Plaatjies van Huffel se dood laat VGK arm agter

  • 1

Mary-Ann Plaatjies van Huffel en Jean Oosthuizen (foto verskaf deur Jean Oosthuizen)

Professor Mary Anne Plaatjies van Huffel was haar amptelike titel. Dissiplinegroep Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), om presies te wees. Vir diegene wat haar geken het, was sy egter doodgewoon Ma Plaatjies van Huffel, soos wat haar voorletters aangedui het. ’n Eretitel vir ’n moederfiguur van haar kerk wat veel swaarder geweeg het by diegene wat haar geken het as die indrukwekkende akademiese titel.

Met haar warm en innemende geaardheid was dit maklik om haar as ’n moederfiguur te ervaar. Haar professoraat en akademiese titel het sy met reg verdien en was bo verdenking. Die oudleerling van die Bergrivier Hoërskool in Wellington het immers twee doktorgrade in teologie gehad en aan drie universiteite studeer, naamlik die Universiteit van die Wes-Kaap, die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Universiteit van Pretoria, voordat sy tot met haar ontydige dood die afgelope week professor was aan die US. Sy is op 15 Desember 1959 gebore en op 19 Mei 2020 oorlede.

Van die talle predikante en teoloë wat ek as kerkjoernalis ontmoet het, is daar ’n hele paar vir wie ek ’n baie sagte plek in my hart het. Meer as net respek. Mense vir wie ek regtig lief geword het en wat ek weet ook vir my lief is of was ondanks die geloofsverskille wat daar tussen ons mag wees. Ma Plaatjies van Huffel was een van daardie mense wat my aanvaar het nes ek is en nooit skaam was om saam met my gesien te word nie, ondanks die kritiese stem wat ek oor die kerk het.

In 1992 was sy die eerste vrou in die NG Kerk-familie wat as predikant gelegitimeer is. Sy was ook die eerste vrouemoderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en het op baie gebiede diep spore in die kerk getrap.

Dit is met groot hartseer dat ek Dinsdag verneem het van haar dood nadat sy vroeër die maand in die hospitaal opgeneem is. Dit voel soos gister toe ek haar sterkte toegewens het vir die operasie.

Mary Anne het op velerlei maniere by my respek afgedwing. My eerste ordentlike gesprek met haar was toe sy as moderator van die VGK gekies is tydens die kerk se algemene sinode in 2012 buite Okahandja in Namibië.

Ek moes ’n onderhoud vir Kerkbode met haar voer oor haar nuwe pos as moderator van die VGK. Die opskrif van my berig in Kerkbode was: “Vrou met leeuemoed lei VGK”. Haar kollegas het haar ’n leeu genoem vanweë die leeuemoed wat sy gehad het ten spyte van haar kort postuur en te midde van die patriargale, mansgedomineerde wêreld waarin sy geleef en gewerk het.

Later het ons paaie al hoe meer gekruis. Ons verhouding het meer persoonlik van aard geword. Daar het ’n vriendskapsband en ook ’n wedersydse respek tussen ons ontstaan. Al het sy die hoogste sport in haar kerk bereik, was spanwerk vir haar belangriker as magsposisies. Wanneer dit oor beginsels gegaan het, was sy nie bang om haar man te staan as vrou nie. Sosiale geregtigheid was lewenslank haar dryfkrag. Sy wou graag hê dat die kerk sy profetiese stem harder moes laat hoor, ook teenoor die regering van die dag. Sy was teleurgesteld dat dit nie genoeg gebeur nie.

As bruin vrou wat diskriminasie aan eie lyf gevoel het, was sy terdeë bewus van hoe dit voel as daar teen jou gediskrimineer word. Reeds in 2012 het sy haar frustrasie teenoor my uitgespreek oor die kerk se lomp hantering van die gay-kwessie. Sy het groot begrip gehad vir homoseksuele mense teen wie daar op grond van hulle seksuele oriëntasie gediskrimineer word. Haar frustrasie met haar kerk se besluiteloosheid daaroor het sy by meer as een geleentheid met my gedeel. Sy was diep teleurgesteld dat die VGK nie lankal duideliker besluite daaroor geneem het nie en ook nie hoopvol dat dit gou sou verander nie.

Sy het egter altyd saam met haar kerk bly droom hoe die kerk ’n bydrae kan lewer om van die land ’n beter plek te maak.

Nadat ek op ’n baie omstrede manier in 2013 weg is by Kerkbode omdat ek oop gesprekke by die Woordfees wou aanbied, was sy een van die teoloë wat my met groot deernis en begrip bygestaan het. Anders as sommige kerkleiers kon ek altyd op haar lojaliteit reken.

Enkele weke nadat my en Kerkbode se paaie op ’n onaangename wyse geskei het, hou sy op 28 Mei 2013 ’n toespraak in Wellington by die Andrew Murray-prysuitdeling oor oop gesprek. By dié geleentheid het sy die NG Kerk se moderamen, asook haar eie kerk, in die teenwoordigheid van die kerk se Who’s Who kaalvuis gekritiseer oor die gebrek aan oop gesprek in beide die kerke.

“Die Moderamen van die Algemene Sinode het die afgelope weke kennis geneem van die beskuldiging dat die NG Kerk nie oop gesprek wil hê nie. Die Moderamen het dit onder meer duidelik gestel dat hul eerste prioriteit altyd die helder en duidelike verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus is. ‘Die kerk begelei mense nie na twyfel nie, maar deur twyfel na geloof’,” het sy die NG Kerk se verskoning woordeliks aangehaal. Daarna het sy die digter Lina Spies, wat saam met haar aan tafel gesit het, aangehaal. Spies het gesê dat dié gesprekke voortgaan met ’n nuwe borg, want die oop gesprek kan nie meer in die nuwe Suid-Afrika onderdruk word nie.

“Vanaand moet ek praat oor die onderwerp ‘Behoort daar in die kerk ruimte te wees vir die “oop gesprek”?’ Of veroorsaak dit te veel onsekerheid by lidmate? Sal dit tot ongeloof lei indien die kerk lidmate blootstel aan verskeie standpuntinnames?” het sy daardie aand op ’n profetiese manier voortgegaan met haar toespraak.

Volgens haar was die tyd lankal verby dat die geïnstitusionaliseerde kerk dink hy het die monopolie op kennis (op die theo logos). Sy het gesê ook die VGK word gereeld gekonfronteer, veral deur die jeug, dat hulle nie reageer op die sosialegeregtigheidsproblematiek in postapartheid Suid-Afrika nie.

Na die aand se gebeure het sy die volgende dag ’n e-pos met haar geskrewe toespraak aan my gestuur en geskryf: “Dit was goed om jou weer te sien. Soos die Heidelbergse Kategismus sê, niks gebeur per toeval op die aarde nie.”

Toe ek later met my RSG-program Uit ’n ander hoek begin het, was sy een van my getroue luisteraars. Sy was meer as een keer my gas op die program en het nooit gehuiwer om sterk standpunt in te neem oor die sake wat haar na aan die hart gelê het nie.

Die laaste radioprogram van my waaraan sy deelgeneem het, het gehandel oor patriargie en of die kerk genoeg doen om vroue se regte te erken en te beskerm. Sy het haar standpunt soos altyd reguit en vreesloos gestel. Soos gewoonlik was daar uit konserwatiewe kringe skerp kritiek daarop, maar dit het haar nie van stryk gebring nie. Sy het vir my ’n e-pos gestuur wat lui: “Dankie Jean vir die opneem van ‘n baie goeie program Die soort kommentaar het my weer laat besef dat ons nog baie werk het om te doen.”

Sy was teologies uitermate goed geskool en ek het haar dikwels genader vir kommentaar as ek ’n artikel vir ’n koerant of LitNet moes skryf. Oor die Belydenis van Belhar het sy reguit gesê dit is nie moontlik om van kerkhereniging te praat sonder om die Belhar-belydenis vierkant in die gesprek te plaas nie. Haar standpunt was dat die sentrale temas van die Belydenis van Belhar, naamlik eenheid, geregtigheid en versoening, wêreldwyd aanklank vind by gereformeerde Christene. “Dit kan ook gebruik word in die aanspreek van die problematiek in postapartheid Suid-Afrika, byvoorbeeld die uitsluiting van die ander op grond van ras, taal, kultuur, geslag, onversoendheid, ongeregtigheid, ekonomiese onreg, korrupsie, ensovoorts,” het sy aan my gesê.

Haar standpunt was dat ’n belydenis nooit gemik is op ’n spesifieke ras of taal of kultuurgroep of periode nie. ’n Belydenis transendeer immers tyd en spreek tot ander kontekste, was haar oortuiging.

Ons laaste persoonlike gesprek was verlede jaar toe ons saam Johannesburg toe gevlieg het vir deelname aan die TV-program Prontuit op die TV-kanaal kykNET. Na afloop van die program het ek laat die aand alleen ’n drankie in die hotel se kroeg gaan drink. Mary Anne het vir haar ’n koeldrank gekoop en by my kom sit en gesels. Ons het baie gepraat oor geloof en die kerk, asook my kritiese ingesteldheid oor geloof veral sedert ek weg is by Kerkbode. Toe sy gaan slaap, het sy my ’n stywe drukkie gegee en gesê: “Jean, jy moet asseblief aanhou praat en nooit jou kritiese stem verloor nie, want dit is nodig dat die kerk dit hoor.”

Die volgende oggend op Lanseria-lughawe het ons saam koffie gedrink en muffins geëet terwyl ons wag vir ons terugvlug Kaapstad toe. Ons het verder gesels oor die vorige aand se gesprek. Sy het aan my vertel hoe lekker dit vir haar is om so eerlik met iemand daaroor te kan gesels. Sy het gesê dit is soms moeilik om in die kerk, en selfs met sommige familie, vriende of kollegas daaroor te praat. Dit het my diep geraak dat sy soveel vertroue in my gestel het, al het ons nie teologies oor alles saamgestem nie.

Nou is sy dood en ek gaan haar mis. Haar nederige, spontane menslike en vrolike lag, en hoe sy my altyd styf teen haar kort lyf kon vasdruk as ons mekaar sien. Die VGK is vandag baie armer sonder haar. Net soos na die dood van my redakteur by Kerkbode, Adrie-Louis van Reenen, kan ek net maar sê: “Stil broers, daar gaan ’n vrou verby.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top