Polony en die lelike eend

  • 0

Polony is ’n teaterkollektief wat opslae maak. Met jong akteurs in hul midde is hul sending: “Om relevante, nuwe, teater te maak en om ’n jonger generasie weer in die teater te kry.” Roeline Daneel, een van die lede, beantwoord enkele vrae oor hul ontstaan en toekoms.

Goeiedag, Roeline. Hoe's dinge?

Nee lekker, Henry, lekker. Ek is pas klaar met waarskynlik ’n laaste speelvak van Mooi Maria in Durbanville (te min mense het daardie stuk gesien) en is nou druk aan die voorberei vir twee Polony-produksies, Die Lelike Eend by Woordfees en N is vir Neurose by KKNK. Akteurs wat werk, kla nie sommer nie …

Ek het pragtige herinneringe aan Polony ... Op universiteit het ek en my twee woonstelmaats byvoorbeeld graag ’n dis genaamd polony pasta (dit was letterlik die twee bestanddele) in ’n pot opgekook. Waarom het julle op dié naam besluit en hoe weerspieël dit jul benadering tot teater?

Ek dink julle benadering tot die pienk vleisie som ons intensie goed op! Ons het lank gewik en geweeg oor moontlike name vir ons kollektief, maar uiteindelik besluit op iets wat glad nie elitisties of verwaand of selfbewus-intellektueel is nie. Dis toeganklik en almal geniet dit skelm of het minstens een of twee wonderlike, nostalgiese herinneringe. Niemand weet regtig wat die bestanddele van polony is nie, maar om die een of ander rede werk die finale produk. Dis die tipe teater wat ons hoop om te maak.

As ek dit nie nou mis het nie, het Polony by 2012 se Woordfees die mees gewilde produksie – N is vir Neurose – aangebied. Hoe het dié sukses jul teaterkollektief beïnvloed wat vooruitsigte en vertroue betref?

Neurose was genomineer as beste produksie, ’n groot eer as mens in ag neem dat daar slegs drie genomineerdes was, dat ons die new kids on the block was, en dat die wenstuk, Ont-, ook ’n Polony-produksie was. Ek dink die erkenning wat beide N is vir Neurose en Ont- die laaste jaar ontvang het, het ons in staat gestel om werklik in ’n toekoms vir Polony post-maiden voyage te glo. Ons was maar onseker verlede jaar hierdie tyd (N is vir Neurose het by Woordfees 2012 gedebuteer en Ont- is nog net deur ’n handjievol mense in klein teaters gesien). Dis baie bevrydend om te weet mens is dalk op die regte spoor, jy maak dalk teater wat relevant is, mense hou dalk, vir nou, waarvan jy doen. Ek sê “dalk”, want mens weet nooit hoe ’n nuwe jaar en nuwe probeerslae gaan afloop nie. En met teater kan mens nooit ontspan nie. Elke nuwe projek is eintlik weer ’n skoon bladsy, ’n Track record beteken eintlik nie veel nie.

Polony se vlagskip-produksie by Woordfees 2013 is Die Lelike Eend. Vertel meer?

Polony bied twee produksies by die Woordfees aan: Die Lelike Eend en Tjop en Dop. Die Lelike Eend het drie van N is vir Neurose se cast-lede en dis ’n wonderlike uitdaging omdat dit so anders as Neurose is! Neurose was meer aan die kommersiële kant (geensins dat dit blote fluff is nie, maar dit was ’n veiliger keuse). Die Lelike Eend is ’n vertaling van die kontemporêre Duitse dramaturg Marius von Mayenburg se Der Hässliche. Dit is ’n sosiale satire oor ons obsessie met skoonheid en hoe baie individualiteit ons sal inboet in ’n poging om “in te pas” of “aanvaarbaar” te lyk. Dis baie absurd. Die totale belaglikheid maak dit histeries snaaks ook.


Die Lelike Eend

Tjop en Dop is die boetie van N is vir Neurose. Die hoop is dat die twee deel van ’n trilogie sal wees, waar die derde aflewering beide rolverdelings sal insluit.


Tjop en Dop

Op jul Facebook-blad word gesê: "Om relevante, nuwe, teater te maak en om ’n jonger generasie weer in die teater te kry. Ons trek nie ons neuse op vir bestaande werk nie, alles word saam gedonner." Die kwessie van "jonger generasie weer in die teater kry" is een wat al lank bespreek is en seker nog lank bespreek sal word – wat is die geheim?

Ek dink ons het in ’n groot mate ’n plato bereik waar die meeste teater óf so ligsinnig en onuitdagend en kommersieel is dat dit eintlik doodvervelig is, óf so ernstig en selfbewus en hoogdrawend dat die meeste mense glad nie daarmee kan relate nie. Daar is natuurlik nie kitsoplossings vir hierdie tendens nie (jongmense stem seker ook al hoe minder, lees minder koerante en betaal minder vir fliekkaartjies – dis nie net teatermakers wat suffer nie), maar ek dink ’n groot tree in die regte rigting is om ’n ontmoetingsplek tussen “ligte” en “ernstige” teater te fasiliteer. Ons resident regisseur en dikwels skrywer, Christiaan Olwagen, is besonder goed daarmee. Hy kry dit reg dat jy een oomblik lag vir pop songs en awkward karakters en situasies, maar die volgende oomblik ongemaklik in jou stoel wriemel omdat jy jouself of jou mense of jou eie vooropgestelde idees herken.

Julle is ’n klein kollektief van relatief jong akteurs, maar beslis nie onbekende akteurs nie. Hoe gaan julle te werk daarmee dat elke lid van die kollektief ook sy of haar eie aspirasies en werk het en tog ook die kollektief se belange op die hart wil dra?

Dis ’n moeilike balans om te tref. Van ons moes al nee sê vir wonderlike ander geleenthede terwyl baie repetisietye ook al afgeskeep moes word omdat dié een ’n casting het of daardie een ’n ander repetisie by ’n meer gevestigde geselskap het. En uiteindelik is ons almal ook vriende, so dis maklik om vergunnings te vra. Maar ek dink almal in hierdie bedryf verstaan die onvoorspelbaarheid daarvan. En dat mens nie nee kan sê vir ’n last-minute roep op ’n televisieprogram of ’n gevestigde teaterstuk wat ’n gereelde fooi sal inbring nie. Maar aan die ander kant is daar ’n baie implisiete lojaliteit teenoor Polony. Daar is geen manier wat enigiemand dit vir die geld doen nie, so almal gooi hulle gewig in vir die liefde: as vervaardigers, vertalers, bemarkers, verhoogbestuurders en akteurs.

Hoe lyk Polony en die teaterwese se beplande verhouding vir die afsienbare (en verder as dit) toekoms?

Ons hoop om beide Die Lelike Eend en Tjop en Dop, wat beide nou eers debuteer, by verdere kunstefeeste en in ander dele van die land op te voer. Verder het nie N is vir Neurose óf Ont- al behoorlik gaan slaap nie, so daar wag ook nog ’n speelvak of twee. En daarna? Ons kyk maar of mense nog belangstel. Of ons nie dalk almal deur sepies opgeraap word nie. Of besluit het om die ingenieurs en dokters en prokureurs te word wat baie mense ons aangeraai het om te word nie. Maar vir nou is ons nog opgewonde. Te opgewonde.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top