Plek van poue as Gotiese roman

  • 0

Plek van poue
Henriëtte Linde-Loubser
LAPA Uitgewers
9780639605296

Daar is ’n groot skaarste aan Gotiese tekste in die Afrikaanse literatuur, om van Gotiese romans nie eens te praat nie. Daarom is dit verblydend wanneer ’n Afrikaanse skrywer haar hand aan dié genre waag, en dit boonop met welslae doen. Om ’n Gotiese roman aan te pak, is geen maklike taak nie, want Gotiese tekste is nie blote spookstories nie; inteendeel, dit het veel meer om die lyf as gewone grieselverhale. Die Gotiese roman is nie net veronderstel om “genotvolle verskrikking” te bied aan lesers met ’n morbiede fassinasie met die dood en die makabere nie, maar die Gotiek spreek ook dikwels op indirekte wyse sosiale euwels aan.

Met die skryf van Plek van poue het Linde-Loubser duidelik intensief navorsing gedoen oor die Gotiese roman se konvensies. Sy het die grusame tonele wat dié genre kenmerk, suksesvol verplaas van ’n Europese milieu na ’n eietydse Suid-Afrikaanse plaasomgewing. So reg in die aard van die Gotiek speel Plek van poue hoofsaaklik af in’n baie ou kasteel wat ’n soort meespeler in die sinistere gebeure word. Die kasteel se mure word beskryf as ’n entiteit wat “boosheid en onheil” fluister, en daar is verskeie geheime kamers, verbode vleuels en skemer gangetjies, tonnels en kelders wat deur die loop van die boek ontwikkel tot ’n simbool van die hoofpersonasie Stela se gekwelde onderbewuste.

Verder is Robert, die kasteel se eienaar, ’n tipe Mefistofeles-figuur met ’n “ontstigtende teenwoordigheid”. Hy word beskryf as ’n “eienaardige man” met skraal ledemate wat “stadig ontvou”, en as “gruwelik aantreklik in sy donker pak”. Boonop het die “master” se skilderye slegs sy oorlede vrou as onderwerp, asof hy haar op dié manier keer op keer uit die dood wil wek. Robert se beeldskone, “witbleek” dogter met “donker kringe” om haar “waaksame oë”, het weer ’n byna bloedskandelike obsessie met haar oom aan moederskant – nog ’n kenmerk van die Gotiese roman, waar die motiewe van verbode seksuele begeertes dikwels ontgin word.

Plek van poue is bevolk met groteske karakters: die “motvrou” Leto met haar kapjas wat oral rondsluip en inkantasies fluister; Fredo, ’n onderdanige dwerg met ’n drankprobleem; die stywe, konserwatiewe “trieksterfiguur”, mevrou Cloete; en die spreekwoordelike “madwoman in the attic”, madame Irene, wat onder vreemde omstandighede dood is, en wie se teenwoordigheid steeds in die kasteel aangevoel word. Hierdie personasies is opsetlik stereotiep uitgebeeld om sodoende, juis deur middel van hulle herkenbaarheid, kommentaar op sosiale kwessies te lewer.

In hierdie roman is dit die emosionele mishandeling van die vrou deur haar besitlike minnaar wat aan bod kom. Die Gotiese roman verwoord trouens dikwels die stryd tussen die geslagte, waar die egoïsties-sadistiese manlike karakter gestel word teenoor die vroulike personasie wat deur sosiale norme ingeperk word en daarvan wil ontsnap.

Die hoofkarakter Stela is egter nie jou prototiepe “damsel in distress” nie, al is haar lewe dikwels in gevaar en word sy bedreig deur vloeke, kwynende geestesgesondheid en nagmerries. Sy is ’n eiesinnige, onafhanklike vrou wat die seks met haar “master” net soveel as hy geniet. Sekstonele in boeke loop dikwels die gevaar om óf uiters kitsch uitgebeeld te word, óf te tegnies te raak. Linde-Loubser trap nie in dié slaggate nie. Die sekstonele in Plek van poue is uiters vaardig geskryf, met net genoeg erotiek en suggestie – iets waarin nie eens die mees gesoute skrywers aldag slaag nie.

In sekere opsigte herinner Plek van poue aan Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (1962). Nes die onkundige buitestander Henry van Eeden in Sewe dae wat ingelyf moet word in die dekadente leefwyse op die landgoed Welgevonden, moet die naïewe Stela as buitestander geïnisieer word in die geheime van Pavo. In albei rykmanswonings word uitspattige partytjies gehou, woon daar eksentrieke, grillige karakters, en woed die stryd tussen die goeie en die bose, en tussen orde en chaos.

Dalk sal hierdie vergelyking met Leroux se “elitistiese” teks my verkwalik word, want die Gotiek word immers as “ontspanningslektuur” of as “triviaalliteratuur” beskou. Gotiese romans het eers taamlik onlangs, danksy die psigoanalitiese waarde daarvan, begin om wêreldwyd ’n hoër status te geniet, maar Afrikaanse Gotiek suig meestal steeds aan die literêre agterspeen. Boonop is Afrikaanse lesers taamlik onbekend met die konvensies van dié genre, wat ’n moontlike verklaring gee vir die uitdruklike aanwysing op Plek van poue se voorblad dat dié boek ’n Gotiese roman is.

Alhoewel daar oomblikke van broeiende onheil in Plek van poue is, veral wanneer Stela haar in die kerk se kelder bevind, ontbreek dié boek plek-plek aan ’n koorsagtige intensiteit – ’n element wat onontbeerlik vir die Gotiese roman is. Die “duister kerkers van die siel” word nie behoorlik ontgin nie, want in plaas daarvan dat die leser self die donker atmosfeer van sublieme melankolie en wanhoop aanvoel deur middel van subtiele atmosfeerskepping en beskrywing, word die emosies wat die karakters ervaar, soms blote mededelings. Voorbeelde hiervan is: “[I]ets aan hierdie plek krap aan haar senuwees.”; “Daar is ’n groeiende onrustigheid in haar.”; en “Dit was angswekkend.” Daar is nog etlike sulke voorbeelde waar die leser “vertel” word wat die hoofkarakter beleef, sodat dié roman dalk meer neig in die rigting van ’n liefdesroman met Gotiese trekke as suiwer Gotiek.

Nietemin is Plek van poue ’n aangename en boonop meesleurende leeservaring wat my ademloos van vreesaanjaende genot gelaat het – dit hoef geensins terug te staan vir die Gotiek van skrywers soos François Bloemhof of Fanie Viljoen nie.

’n Uitstaande waarde van Linde-Loubser se roman lê in die indirekte wyse waarop sy die aktuele kwessie van geweld teen vroue blootlê, op dieselfde manier as wat Emily Brontë dit 173 jaar gelede in haar Gotiese roman Wuthering Heights (1847) onder die pseudoniem Ellis Bell gedoen het. In teenstelling met die karakter Catherine in Wuthering Heights het Stela in Plek van poue die innerlike krag om haar van haar mishandelaar los te maak. Bowenal is dit gelukkig nie meer vir Linde-Loubser nodig om hierdie euwel onder ’n manlike skuilnaam bloot te lê nie, al vier dit steeds hoogty in ’n eietydse Suid-Afrika.

Lees ook:

Plek van poue: ’n onderhoud met Henriëtte Linde-Loubser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top