Miles, wat ook bekend is vir haar aansluiting by die Afrikaanse literêre wêreld van die Sestigers en haar proteswerk tydens apartheid, vertel van haar persoonlike betrokkenheid by die gebeure wat in John Miles se Stanley Bekker en die boikot neerslag gevind het. Hierdie Afrikaanse kinderboek is die eerste een ooit wat in Suid-Afrika verban is. Die skoliere wat destyds by Elza kuns geneem het, was verantwoordelik vir die illustrasies.

Ihette Jacobs, self onlangs opgeneem in Nuwe Stemme 5, is volgende aan die woord met ’n insiggewende bespreking van Henning Pieterse se gebruik van interteks in sy poësie. Haar lesing fokus spesifiek op Pieterse se gebruik van kuns (hier Kokoschka se Windsbruid en Van Gogh se Koringland met kraaie), en sluit dus slim by Miles se bespreking aan.

Clinton du Plessis gesels oor Rangeer, sy mees onlangse bundel, en daarna beweeg die fees na Breyten se geboortedorp toe vir middagete.


’n Artikel uit ’n Huisgenoot van 1976 wat in die Bonnievale-museum te sien is.

Fanie Olivier skop die middagsessie af met ’n kyk na Breyten se vergete of agtergeblewe bundels. Versamelbundels, soos Ysterkoei Blues, verseker wel die voortbestaan van afsonderlike bundels, maar dié se unieke en uitsonderlike identiteite gaan in die proses verlore. Dit is veral opvallend by die werk van iemand soos Breyten, waar daar byvoorbeeld in Plakboek ook van sy beeldende kuns parallel tot die (handgeskrewe) gedigte verskyn. Daar is egter niks van hierdie visuele toeligting in die versamelbundel te bespeur nie.


Fanie Olivier

’n Verdere punt van kritiek wat Olivier teen Ysterkoei Blues as versamelbundel inbring, is dat daar hier geen melding gemaak word van die oorspronklike uitgewers nie. Daardie boekehuise, waaronder Hond, Meulenhof, Buren en Taurus, wat in ’n baie meer ... vyandige omgewing as vandag se boekehuise met die destydse konserwatiewe regering moes beding.

Die problematiek van tyd in die gedig is Louis Esterhuizen se gespreksonderwerp, en dié word aan die hand van sy bundel Wat die water onthou, bespreek.


Louis Esterhuizen

Darryl David is laaste aan die woord. Hy word deur oudregter Chris Nicholson bekendgestel as die enigste Indiërman wat Afrikaans doseer. Hy het ’n byna bonatuurlike belangstelling in en liefde vir (plattelandse) kerke – alhoewel hy self nie ’n kerkganger is nie. Hy spot ook half dat hy toekomsvisioene sien nadat hy deur weerlig getref is. Darryl wys foto's uit en gesels oor sy nuutste boek, A platteland pilgrimage: 102 country churches. Die man se liefde vir klein dorpies is aansteeklik, en met die dag se verkenning van Montagu en die omliggende omgewing vars in ons geheue, begin die betekenis en belang van hierdie "klein" fees toenemend vorm aanneem.


Saterdag

Vroeg Saterdagoggend kom van die feesgangers byeen vir ’n begeleide toer deur Montagu. Die eindbestemming is Breytenbach se huis. Na afloop hiervan val digter Bibi Slippers gepas met ’n besonderse voorlesing van Breytenbach se gedigte met die deur in huis. Haar navorsing kom self-erkend op "ekstensiewe gebruik van Google Images" neer, waar sy foto's uit en van Breyten se lewe neem en dit dan met die voorlesing van ’n ter sake gedig koppel.


Bibi Slippers, die dun vrou met die groen trui.      Foto: Darryl David

So lees Slippers byvoorbeeld "’n brief van hulle vakansie (vir oubaas)" na aanleiding van ’n foto van Breyten en sy pa (wat hy Oubaas noem). Dit is ’n roerende en persoonlike voorlesing wat mens weer eens Breyten se fyn aanvoeling vir woord en emosie laat besef.

Die formidabele Riana Scheepers vertel van haar verhouding met die kunstenaar Hannetjie de Clerq. Effens in aansluiting by van Darryl David se opmerking die vorige dag noem sy (ook) die belang van plattelandse dorpies met betrekking tot die kuns-en-kultuur-pot aan die kook hou. Dis hierdie plattelandse mense wat moeite doen om kultureel aktief en betrokke te wees, anders as stedelinge, wat met alles byderhand bederf word.


Riana Scheepers

Die volgende groot item op die program is Ingrid Winterbach in gesprek met Thys Human en Darryl David. Sy noem dat sy destyds haar magisterverhandeling oor Breyten gedoen het omdat hy, soos Berger van Picasso gesê het, ’n "vertical invader" was. "Hy was so ánders, so harig. Ons almal wil soos Breyten wees. Met ’n eksotiese metgesel."

Met betrekking tot haar eie werk noem sy die rol van ruimte, dat sy waarskynlik ander boeke sou geskryf het as sy nie in Durban gebly het nie. Ruimte het ook ’n invloed op haar karaters en hulle ontstaan – dit kom neer op hoe ’n bepaalde karakter ’n bepaalde ruimte sou ervaar.

Thys wil weet of sy navorsers gebruik. "Ja, ’n hele span," antwoord sy met ’n stuitige glimlag. Dié kort antwoord is al wat ons kry. In aansluiting hierby wil Darryl weet of gegewens soos Karl (een van die hoofkarakters in Die aanspraak van lewende wesens) se voorliefde vir metal-musiek ’n dieper betekenis het. Sy noem dat daar nie ’n dubbele bodem is nie, dat dit maar bloot deel is van wie die karakter is. In aansluiting by die vraag oor navorsing noem sy ook dat Karl baie meer van metal weet as sy self.

’n Vrou uit die gehoor vra Ingrid uit oor die verhouding, of selfs moontlike samewerking, tussen haar skryfwerk en beeldende kuns. Vir dié woordkunstenaar is daar nie ’n wederkerige invloed nie – dis twee baie verskillende "dinge" wat eerder ’n verdeling van haar kragte en inspanning behels. Min van haar besluite, sê sy, hetsy as skrywer of as beeldende kunstenaar, is bewustelik.


Ingrid Winterbach

Met die afsluiting en bedankings sit ek en nadink oor die doel van die Breyten Breytenbach Boekefees. Dis ’n klein fees, ja, en baie mense sal dit juis as gevolg hiervan as onbelangrik uitmaak. Maar dit is ook ’n intieme fees. Dis ’n fees waar jy gekonfronteer word met mense, gerekende akademici en skrywers wat nie te goed of te belangrik is om op eie stoom en onkoste na Montagu te reis om hulle liefde en passie vir die letterkunde met die plebs te kom deel nie (ek haal my hoed vir al die deelnemers af). Dis ’n fees waar jy blootgestel word aan plattelandse natuurskoon, byna vervloë gasvryheid en aardse vriendelikheid. Die begrip "literêre toerisme" maak uiteindelik vir my sin. Die letterkunde en om te reis is tog eintlik onlosmaaklik deel van mekaar.


Die 4-ster Airlies gasteshuis waar ek (gratis) tuisgegaan het en baie dankbaar voor is. ’n Klomp Montagu-gastehuise was gaaf genoeg om die naweek se herberg vir die fees se sprekers te borg. Beproef Montagu se gasvryheid as jy ooit in die omgewing is.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Helen Gooderson

    What an honor to host such an incredible line-up of literary greats! Thank you all for your time and for filling our town with such thrilling culture for the weekend! Here's looking at 2014!

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top