Polemieke – Bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël J Botma: ’n lesersindruk

  • 0

Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans
Gabriël J Botma

Uitgewer: Struik
ISBN: 9781776092314

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Elke jaar word daar baie boeke gepubliseer. Dis ’n goeie ding, want die behoefte aan leesstof is groter as wat mens ooit sal besef. Maar dit maak jou keuses moeilik, en ek is gewoonlik bitter selektief in wat ek sal koop en lees. Dit beteken nie ek lees net dit waarvan ek hou nie. Inteendeel. Ek hou byvoorbeeld van die "groot" boek. Daardie soort boeke waarvan mense getuig. Boeke wat mense beweer hulle lewens verander het. Wat hulle perspektiewe geskuif het. Dikwels dié wat blitsverkopers was. Sulke boeke het gewoonlik ’n belangrike boodskap. Iets daarin sal ook waarskynlik vir jou waarde hê, ongeag wie jy is. Maar ander oorweginge lok my ook by die koop van ’n boek. Die kort en die lank is egter dat ek gewoonlik goeie navorsing doen voor ek ’n boek koop en lees. En ek is net by uitsondering impulsief. En selfs dan loop mens nie jouself altyd vas nie. Maar daar is ook uitsonderinge, groot uitsonderinge, hierop …

Ek het myself totaal misgis met Gabriël J Botma se boek Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans. Laat ek bieg, ek het die boek beslis te impulsief gekoop. My vermoede was dat hierdie boek sal handel oor al die kontemporêre vraagstukke waarmee Afrikaanse mense vandag in 2018 worstel. Dit is die indruk wat ek uit die voorblad en die titel van die boek gekry het. Dit het gelyk soos een van daai: “Waarheen nou, Suid-Afrika?” of “Wat volgende, Suid-Afrika?”-tipe boeke. Maar dit is nie wat hierdie boek is nie. "Hierdie boek is ’n historiese studie van die grootste polemieke wat oor honderde jare in Afrikaans gevoer is, en dit fokus dus nie net op kontemporêre debatte nie.

Dis nie dat die boek onkeurig geskryf is nie. Dis nie dat die boek vol foute is nie. Dis nie dat dit in elke opsig ’n teleurstellende boek is nie. Inteendeel, met Botma se skryfstyl is daar geen fout te vind nie. Maar soos wat ek voort gelees het, het ek begin voel dat hierdie boek ’n onderwerp wat eenvoudig te omvangryk en geskakeerd is te neem en in een bundel te probeer inprop. Polemieke dokumenteer eintlik maar net sommige van die groot debatte wat deur “Afrikaners” oor baie eeue gevoer was. Dit is ’n geskiedenisboek. Dit maak ’n ondersoek na die geskiedenis van polemiek in Afrikaans, maar die onderwerp is, na my beskeie mening, eenvoudig te wyd vir een volume.

Bothma se boek is in agt hoofstukke verdeel en dek onderwerpe soos sport, politiek, kerksake, misdaad en taal. Hierdie verdelings onderbreek net die kronologie, want elke hoofstuk moet weer van vooraf teruggaan in tyd. Soms oorvleuel die onderwerpe, want kuns en sport en politiek en kerk krap mos maar uiteraard altyd in mekaar se slaai. Die inleiding van die boek is so goed, dit sou ’n beter slot gemaak het as die bestaande slot. Dit is asof die skrywer belangriker gevolgtrekkinge oor Afrikanerpolemiek maak in die inleiding as in die slot, en die slot lees meer soos ’n opsomming uit ’n geskiedenisboek. Die slot van hierdie boek sê meer oor die geskiedenis van die “Afrikaners” as wat dit oor die aard van hulle polemieke sê, maar ten minste is daar ’n baie knap inleidende bespreking.

Bowenal is daar egter die reusegapings in die teks. Die oomblik wanneer mens wegval en begin lees, dan val dit jou op: Daar is so baie sake en onderwerpe van polemiek wat nie in hierdie bundel gedek word nie, dat dit my met ’n bietjie van ’n wrang smaak gelaat het. Daar is byvoorbeeld onderafdelings oor Steve Hofmeyr, Joost van der Westhuizen en Koos Kombuis, maar wat van ’n deeglike bespreking oor iemand soos Siener van Rensburg en die nag van die lang messe? Die histerie oor Siener van Rensburg was nogal ’n gewigtige saak in die verlede. In meeste gevalle maak Botma ’n studie van wat die bekende Afrikaanse koerante van die tyd oor ’n bepaalde saak geskryf het, maar sommige sake word so vlugtig in die boek bespreek dat daar eintlik min weergegee word oor die polemiek rondom die saak, en al waarmee mens gelaat word is ’n opsomming van die feite, waarmee jy gewoonlik reeds vertroud is.

Onder die afdeling oor Adriaan Nieuwoudt is daar ’n bespreking van Nieuwoudt se kubusskema en sy latere kaolienmynery, maar daar is geen bespreking van Nieuwoudt se meer onlangse aktiwiteite met betrekking tot die pogings van die stigting van ’n nuwe eksklusiewe wit dorpie  aan die Weskus nie. Die hele hoofstuk oor misdaad, wat begin met ’n bespreking van Daisy de Melker, is trouens maar net ’n beperkte voëlvlug van Afrikaanse misdaad. Daar is so baie ander misdaadsake wat oor die jare polemiek ontlok het dat mens oor die onderwerp van Afrikaanse misdaadpolemieke alleen waarskynlik tientalle boeke sou kon skryf. Mens dink byvoorbeeld aan die eenheid van okkultiese misdaad, wat in Suid-Afrika op die been gebring was onder die  leiding van doktor Kobus “Donker” Jonker, en Suid-Afrika se weergawe van die “Satanic panic”, wat sterk onder Afrikanergemeenskappe gewoed het. Trouens, daar is al sulke boeke geskryf, en mens dink byvoorbeeld aan Nicky Falkof se boek: Imagining the End of Whiteness: Satanism and Family Murder in Late Apartheid South Africa (Jacanda, 2016).

Met ’n onderwerp soos hierdie, is ek nou oortuig, sou selfs die heel beste skrywer (as daar so iets soos die beste skrywer kon wees) in Afrikaans gesukkel het om die boek vir my oortuigend te maak. Dit is so omdat daar te veel gesê moet word om alles in een bundel behoorlik saam te kan vat. Die spasie is eenvoudig te min, en die onderwerp te wyd. Dit is selde dat ek ’n boek koop en sê ek is maar bietjie teleurgesteld, maar hierdie is so geval. Dit is seker maar mens se straf as jy nie jou navorsing oor die boek wat jy koop behoorlik vooraf gedoen het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top