Poel van kundigheid ten bate van Afrikaanse onderrig, ’n onderhoud met Wannie Carstens

  • 1

Die IVA (Internasionale Vereniging vir Afrikaans) is ’n internasionale netwerk wat ten doel het om oor sake rakende Afrikaans met mekaar te skakel. Die vereniging se fokus is veral Afrikaanse taal- en letterkunde op ’n akademiese vlak, maar strek ook wyer en sluit ander aspekte in wat betrekking het op die bevordering en uitbreiding van Afrikaans op internasionale vlak.

Die IVA het besluit om as vertrekpunt ’n databasis saam te stel van die personeel wat aan Suid-Afrikaanse universiteite by die onderrig van en navorsing oor Afrikaans betrokke is. Die databasis het ten doel om mense uit die buiteland wat hulle met Afrikaans besighou, toegang te gee tot die inligting en hulle in staat te stel om met Suid-Afrikaanse kenners in verbinding te tree.

Liné Enslin het met Wannie Carstens (namens die IVA-werksgroep) oor die inisiatief gesels.

Wannie Carstens (Foto: Izak de Vries)

Hallo Prof. Vertel my asseblief bietjie meer oor die IVA, wat die doel daarvan is en wie daarby betrokke is.

Die oorspronklike idee van die IVA het in 2012 ontstaan. Ek was destyds die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ons het toe ’n versoek gekry van mense wat in die buiteland Afrikaans doseer of ons nie ’n formele struktuur kan vestig om hulle te ondersteun nie. Toe het ons drie mense hier byeengebring: Jacques du Plessis (van die Universiteit van Wisconsin in die VSA), Ena Jansen (toe nog hoogleraar in Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Amsterdam) en natuurlik Jerzy Koch van Pole. Hulle het Suid-Afrika toe gekom en ons het ’n sessie saam met die Akademieraad gehou oor hoe ons dit kan doen. Tydens daardie gesprek het dit skielik na vore gekom: ons moet dieselfde doen as wat die Nederlanders doen. Hulle het naamlik die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) en daardie vereniging is daarop ingestel om Nederlands na buite te bevorder. Hulle praat van Nederlands “buitengaats” (buite die land). En dit is waar die idee gekom het: kom ons doen dieselfde ding en dan praat ons van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA). En met die steun van Hennie van Coller (UV) en Dorothea van Zyl (US) as lede van die loodskomitee kon die projek momentum kry. As Akademievoorsitter het ek ook my gewig daaragter geplaas en dit vanuit Akademiegeledere gedryf.

Dit het begin as ’n ondersteuningsmeganisme vir mense wat in die buiteland by die doseer van enige aspek van Afrikaans betrokke is. Hierdie rolspelers in die taal- of letterkunde of taalverwerwing is nie baie nie. Ek het vir baie van hulle in my persoonlike hoedanigheid oor die jare steun gegee, maar die probleem is dat mense soos ek mettertyd uit die sisteem wegval en dan verval die struktuur. Die belangrikste is die kontinuïteit.

Verder moes ons ook vir ’n slag binne die Afrikaanse taal- en letterkundegemeenskap bietjie konsolideer en kyk wie doen wat. As jy die plaaslike mense se kundigheid bietjie bymekaarsit, sit jy uiteindelik met ’n enorme gekonsolideerde poel van kundigheid wat die mense in die buiteland kan gebruik. Ons het dus ’n ondersteuningsmeganisme nodig wat gebou is op die kundigheid van die mense wat in die bedryf is.

Ons het nie so ’n groot, formele struktuur soos die IVN nie. En ons het dit waarskynlik ook nie nodig nie. Miskien in die toekoms, maar nog nie nou nie. Ons het ’n soort assosiasie met ’n instansie wat dit bestuur. Daardie tyd het ek gereken die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns moet dit doen. Dit is naamlik die Akademie se funksie om Afrikaans as ’n hoëfunksietaal en wetenskapstaal te ontwikkel. Afrikaanse taal- en letterkunde is mos in elk geval deel van die wetenskap van Afrikaans. Die Akademie het egter nie die personeelkapasiteit om dit volhoubaar te kan doen nie.

Die Akademieraad het wel fondse beskikbaar gestel vir ’n koördineerder om die projek aan die gang te kry. En Natasja Schellaars-Le Roux het baie goed werk gedoen deur die projek te probeer verkoop aan belanghebbendes in die land asook by toepaslike vakkongresse. In hierdie proses het sy die meeste departemente Afrikaans of Afrikaans en Nederlands in die land besoek. Die rede hiervoor was eenvoudig: as jy kundigheid wil deel, moet jy diegene wat die kundigheid het, vra of hulle daaraan wil deel hê. Verder is die dop van ’n webwerf ook ontwerp. Natasja het egter teen 2015 bedank om ’n ander loopbaangeleentheid te benut en toe het die projek vir ’n tyd lank stilgestaan – waar niemand verantwoordelikheid daarvoor wou neem nie. My termyn as voorsitter van die Akademie het toe ook in 2014 afgeloop en vanuit my eie hoek kon ek dit nie verder stuur nie. Ons moes uiteindelik ’n plan maak.

Ons het toe die Afrikaanse Taalraad (ATR) genader en gevra of hulle nie die projek wil oorneem nie. As gevolg van Conrad Steenkamp (hoof van die ATR), Ria Olivier (projekbestuurder van die ATR) en Anne-Marie Beukes (voorsitter van die ATR) se gesprekke met Dioné Prinsloo, HUB van die Akademie, is die projek aan die ATR oorgegee om verder te bestuur. Die Taalraad het toe in Oktober 2016 ’n sessie op Stellenbosch gehad waar die idee weer uitgepak is. Die besluit is toe geneem om weer die projek te inisieer. Omdat die Taalraad se aanvanklike doel was om Afrikaanse aktiwiteite te koördineer sodat daar beter netwerking kan plaasvind, was die ATR die ideale liggaam om nuwe lewe in die projek te blaas.

Die IVA vaar dus nou onder die vaandel van die ATR. Die ATR se funksie is om vir die IVA ’n struktuur te gee en aan die gang te kry. Aan die hand daarvan sal ons dan ’n begroting opstel. Ons is op soek na ’n borg wat bereid is om R100 000 ’n jaar vir Afrikaans in die buiteland te gee. Ek hoor graag van sulke borge! Wat ons daarmee gaan doen, is om die kundigheid bymekaar te maak, op ’n webblad bymekaar te sit en dit in stand te hou. Ons wil die skakels verbind – ’n sentrale punt skep wat al die los drade op één plek bymekaarbring.

Dit klink vir my die idee is dus dat hierdie ondersteuningsmeganisme die vorm van ’n databasis aanneem wat dosente in die buiteland kan raadpleeg wanneer hulle navrae oor Afrikaanse taal- of letterkunde het?

Ja. Mense kan daarheen gaan, eenvoudig op ’n skakel klik en soek wat hulle nodig het. As iemand soos Rina Loader in Wene, Oostenryk, byvoorbeeld inligting oor ’n bepaalde aspek van die Afrikaanse poësie wil hê, kan sy kyk wie die kundige op daardie gebied is en daardie persoon kontak om hulle daaroor te vra. Ons gee basies vir die mense daar buite ’n steunbasis. Hulle is reeds alleen en moet alle studiemateriaal op hulle eie saamstel. Hulle kan dan nou sê wat hulle nodig het.

Die projek kan ook beteken dat akademici op ’n later stadium sal saamwerk in navorsing, wat die netwerke tussen lande verder sal versterk.

Wie se inligting gaan in die databasis ingesluit word en watter spesifieke inligting gaan oor elkeen verskyn?

Die basiese inligting wat daarin vervat sal word, is die persoon se naam, opleiding, waar hy/sy opgelei is, spesialiteitsgebied en kontakbesonderhede. Die ideaal is dat die spesialiteitsgebied baie spesifiek en afgebaken moet wees. Daar moet nie byvoorbeeld staan dat die persoon spesialiseer in Afrikaanse letterkunde nie, maar eerder dat hy of sy spesialiseer in die Afrikaanse poësie van die 1930’s, of die moderne prosa. As die persoon meer weet van sekere digters, moet dit gespesifiseer word. Hoe meer spesifiek dit is, hoe makliker sal dit wees vir die persoon in die buiteland om die regte persoon vir sy of haar navraag te kies.

Ons wil ook ’n kort beskrywing of bekendstelling en skakels insit na belangrike verenigings en liggame, soos Afrikaans.com, VivA, LitNet, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die WAT, die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, die Afrikaans-departemente van al die instellings in die land, ens.

Waar gaan die databasis beskikbaar wees en wie gaan toegang daartoe hê?

Sodra al die inligting versamel is en die webblad afgerond is, gaan ons dit bemark. Daar is ’n moontlikheid dat ons ’n klein bedrag sal vra vir toegang tot die databasis, maar dit is bloot om te verseker dat mense dit nie misbruik nie. Daar gaan op elke moontlike platform skakels daarna wees, sodat dit toeganklik is.

Ons gaan nie die webblad vir kommersiële doeleindes gebruik nie, want dit is nie die doel daarvan nie. Niemand moet daaruit geld maak nie. Dis ’n bymekaarkompunt vir inligting. As daar iemand is wat goeie produkte vir Afrikaans skep, byvoorbeeld oor hoe om Afrikaans as ’n vreemde taal aan te leer, kan hulle dit stuur en dit sal daarop geplaas word. Dan word dit in die regte kringe bekend gemaak.                                                                                          

Sal die databasis, al is dit aanvanklik nog nie moontlik nie, uiteindelik ook ander kenners kan insluit wat nie noodwendig aan ’n spesifieke instelling verbonde is nie? Ek dink nou aan byvoorbeeld professionele vertalers of teksredakteurs, onafhanklike navorsers en individue van ander departemente, soos taalwetenskap of tolking? Natuurlik individue met die nodige ervaring en akkreditasie.

Ons wil juis ook mense wat in die akademie was, mense wat reeds afgetree het, se kundigheid op ’n lys sit. Ons gaan hulle kundigheid gebruik. Hulle kan dus die koördineerder nader sodat hulle inligting geplaas kan word.

Mense gaan hulle nie oorval nie – mense gaan bloot dinge vra soos: “Watter bron moet ek hier gebruik?” “Het jy nie dalk vir my ou materiaal op PowerPoint-aanbiedings nie?” Op hierdie manier maak ons dit moontlik vir daardie mense om moeiteloos Afrikaans daar anderkant te doseer. Ons praat spottenderwys van die Afrikaanse “sendelinge”, want dis mense wat uitgaan, die wye wêreld in, soos mense in die ou dae oor die vlaktes gaan loop het en sendingwerk gedoen het. Hulle het grammatikas gaan opteken en boeke geskryf en Bybelvertalings gedoen. Hierdie dosente is die wye wêreld in. Baie van hulle is daar omdat hulle daar wíl wees – dis Suid-Afrikaners wat daar gaan werk het. Dan is daar ook mense soos Jerzy Koch, ’n Pool, en Bob Kirsner, ’n Amerikaner wat al die jare, tot middel verlede jaar, by UCLA in Los Angeles Afrikaanse taal- en letterkunde doseer het. Hy het dit nie gedoen omdat hy moes nie, hy het dit gedoen omdat hy daarvan hou. Nou maak ons dit net makliker vir ouens soos Bob.

Enigiemand anders kan vir Dewald Koen van Fort Hare, wat voorlopig in beheer van die databasis is, kontak, hulle besonderhede verskaf en vra dat hy hulle inligting ook op die lys sit.

Sal dit ook nuttig wees om uiteindelik ook kenners van ander lande in te sluit? Ek dink byvoorbeeld aan mense soos Yves T’Sjoen van Gent.

Absoluut! Ons wil uiteindelik ook die inligting kry by mense wat Afrikaans in die buiteland doseer. Wie is hulle? Waar is hulle? Ek weet van die VSA, Pole, België, Nederland, Duitsland, Rusland en natuurlik Namibië. Watter klasse bied hulle aan? Ons wil ’n profiel van hulle skep, miskien met ’n kort onderhoud. Op hierdie manier word dit ook verpersoonlik.

Hoe gaan die databasis onderhou en bygewerk word?

Die eerste ding wat moet gebeur, is dat die mense van die Afrikaans-departemente regoor die land hulle inligting stuur. Dewald Koen het, soos ek reeds aangedui het, aangebied om alles bymekaar te sit, maar die inligting kom baie stadig in. Ek sal baie bly wees as die mense wil saamwerk en die nodige inligting kan aanstuur. Ek skimp dus duidelik in die rigting van die betrokkenes by die onderskeie universiteite!

Wanneer die webblad aan die gang is, sal mense die webmeester kan kontak en sê waarna hulle op soek is. Die webmeester sal dan kyk wie daarmee kan help en dan die twee mense met mekaar in kontak stel.

Ek dink dat dit miskien goed sal wees as hierdie skakelpersoon iemand in die Lae Lande is, iemand wat die Europese én die Suid-Afrikaanse konteks ken. So ’n persoon moet ongelukkig betaal word vir sy of haar tyd om die webblad in stand te hou. Iemand soos Ena Jansen, Ingrid Glorie of Jerzy Koch, of wie ook al bereid is, kan ook as adviseur van die inisiatief dien. Ons sal seker ook ’n soort adviesraad bymekaar moet kry om die projek verder te stuur en te steun.

Ons wil ook ’n deurlopende projek hê en elke maand ’n profiel van ’n Afrikaanse taal- of letterkundige plaas waar ons die kollig op hulle laat skyn, met ’n kort vraag-en-antwoord-sessie oor hulle loopbaan. Die doel is om ’n storie en ’n foto aan ’n naam te koppel.

Die ideaal is ook dat dit interaktief moet wees. As daar byvoorbeeld ’n nuwe boek deur een van die akademici gepubliseer word, kan die besonderhede in ’n aparte afdeling geplaas word. Daar kan aparte afdelings wees vir profiele, boeke, interessanthede, nuus, ens, om ’n prentjie te skets van die wêreld waarbinne die Afrikaanse taal- en letterkundiges lewe.

As dit nodig is, nader ons ook ’n departement Afrikaans en vra of hulle nie jaarliks vir ons 'n M-student wil kry om dit vir die jaar te bestuur nie. Dit beteken ’n student kan binne ’n kwessie van ’n jaar die totale spektrum van Afrikaanse taal- en letterkunde leer ken. Watter wonderlike blootstelling sal dit nie wees nie!

Afrikaans op tersiêre vlak is op die oomblik onder baie druk. Sal hierdie projek kan bydra tot die behoud daarvan? Miskien omdat dit klem plaas op die groot aantal rolspelers wat by die onderrig van Afrikaans betrokke is?

Ek hoop van harte so.

Kyk, Ena Jansen was nou vir lank ’n professor in Nederland – vir 16 jaar, dink ek, wat lank is. Daar word nou van so ’n professoraat ook in België gepraat. Nou kom die mense van die buiteland ook en stel belang, maar ons wil dit hier nekomdraai. Dit maak nie sin nie. Daar is baie mense wat sê jy moenie jou energie mors deur Suid-Afrika in die buiteland te probeer bemark nie, en dat hier reeds genoeg probleme is. Ek glo egter jy moenie net na binne bemark en bemarking na buite nalaat nie.

Ek glo aan die toekoms van Afrikaans. As ek nie het nie, sou ek nie al my tyd en energie daarin gesit het nie. Ek gaan nie sit en wag dat Afrikaans doodgaan nie, want as ek sit en wag, sal hy mos doodgaan. As alle Afrikaanssprekendes nou sê: “Ag nee wat, dis verby, dis verlore, ons gee moed op”, en ons skeur ons klere en sit in die hoekie en huil en gooi as op ons kop en ween, soos hulle in die Bybel gemaak het, wat help dit?

Die vraag aan elke Afrikaanssprekende is: Wat doen jý? Ek skryf boeke, ek vestig hierdie webwerf, ek praat met mense, ek neem deel aan Afrikaanse organisasies. Sit jy terug en kritiseer? Ons moet elkeen doen wat ons hand vind om te doen.

Ek het vanoggend ’n student hoor praat oor #FeesMustFall. Toe dink ek: natuurlik sluit Afrikaans mense uit, dit is so. Maar Engels sluit ook mense uit. Dis gewoonlik ’n vreeslik eensydige argument wat gevoer word. Die redenasie is dat Afrikaans nou maar afgeskaf moet word. En wat dan? Dan gebruik ons almal swak Engels. Ek is totaal verstom oor die dom denke – dat jy deur te verskraal beter word. Ongelukkig word hierdie stemme die oorheersende stemme in die debat. Niemand het vir jou as Liné kom vra nie – hulle het enige persoon langs die pad gevra vir ’n opinie en dan is sy of haar opinie nie genuanseerd nie. Ons moet wel met mekaar in gesprek tree.

Ons moet ook afsien van die idee dat Afrikaans ’n wit taal is. Ek en Michael le Cordeur het met Ons kom van vêr probeer om dié persepsie uit te daag, maar daar is nog baie werk om te doen, daar lê nog ’n lang pad voor.

Vir die jonger generasie lê daar ontsettend baie werk voor, maar die ouer geslag kan vir julle ’n basis gee. In die laat 1990’s het ons hier op Stellenbosch ’n beraad gehou oor wat die Afrikaanse gemeenskap doen om die jeug ingelig te hou oor alles en oor wat hulle moet doen. Die jeug sê altyd hulle weet nie wat om te doen nie. ’n Studenteraadslid van die destydse PU vir CHO (nou NWU) het toe gesê die ouer generasie swyg en sê nie vir “ons” (bedoelende die jonger Afrikaanse generasie) wat om te doen nie. Hy was reg! Die jeug moet daarom ons oueres (of sal ons eerder sê “meer ervare akademici”) se kundigheid tap! Kry ons op ’n dag bymekaar en vra ons alles wat julle wil vra.

Hierdie projek is nou ’n geleentheid om die bestaande kundigheid te tap. Tap ons leeg en kry alles wat julle nodig het om aan Afrikaans se toekoms te bou! Dit is opwindend, en ’n uitdaging vir die jonger geslag.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Henriette Jacobs

    Baie sterkte en seën met hierdie inisiatief. My dogter, Jo-Riette Jacobs is tans besig met haar MA-verhandeling (Afrikaanse romankuns) met prof Thys Human as studieleier en as oud -Afrikaans-onderwyseres lê my taal en sy uitbou en voortbestaan my baie na aan die hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top