Platoon (1986): ’n filmverslag

  • 3

“Truth is the first casualty of war.” 

Hierdie siening tree sterk na vore in die realistiese en meesleurende “coming of age”-fliek van Spike Lee se regisseurloopbaan. ’n Geykte verhaal oor die Viëtnamoorlog is dit nie – verskeie temas, insluitend dié van ras en agtergrond – klassieke Spike Lee – word ingesluit, en ek sal nie verbaas wees as daar al ’n meestersgraad oor die film gedoen is nie.

Die jaar is 1967, en die gemoed is een van “met genoeg bourbon en weed kan ons die pyp rook”. Amerika het nog nie voorheen ’n oorlog verloor nie, en dis eintlik net ’n kwessie van tyd voor hulle genadiglik demokrasie vestig in die agtergeblewe distrik van Asië.

Dit is ’n jammerte dat hierdie film een van Charlie Sheen se min ernstige rolle is. Hy is werklik goed as die onskuldige soldaat wat vrywillig oorlog toe gaan en dan oor ’n periode van 150 dae in die oerwoud in die lewe geskool word. ’n Klassieke toneel is waar hy wyd-oog in die nag die handdoek oor sy kop trek, wetende dat die vyand naby is, en wanneer die handdoek oopgaan, hy ’n harde siniese gesigsuitdrukking het – niemand is jou vriend nie. Deurgaans ontwikkel (en ontrafel) sy karakter (uiters bevredigend) soos wat die konstante druk van oorlog aanhou. Oplaas word hy huilend teruggevlieg na veiligheid, nooit weer dieselfde nie.

Met groot name soos Tom Berenger, Forest Whittaker en Johnny Depp almal betrokke, is dit onverwags dat die nou gevestigde Willem Dafoe vir my die kollig steel as die morele barometer, een van twee sersante wat moet orde handhaaf. Die rol is perfek vir hom geskryf, en ’n mens kry die indruk dat hy dit geniet het om geswete, halfkaal met ’n wapen in die oerwoud rond te hardloop. Hy is die gom wat almal bymekaar hou, en benewens dalk sy rol on The English patient het ons hom hier op sy beste gesien. Ook vertoon hy lewensgroot in my top-10 van ikoniese filmplakkate.

Moet jy die fliek kyk? Ja. Gaan jy dit geniet? Waarskynlik nie. Die tema is oorlog en als wat daarmee gepaard gaan. Dink vlamme, chaos, verkragting en vernietigende aksies sonder motief, gedryf deur trauma.

Nou hoekom dan?

Dis briljant. Die musiek (dieselfde treffende temalied oor en oor), besonderhede (druppende sweet heeltyd) en tonele (beide van silhoeëtte en aksie, miskien ook daar waar almal dagga rook en dans om net te ontlont) daag jou uit om onverwags egte scenario’s te oordeel. 

Dis relevant. Die meeste lande het ’n geskiedenis van oorlog. Suid-Afrika het ’n grensoorlog gehad in die ‘70’s, en ten spyte wat jy wil dink, was daar slegte appels in ons weermag wat gemoor en verkrag het. Ons moet dit eenvoudig aanvaar – daar was goed en sleg.

Jy sou jou eie vergelykings kon tref met die karakters en die politieke klimaat in Suid-Afrika. Daar is die slagoffers, die ganers en die blyers. Daar is ook van ons wat, soos die soldaat wat moedig met sy wapen teen sy borskas slaan terwyl die helikopter uiteindelik vertrek, agterbly en glo dat elke dag sy uitdagings gaan bring, maar dat die situasie op lang termyn sal verbeter. Dit is wat hom laat glo in die toekoms en om aan te hou veg.

Vat ’n Saterdagaand, kry ’n pizza en definitief whiskey, en kyk die fliek. Jy gaan dalk meer vrae as antwoorde hê, maar dink so daaraan – jy is daarna gereed vir ’n volgende fantastiese classic: Apocalypse now.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Een van die beter rolprente, wat die kollig op Amerikaanse soldate se morele verval in hierdie oorlog vestig.
    Hamburger Hill was iets soortgelyk. Die Mel Gibson "we were soldiers" se musiek en drama is aangrypend, sonder enige morele les uit die oorgedramatiseerde rolprent.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top