
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Agt-en-vyftig jaar gelede – op 25 Maart 1957 – het die hoogste hof van appèl uitspraak gelewer in Silva's Fishing Corporation v Maweza,1 'n saak waarmee elke regstudent een of ander tyd kennis maak.
Silva's was die eienaar van 'n vloot visserskuite. Een van die skuite, die Antoinette, met 'n bemanning van agt, het na die oop see gevaar om 'n dag lank vis te vang. Toe dit laatmiddag wou terugkeer, het die enjin gaan staan en wou dit – ten spyte van herhaalde pogings – nie weer vat nie. Silva's is 'n paar keer van die voorval verwittig, maar hulle het niks gedoen nie.
Nege dae lank het die boot hulpeloos op die see rondgedobber totdat dit naby Lambertsbaai in 'n storm op die rotse geloop het. Al agt bemanningslede, onder wie ene Maweza, het verdrink. Maweza se weduwee het daarna 'n aksie om skadevergoeding teen Silva's ingestel.
Die vraag waaroor die hof moes beslis, was of Silva's Fishing aanspreeklik was op grond van hul versuim om die skuit en sy bemanning te red.
Miskien moet ons die probleem met 'n eenvoudige voorbeeld illustreer. As jy en jou buurman stry kry, en jy dam hom met die vuiste by, sal jy sekerlik skuldig wees ten minste aan die misdryf aanranding. Jou buurman sal waarskynlik ook met 'n siviele eis teen jou kan slaag vir sy mediese onkoste, asook vir sy pyn en lyding en sy gekrenkte eergevoel. Jy het 'n onregmatige daad teen hom gepleeg; jy het iets aan jou buurman gedoen wat deur die reg afgekeur word.
Maar wat sou die geval wees as iemand bloot net sou versuim om iets te doen? Regsgeleerdes is lief om die voorbeeld van die kampioenswemmer aan te haal. Hy staan langs 'n swembad. 'n Kleuter wat nie kan swem nie, hardloop daar verby. Sy voet gly en hy val in en verdwyn onder die water. Die kampioenswemmer sien alles gebeur, maar verroer nie 'n vinger om die kleuter te red nie. Behoort hy regtens aanspreeklik gehou te word weens sy versuim om op te tree?
Dít was min of meer die probleem voor die appèlhof in die saak teen Silva's Fishing Corporation. Moes die hof Silva's aanspreeklik hou op grond van hul blote versuim om die visserskuit en sy bemanning te hulp te snel?
Al vyf appèlregters het saamgestem dat Silva's wel aanspreeklik was. Hulle het egter met mekaar verskil oor die gronde waarop hulle aanspreeklik was. Drie regters het só geredeneer: omdat Silva's van hul werkers verwag het om na die oop see te vaar, het hulle 'n gevaar vir die vissers aan boord van die Antoinette geskep. Toe die enjin gaan staan het, was daar 'n plig op Silva's om die bemanning te gaan red op grond van die gevaarlike situasie wat hulle geskep het. Sien jy? Silva's se plig om op te tree het gespruit uit 'n voorafgaande handeling – die skep van 'n gevaarlike toestand.
Appèlregter Steyn het effens anders geredeneer, en sy uitspraak het lateraan baie waardering in regskringe uitgelok. Hy het weggestuur van die vereiste van 'n voorafgaande handeling wat 'n gevaarlike toestand geskep het. Volgens hom het Silva's se aanspreeklikheid gespruit uit 'n regsplig om die skuit deurlopend seewaardig te hou. Toe die skuit in die moeilikheid beland het, moes Silva's alle redelike stappe gedoen het om die enjin weer aan die gang te kry; om die skuit met ander woorde seewaardig te hou. So nie, moes hulle gesorg het dat die bemanning veilig teruggebring word land toe. Om die skuit vir nege dae op die oop see te laat ronddobber was 'n duidelike verbreking van hierdie regsplig, en dáárom was hulle aanspreeklik, nie omdat hulle vooraf sogenaamd 'n “gevaarlike situasie” vir hul werknemers geskep het nie.

