PJ Philander (1921–2006)

  • 0

Gebore en getoë

Peter John, of Piet soos hy in die algemeen bekend gestaan het, is op 25 November 1921 op Caledon gebore – soos CGS de Villiers, MER, Audrey Blignault en Petra Müller is hy ’n Overberger wat, ook soos hulle, ’n ruim en waardevolle bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het. Hy word op Caledon groot en voltooi sy standerd ses aan die destydse Nederduitse Gereformeerde Kerk-Sendingskool. Vanaf 1936 tot 1939 gaan hy na die Opleidingskool Zonnebloem in Kaapstad, waar hy hom as onderwyser bekwaam.

Verdere studie en werk

In 1940 word hy onderwyser aan die Engelse Kerk-Sendingskool op Calvinia en sy liefde vir die Hantam en vir die poësie van C Louis Leipoldt dateer uit hierdie tyd. Hy is die volgende jaar na Plettenbergbaai en deur privaatstudie verwerf hy in 1942 sy seniorsertifikaat. In Julie 1942 het hy teruggekeer na die Hantam en gedurende sy vyfjarige verblyf aldaar het hy sy BA-graad deur die Universiteit van Suid-Afrika verwerf, waarna hy as prinsipaal van die Engelse Kerk-Sendingskool aangestel word.

Hy was van 1948 tot 1951 onderwyser op Genadendal. Op hierdie skilderagtige en historiese dorpie het Peter sy eerste verse tydens ’n siekbed van drie maande neergepen. In 1952 is hy aangestel as prinsipaal van die Hoërskool Malmesbury en terwyl hy daar werksaam was, is sy eerste bundel, Uurglas (1955), gepubliseer. In hierdie werk word die mens gesien as weerloos en nietig en bewus van sy eensaamheid teenoor die kosmiese magte. Van sy verse is egter al in 1950 in Standpunte gepubliseer.

In Standpunte (April/Mei 1956) was Rob Antonissen die resensent, en hy was van mening dat Philander se verse glad nie sleg afsteek teen dié van ander debutante van daardie tydvak nie.

Antonissen het voortgegaan: “Stellig, in sy geheel is hierdie bundel ver van volmaak, maar dit bevat wél ’n aantal heel goeie, ’n paar pakkende gedigte, en agter álles, geslaagd of nie geslaagd nie, sit onmiskenbaar ’n strewe wat hoog mik, en ’n ernstige opvatting van die digter se taak en ambag.

“Die titel self noem die ‘Leitmotiv’ wat deur die hele bundel heenloop: die voortdurende gang en voortgang van die ‘dinge’, gevat in ’n wetmatige orde wat meer as aards is. Aarde en mens is uur, maar die besef van die uur-na-uur, van ’n onophoudelike opskuif, onderstel ’n vastheid êrens waarbinne die ure voortbeweeg en waarteen die beweging merkbaar is.”

Vir Antonissen was die gedig “Komeet” Philander se “oortuigende proefskrif” in hierdie bundel – “iets werklik nuuts en goeds waarmee hy hom onderskei as meer dan ’n toevallige digterlike verskyning in die Afrikaanse letterkunde.”

TT Cloete het sy bespreking van Uurglas in Huisgenoot van 4 Julie 1955 as volg afgesluit: “Ek glo dat, as Philander ’n kwarteeu vroeër gepubliseer het, hy sekerlik die benaming ‘oorgangsfiguur’ sou gekry het. Daar is iets van die huidige beslag in Suid-Afrika in sy poësie, maar ook iets behoudends. Philander het ook nie die kritiese sin wat ons beste jonger en jongste digters het nie, anders sou hy ’n hele paar gedigte weggelaat het. In ’n betreklik groot aantal gedigte is die ritme en uitdrukkingswyse nog onbeholpe; die digter ‘sukkel’ byvoorbeeld ook nog met sy rymwoorde.”

Intussen is hy met Alice Elizabeth Harker getroud en drie seuns, George, Dennis en Peter, en ’n dogter, Elsa, word gebore. Elsa is op tweejarige ouderdom oorlede. Die drie seuns het almal aan die Universiteit van Kaapstad studeer; twee het mediese dokters geword en een ’n fisikus. Dennis, ’n psigiater met sy eie psigiatriese praktyk, was ook hoof van die psigiatriese departemente van twee hospitale in die groot tweelingstede Minneapolis en St Paul. Peter, ook ’n medikus, het ’n kliniek in Kalamazoo in Michigan behartig, waar hy ook ’n mediese konsultant vir Upjohn was, terwyl George ’n senior navorsingsoseanograaf by die Fluid Dynamics Laboratory van Princeton was, waar sy navorsing van oseaan-lug-inwerkinge deur middel van ’n oseaanmodel gelei het tot die verstaan van die El Niño-Southern Oscillation-probleem, die verskynsel van die sikliese verwarming van die Stille Oseaan. In 2007 ken die Universiteit van Kaapstad ’n eredoktorsgraad aan George Philander toe.

In 1957 is PJ Philander aangestel as hoof van die Hoërskool Belgravia in Athlone, Kaapstad, waar hy tot die Philanders se vertrek na Amerika gewerk het .

In 1960 is Philander die ontvanger van die tweede (en enigste) prys in ’n skryfwedstryd van die Departement van Onderwys, Kultuur en Wetenskap vir sy bundel Vuurklip (1960). ID du Plessis, destyds hoof van die Departement van Kleurlingsake, het die prys aan hom oorhandig. By hierdie geleentheid het Du Plessis hom as volg uitgelaat: “Hierdie digter is een van die ‘stillen in den lande’. Hy het nooit baie te sê oor sy werk nie. Hy het egter ’n persoonlikheid wat alle eienskappe besit wat onontbeerlik is vir die beoefening van die verskuns. Mnr Philander het die opregtheid en die eerlike begeerte om deur middel van die woord uitdrukking te gee aan die diepste waarhede” (Keur, 26 Augustus 1994).

In Vuurklip het Philander oor die “mitos en heldedom” van die bruin man gedig. Dit was ’n aspek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat tot op daardie tydstip nog nie deel uitgemaak het van die Afrikaanse digkuns nie (Prisma, Mei 1989).

In Huisgenoot van 7 April 1961 het AP Grové geskryf oor drie bundels deur bruin digters, waarvan PJ Philander se Vuurklip een was. Vir Grové was Vuurklip die belangrikste van die drie, “omdat hier tog iets van ’n verbeelding en visie in die spel kom. In objektiewe beelding tree die digter buite homself en toon dat hy in staat is om uit te styg bo die suurheid van bitterheid en frustrasie.

“Deur agtereenvolgens die lig skerp te laat val op enkele historiese figure – Jager Afrikaner, Jonker Afrikaner en Hendrik Witbooi – harde en bloeddorstige manne in hul stryd om bestaan en selfhandhawing, word vir die leser ’n bepaalde brok geskiedenis voorgehou. Maar geskiedenis om die geskiedenis wil Philander nie gee nie. Dit wat vir die meeste lesers seker ’n soort dooie museumuitstalling was. Mense met ‘pyl en boog en klein ogies’, wil die digter vir ons tyd lewend en vrugbaar maak. (…)

“Maar ’n sinvolle eenheid het die werk nie geword nie. Die digter gryp nie kreatief genoeg in op die stof nie. Afgesien van die feit dat die beelding dikwels verflou, bly die geheel te seer ’n los aaneenryging van episodes waarin die epiese draad telkens verlore raak.”

In 1961 onderneem Peter ’n studie- en voorlesingsreis na Amerika onder beskerming van die VSA-Suid-Afrikaanse-uitruilprogram vir leiers. Die hoofdoel van hierdie reis was om hoër en middelbare skole in die buiteland te bestudeer. Op daardie tydstip was hy van mening dat die Suid-Afrikaanse skoolstelsel nie agteruit hoef te staan vir dié van Amerika nie. Ook in 1961 bring hy ’n uitgebreide besoek aan Europa met die welwillende samewerking van die destydse Departement van Kleurlingsake en die kultuurorganisasie die Drie-Eeue-Stigting.

In September 1963 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy goue erepenning vir letterkunde aan Philander toe. Van sy verse is vertaal en word in Engelse en Duitse bloemlesings opgeneem. Saam met SV Petersen skryf hy ook skoolhandboeke vir aardrykskunde en geskiedenis (Keur, 26 Augustus 1994).

In 1965 besluit Philander en ’n vroeëre leerling van hom in Plettenbergbaai, Amos A Langdown, om ’n geïllustreerde bundel saam te stel, met Philander se digkuns deur Langdown geïllustreer. Die resultaat was Die bruin kokon (1965). Dit was ’n groot waagstuk, want kleurdrukwerk op glanspapier was nog ’n jong bedryf en die prys van hierdie hardebandboek was vir daardie jare baie hoog en die duisend genommerde eksemplare het nie baie goed verkoop nie. Vandag is dit egter ’n besonder skaars en kosbare versamelstuk, skryf Martiens van Bart in Die Burger (19 November 2005).

In Die Burger (datum onbekend) het WEG Louw Die bruin kokon (1965) beskryf as ’n publikasie “waarvan ’n mens met reg kan sê dat dit, tot op datum altans, uniek in Afrikaans is. Twee kunstenaars, wat elk op sy eie gebied presteer het, naamlik PJ Philander as digter en Amos Langdown as grafiese kunstenaar, het saamgewerk en ’n boek tot stand gebring wat met reg deur ID du Plessis in sy voorwoord ‘’n belangwekkende bydrae’ tot Afrikaanse kultuur genoem word.

“Dit is moeilik by die allereerste kennismaking met dié boek om vas te stel wat primêr was – die verse of die tekeninge. Maar by nadere oorweging glo ek dat dit die laaste was.

“By ’n aantal tekeninge, houtsneë, litografieë, wit-op-swart tekeninge en werke in gemengde media van Langdown, wat almal aspekte van die lewe van die bruinmense illustreer, het Philander ’n kort prosakommentaar en ’n hele reeks van kort, kernagtige verse gemaak. Saam vorm hulle ’n kunsalbum, wat enig in sy soort is. Tipografie, papier, die kunsreproduksie – alles is ewe keurig versorg.”

Vir Anna van Zyl (Volksblad, 29 April 1965) is Die bruin kokon ’n mooi boek om in jou boekrak te hê, maar vir haar lê die grootste waarde in beide die uitsonderlike tekeninge van Langdown en enkele sterk en toepaslike verse van Philander.

ID du Plessis het verder in sy voorwoord tot Die bruin kokon geskryf: “Toonsettings van Afrikaanse verse ken ons uit die dae van Anna Lambrecht-Vos, en vroeër; illustrasies van verse, ook al ’n hele aantal jare. Maar verse wat op bepaalde tekeninge gebaseer is, is hier by ons ’n nuwe verskyning; en as dit tekeninge – in hierdie geval grafiese werke – deur ’n Kleurling-kunstenaar van reeds erkende formaat en verse deur ’n bekende Kleurling-digter is, dan word dit ’n samewerking met ’n baie besondere betekenis, want dis twee mense wat ’n gesamentlike boodskap wil oorbring, ’n boodskap wat in hierdie eeu waarin rasseverhoudinge die allesoorheersende probleem geword het, meer as verbygaande belangstelling verdien.

“Hierdie verrykende samewerking het reeds in 1941 op Pletternbergbaai begin toe Philander as Langdown se onderwyser hom aangemoedig het om te teken.

“Te somber, te eensydig gesien? Van buite beskou, miskien wel. Maar lê ons van buite af nie te veel klem op die ligsinnige, die onverantwoordelike, die grappige fasette van die Kleurling-psige nie? Die toestande wat hier uitgebeeld word, lê die Bruinman swaar op die hart, en beklemtoning moet in daardie lig gesien word.

“Vir my gevoel is dit die werk van twee kunstenaars wat iets gloedvols het om te sê. En wat dit so sê dat dit tot ernstige nadenke stem.”

Philander het in die inleiding onder andere die volgende geskryf: “Kom jy oor die kruin van ’n Bolandse bergpas, kyk jy af op die skoonste toneel in Suid-Afrika. Dis ’n mosaïek van groen wingerde, boorde, graanlande, bosse, damme, paaie, dorpe en deftige plaashuise – ’n wisselende patroon van beskawing en kultuur wat wegdein tot om die verstes by die see.

“Kyk lank …

“Yl gespikkeld teen die hellings en tussen die bome, of in skugtere groepies op brakkolle saamgehurk, staan daar ook die huisies van duisende plaaswerkers. Dis nie hulle by wie jy later sal koffie drink of op die koel stoep onder die eike sit nie. Dis nie hulle wat daar sal wees om jou ’n bruin hand te reik en jou welkom te heet nie … En tog is hulle daar. Onlosmaaklik.

“En elke wingerdstok en vrugteboom, elke grondsloot en elke plaasdier, elke stem wat op ’n ander lê, elke duim pad en sloot en draadheining, elke geringste produk wat hierdie pragwêreld moontlik gemaak het – is deur daardie selfde hand aangeraak. Deur duisende bruin hande van hierdie ryk aarde se stiefkinders. Daarom is ook hulle lééd ’n grootse mosaïek met duisenderlei patrone …” (Die Burger, 19 November 2005).

In 1968 publiseer Nasionale Boekhandel Philander se volgende bundel onder die titel Zimbabwe. In Volksblad van 5 September 1968 het FIJ van Rensburg geskryf dat hy met Zimbabwe ’n “klein epiese tradisie” in Afrikaans voortsit. En ofskoon dit op ’n heel ander vlak as Van Wyk Louw se Raka en Opperman se Joernaal van Jorik is, is Zimbabwe nie onwaardig om in dieselfde asem genoem te word nie.

“Die gedig beeld die opkoms en ondergang van die Zimbabwe-beskawing uit,” het Van Rensburg voortgegaan. “Die implikasie word duidelik gestel dat dit ook gaan om alle beskawings wat selfsugtig op homself ingestel is en so onvrugbaar geraak het.

“Deur sy moeilikhede met die versvorm slaag die digter nie deurgaans daarin om dié tema duidelik uit te bring nie. So is die slot nogal vaag. (…)

“’n Mens kan Zimbabwe ’n subjektiewe epos noem, in onderskeiding van die tradisioneel objektiewe epos. Daar is min van ’n buitestaande verteller; die gebeure neem sy loop vir die grootste gedeelte vanuit die woorde en gedagtespraak van ’n aantal van die deelnemers. Die gedig lê sodoende meer in die epiese tradisie van Jorik as dié van Raka.

“In verskillende opsigte is Zimbabwe ’n vooruitgang op Philander se vorige werk Vuurklip (ook ’n epiese poging). Dit het groter eenheid, ten spyte daarvan dat dit, nes Vuurklip, in aparte onderdele verdeel is. Die digter toon ’n groter vlotheid in die hantering van sy gekose rymskema. Hy vermy die onhandighede van Vuurklip – hou hom byvoorbeeld streng by sy kruisrym, vermy die koddigheid van gebruik van koepletrym by wyse van afwisseling. Die kortreëlige strofe stel die digter in staat om die strofe in ’n enkele haal te deurloop. Die beelding het as gevolg hiervan vaart.”

Vir Van Rensburg het Zimbabwe weer die invloed wat DJ Opperman op Philander gehad het, getoon en hy het gevoel dat die digter gerus die invloed van Opperman agterweë kon gelaat het. “Opperman het die nodige gedoen om die digter op die pad van selfstandigheid te plaas; hy moet nou meer op homself begin vertrou.”

In 1969 het Philander en sy gesin na Amerika geëmigreer. Hy het aan Heindrich Wyngaard (Boekewêreld, 9 Julie 1997) vertel dat daar drie redes was vir dié besluit, “waarvan die Groepsgebiedewet die eerste was. Ek het ook gevoel ek het genoeg gehad van skoolhoof wees, want van 1969 af was my bloeddruk nie so lekker nie en die dokter het aanbeveel dat ek behandeling kry anders gaan dit my voorkeer. Die derde rede was dat twee van my seuns toe klaar in Amerika was.” In 1978 het Peter ook Amerikaanse burgerskap ontvang.

In New York het hulle ’n huis in Locust Valley gekoop en is hy aangestel aan die Kwakerskool se Friends’ Academy op Long Island, waar hy hoofsaaklik English Skills doseer het – en ook godsdiens, omdat niemand anders wou nie – en later ook aardrykskunde. Hy het die pos tot sy amptelike aftrede in 1986 beklee.

Nadat Philander en sy gesin na Amerika verhuis het, het daar bykans 10 jaar verbygegaan voordat daar weer ’n digbundel uit sy pen verskyn het (dit is nou afgesien van die versamelbundel Keurverse wat verse van hom en SV Petersen bevat en deur WH Vos saamgestel is), naamlik Konka, wat deur Perskor uitgegee is.

Vir Fanie Olivier (Vaderland, 28 Maart 1979) is die verskyning van ’n nuwe bundel deur Philander iets waarvan ’n mens moet kennis neem. En soos in sy vorige bundels staan die posisie van die bruin man weer sentraal in hierdie bundel van 38 verse.

Maar ofskoon die bundel aan die begin die lot van die bruin man as tema het, ontwikkel dit later na die “verwoording van die posisie van alle onderdruktes, almal wat deur die gang van die geskiedenis in ’n minderwaardige plek ingedruk is”.

Olivier sluit sy bespreking af met: “Konka skep ten slotte ’n ongelyke indruk. Daar is sterk dele met suiwer beeldspraak en verwoording, en dele waar die versvorm oudmodies klink. Die deur en deur politieke groep verse verteenwoordig miskien die sterkste bydrae wat Konka bring.”

Ook Johann Johl is nie baie opgewonde oor Konka nie: “Konka staan agter by Philander se vorige werk, en veral dan om die taalgebreke, die gemis aan gedigte wat as geheel ‘af’ is en ’n te skamele perspektivering.”

In Rapport van 13 Maart 1983 was André P Brink die resensent van Philander se volgende bundel, Venster, wat in 1982 deur Perskor gepubliseer is. Brink het Venster gesien as Philander se beste bundel wat tot op daardie tydstip verskyn het.

“Toegegee, dit is duidelik die werk van ’n ‘ouer’ digter; daarvan getuig veral ’n ongelukkige verknogtheid aan rym, wat tot van die beste verse verstroef; daarvan getuig ook ’n voorliefde vir bepaalde adjektiewe, ’n bepaalde ‘besielde retoriek’.

“Maar met dit en al is Venster ’n bundel van besondere stewigheid, en des te merkwaardiger uit die pen van iemand wat al soveel jare lank in die buiteland, weg van sy eie taal, woon en werk. (…)

“Soms bereik Philander ’n swoel bekoring (‘Triptiek’); dikwels word mens eerder geïmponeer deur die klein, skerp momentopnames (waarvan die tweede afdeling ‘Boerebedrog’ vol sit); ’n inkyk in essensies in (vergelyk die uitstekende kwatryne ‘Houtkapper’ of ‘Lokvink’, of ’n klein gediggie soos ‘Omaruru’).

“Opvallend is dit dat Philander se eie verse self nooit ‘bitter’ word nie: eerder deurwinter deur menslikheid en mededoë – wat nie beteken dat hy nie baie spits geslyp kan spot nie! Maar dit is ’n spot wat altyd bepaal word deur die wete van sterflikheid; die eie, ewe seer as dié van ander (‘Hengelaar’). Vandaar sy mildheid en sy menslikheid.”

Later in 1983 is Philander se eerste prosawerk gepubliseer: Hoefyster vir die hart, ’n bundel kortverhale wat by Tafelberg verskyn het. ELJ Venter (Volksblad, 9 September 1984) was van mening dat Philander steeds tref met sy gebruik van Afrikaans en dat dit die moeite werd is om die bundel net ter wille van die taalgebruik te lees.

Vir Venter dui die titel op die temas wat in die verhale vooropstaan: “liefde, dood, lyding, rasseprobleme, die mens vasgevang in sy eie klein wêreldjie. Die mens moet homself met ’n hoefyster pantser teen dit wat dreig om sy menswees aan te tas; hy moet homself staal teen dit wat die lewe in sy gesig gooi – dit alles in ’n poging om te bly voortbestaan. Hoefyster vir die hart, meen ek, is ’n geslaagde en bevredigende prosadebuut met heelwat hoogtepunte en momente wat met sensitiewe insig verbeeld word. ’n Mens sien uit na Philander se toekomstige prosawerk.”

Ook André P Brink was heel positief oor Philander se prosadebuut (Rapport, 1 April 1984): “In die verhale en sketse wat PJ Philander in die bekoorlike verrassingspakkie van Tafelberg van Hoefyster vir die hart gebundel het, staan byna alles in die teken van die dood. (…)

“En tog is mens se slotindruk dié van ’n onbedwingbare lewe. Nie verniet nie open die bundel met die klein boerepsalm van ‘Fees van die grond’: daarvandaan bied haas elke verhaal ’n openbaring van die lewe – onoorwinlik, of beurend teen die dood in, of vol erbarming teen die bedreiging van ’n einde. (…)

“Veral opvallend (en dit van ’n skrywer wat al dekades in die buiteland woon!) is die heerlike omgaan met die taal. (…) En dit alles deel van ’n (meestal beheersende) nostalgiese teruggryp na ’n herinnerde wêreld wat met ’n fyn sintuig vir besonderhede opgeroep word. (…) Soms kom daar ’n stoornis by, maar in sy geheel is dit ’n bundel wat met groot genoeë geproe kan word.”

Vir Hennie Aucamp (Vaderland, 25 Augustus 1983) is daar twee meesterlike verhale in Hoefyster vir die hart: ‘’n Koeël vir ’n klou’ en ‘Triton’, en dit is ’n klaar ’n prestasie, en volgens Aucamp moet ’n skrywer tog aan sy beste gemeet word.

Met die verskyning van Ostrakon (Grieks vir uitgewekene) in 1986 skryf Joan Hambidge dat dit nog ’n bundel deur ’n “deurwinterde” skrywer is. Sy is dit eens met die inligtingstuk wat die bundel as volg opsom: “Voorop staan die mens in ’n vreemde verband, in een afdeling telkens weer ’n ander land, in ’n ander afdeling téénoor ’n geliefde land; die mens – soos in Uurglas al – pynlik bewus van sy weerloosheid, sy kleinheid in die heelal, maar soekende na verbande, na menslikheid, na liefde.”

Hambidge is egter van mening dat hierdie siening op feitlik alle poësie van toepassing kan wees, “omdat alle digters bewus is van ’n soort outsiderskap en in ’n poging om dit op te hef, poësie skryf”.

En hoewel kritici nooit baie opgewonde oor Philander se verse was nie – vanweë tegniese tekortkominge soos lomp sinsbou, ritmiese onsuiwerhede en rymdwang – beskou Hambidge tog Ostrakon as ’n vooruitgang in Philander se oeuvre – “hoewel ’n mens by té veel verse bewus bly van die tegniese ónafheid, ’n soort verstegniese ‘lompheid’. (…)

“’n Mens is ten slotte jammer om te skryf dat die meeste verse die indruk skep van ’n eerste ‘draft’ en dat die engel nog nie uit die klip is nie.”

Alice is in Junie 1988 oorlede aan ’n hartkwaal, en om haar nagedagtenis te eer, het Peter ’n beurs vir die Universiteit van Kaapstad, die Alice Philander Memorial Scholarship, gestig, "want ek wil iets teruggee aan Suid-Afrika waar my drie seuns die voorreg gehad om te studeer” (Volksblad, 1 Augustus 1991). In 1984 en weer in 1986 moes Philander self hartomleidings ontvang, asook hartklep-operasies ondergaan.

In 1996 verhuis hy na Las Vegas, waar hy in ’n woonstel intrek om naby sy jongste seun te wees.

Tydens sy eerste amptelike besoek terug aan sy geboortedorp, Caledon, in 1997, saam met twee van sy susters, sy seun George en dié se vrou en seun, word die vryheid van die dorp aan hom toegeken en word daar ook ’n straat na hom vernoem. Tydens die besoek het Philander gesê: “Dit was wonderlik, veral toe die burgemeester sy twee gediggies voorgelees het, en toe ou Theuns van Schalkwyk (’n jeugvriend) begin praat het en ek sien dit raak te veel vir sy gemoed. Dit was een van my roerendste oomblikke. Ja, dit was lieflik” (Die Burger, 28 Junie 1997).

Tydens sy 75ste verjaardag in 1996 publiseer Tafelberg Uitgewers ’n versamelbundel van sy gedigte wat saamgestel is deur Daniel Hugo onder die titel PJ Philander: ’n keur uit sy gedigte. Dit verskyn 10 jaar ná die publikasie van Ostrakon en bevat nie net verse uit sy vorige bundels (uitgesluit Zimbabwe) nie, maar ook nuwe verse wat saamgevat is in een afdeling. Hierdie nuwe verse handel onder andere oor die afsterwe in 1988 van Alice. Die publikasie is moontlik gemaak deur finansiële steun van die Stigting vir Afrikaans, asook deur die samewerking van Tafelberg en Perskor.

AP Grové (Beeld, 11 November 1996) het hierdie publikasie nie as ’n blote verjaardaggeskenk gesien nie, maar as welverdiend – “Philander as digter verdien dit doodgewoon om so in ’n oorsigtelike bundel as ’t ware in ’n nuwe gedaante onder die aandag te kom. Kortom, die boek regverdig sy bestaan op literêre gronde.”

Grové het voortgeskryf: “Die samesteller het hom in sy keuse veral op die korter verse toegespits. Dit beteken dat die epiese werk min of meer in die slag gebly het. (…) So ’n beleid is miskien verdedigbaar op grond van die feit dat Philander se krag eintlik in die korter, soms pregnante, suggestiewe vers geleë is. Maar ek meen dat die bloemlesing tog kon baat veral by een of twee grepe uit die wêreld van historiese figure soos Jager Afrikaner, Hendrik Witbooi en andere. (…)

“Origens is die bloemlesing verteenwoordigend mede as gevolg van die samewerking tussen die twee uitgewerye. ’n Bloemleser moet uiteraard ’n keuse doen, en formeel gesien is die keuse uit die korter Philander-gedigte so dat ons genoeg van ’n verskeidenheid vorme kry (…).

“Ook kwalitatief gesien is die bundel verteenwoordigend, en die meeste van die gedigte wat met die tyd, veral uit bloemlesings, bekend en geliefd geraak het, kan ons hier aantref. (…) Tematologies bring die bloemlesing ook ’n getroue beeld van Philander se digterskap: natuurgedigte, liefdesgedigte, gedigte wat spreek van verlange (vanuit Amerika) na die land van herkoms, versetsgedigte, terwyl van die verse onder die hoof ‘Nuwe gedigte’ sterk elegies gekleurd is.

“Die bloemlesing bied ook genoeg geleentheid vir ’n streng kritiese studie. So is daar byvoorbeeld Philander se handhawing van die rym teen elke prys – ’n praktyk wat meermale gekunsteld en selfs tot taaldwang en -vervorming kan lei.

“En dan is daar die kwessie van invloed. Daar is in die verlede sterk, miskien te sterk, klem gelê op aantoonbare invloede van Opperman in Philander se werk. So ’n invloed hoef ons nie te verbaas nie, want in ’n vroeë stadium was Opperman iets van ’n mentor van Philander, soos hy ook van ander digters die raadgewer was. Die vraag is egter nie of daar invloed was nie; die vraag is of Philander die invloed kon verteer, dit profytlik kon absorbeer sonder om sy eie identiteit te verloën. En hierdie bloemlesing bied ook genoeg voorbeelde van so ’n heilsame ‘beïnvloeding’: die soms sterk, openbarende slotreël, die hele hantering van beeld en toepassing. (…)

“Die bloemlesing vestig opnuut die aandag op ’n digter wat, ook vanweë sy verhuising na Amerika, miskien effens uit die oog beweeg het. Moontlik volg daar nou ’n nuwe belangstelling in sy digterskap. Net daarom al is hierdie boek met sy simpatieke en informatiewe inleiding te verwelkom.”

Joan Hambidge (Die Burger, 20 November 1996) sluit haar bespreking hiermee af: “Hierdie versameling bewys die oeroue punte van die digkuns: dit is nie alle digters beskore om ’n groot stem te wees of die kanon te verander nie, maar selfs ’n handvol onthoubare gedigte maak ’n digterskap die moeite werd.”

En in Insig van Junie 1997 is Etienne Britz se afsluiting as volg: “Hugo se bloemlesing bring hulde aan een van die mees skrynende soort slagoffers van ons onlangse geskiedenis, naamlik die werklik beskaafde en talentvolle Afrikaanse digter van kleur. Op my eie boekrak het hierdie bundel onmisbaar geword.”

En nog was PJ Philander nie klaar met skryf nie. In 2000 verskyn sy debuutroman by Human & Rousseau onder die titel Rebunie.

Rebunie handel oor die lotgevalle van ’n bruin (swart) intellektueel, Joseph Carelse, oftewel Kallie, en Piet, die verteller. Hulle ontmoet mekaar in 1945 in Calvinia waar Kallie gaan onderwys gee en Piet prinsipaal is van die Esau Gedenkskool, ’n Anglikaanse laerskool vir bruin mense.

Frank Hendricks en Steward van Wyk resenseer Rebunie vir De Kat van Augustus 2000: “Hier in Calvinia – ’n dorp met die NG Kerk as dominante kerkgenootskap en ook die dorp waar Abraham Esau in 1901 met sy lewe geboet het toe hy hom tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kant van Engeland geskaar het en ’n bruin versetbeweging teen die Boeremagte gelei het – raak Kallie se lewe verstrengel met dié van bruines en swartes. Hy gee nie slegs onderwys nie, maar doen ook gemeenskapsdiens in die tradisionele bruin buurte, Rooi Erwe en Newton, asook in Blouputs, ’n plakkersdorp vir swart mense. As uitgesprokene oor dinge wat hom grief, bevind hy hom midde-in die stryd van die Esau Gedenkskool teen die NG Sendingskool om hulle leerlingtal uit te brei. (…) Kallie sê en doen dinge wat hom in botsing bring met onder meer die wit predikant (Eerwaarde) en Sustersbond van die NG Sendingkerk. Hierdie botsing het tot gevolg dat hy twee keer aangerand word en hom uiteindelik noop om die dorp as liggaamlik geskende te verlaat.

“Sodoende word daar implisiet ’n verband gelê tussen Kallie se uitdrywing en die etimologiese betekenis van die bergnaam Rebunie (8 kilometer suid van Calvinia). Rebunie, volgens oorlewering ’n sametrekking van ‘Ik roep je niet’, se konnotasie ‘Jy is nie welkom hier nie!’ word naamlik in die lot van Kallie verkonkretiseer.”

Van Wyk en Hendricks sien hierdie roman as ’n voortsetting van die digbundel Vuurklip en meen dat dit daarin slaag om die vernedering, pyn en wrewel van die mense wat in die verlede aan die ontvangkant van politieke en sosiale diskriminasie gestaan het, heel geloofwaardig oor te dra sonder dat dit in sentimentaliteit verval.

Hulle gaan voort: “Verder slaag Philander goed daarin om die dilemma van die swart intellektueel van vroeër, soos vergestalt in Kallie, te belig. (…) Hierdie roman waarin die ouwêreldse, kleindorpse atmosfeer van vervloë tyd in herinnering geroep word, beloof om interessante leesstof te bied en verskillende reaksies te ontlok.”

Lucas Malan skryf onder andere oor Rebunie (Rapport, 12 November 2000): “Die roman verloop nie altyd vlot nie en die leser moet dikwels lang sinne of sekondêre inligting verwerk wat as aanvullings en geheuevlugte in die vertelling voorkom. Dit is veral stremmend in passasies waar dialoog gebruik word. (…)

“Aan die ander kant is die roman vol onthutsende voorbeelde van magsbeheptheid in ’n klein gemeenskap, van growwe diskriminasie en snobisme wat die historiese perspektief verruim. Ook die rykdom aan verouderde en onbekende taalvorme in die vertelling, soos ‘rysbrensie en bobotie’, ‘goggabie’, ‘abjaters’, ‘kaboes’, ‘die roef van ’n doodskis’ en ‘ghrop’, verskaf ’n eiesoortige leesplesier.

Rebunie is ook nie ’n Cry, the beloved country nie, maar dit laat die leser beslis nie koud nie.”

Hein Willemse het ook wisselende sieninge oor Rebunie (Die Burger, 4 Oktober 2000): “In terme van karakterisering, vertelstyl en vertelling is Rebunie oudmodies. Om die waarheid te sê: die roman herinner sterk aan ’n vervloë tydvak in die Afrikaanse letterkunde. Vir my gevoel skort daar iets met die plot. In ’n poging om outobiografie en roman by mekaar uit te bring, manipuleer die skrywer sy plot, veral wanneer die verteller van Calvinia na Genadendal en Kallie van Calvinia na Wellington vertrek. In plaas daarvan om die potensieel spannende verhaal in een verhaalruimte te laat afspeel sodat die gevolge van die verskillende aksies volledig tot uiting kan kom, vertrek die verteller en sy hoofkarakter uit die oorspronklike ruimte juis op ’n moment wanneer dit nie sin maak nie.

“Die oudmodiese aanbod sou nie gepla het indien die verteller nie telkens probeer het om die huidige lewens- en sosiale opvattinge te projekteer op die verteltyd van die periode veertig en vyftig nie. So dwing die verteller om homself te distansieer van die gebruik van ‘baas’ deur sy sentrale karakter, ’n tendens wat nou oordrewe politiek korrek aandoen.

“Die vertelwyse van sekere karakters val ook soms uit pas. By Piet, die geleerde en studerende ek-verteller, sou ’n mens ’n boekerigheid in formulering kon verdra, terwyl dieselfde verdraagsaamheid nie vir nie-intellektuele karakters sou geld nie. Dié vergryp kom net te dikwels voor. Tog is daar ander momente waar die sonderlinge segswyses en argaïsmes van karakters bydra tot ’n outentieke gegewe.

“’n Mens het waardering vir die wyse waarop Philander sin maak van die spanninge tussen karakters uit verskillende agtergronde, veral die wyse waarop hy rassisme tussen bruin en swart onderling probeer aanroer.

“Uit ’n sosiaal-historiese hoek is die fiksionalisering van sowel die Esau-sage as die werklike gebeure waarop die roman geskoei is, te verwelkom. Rebunie is histories-literêr van belang. Een van die langslewende Afrikaanse digters verwoord hier in ’n nuwe genre – miskien minder geslaagd – deurlopende temas van sy poësie.”

Vir sy laaste boek voor sy afsterwe keer Philander terug na die poësie. In 2002 word sy negende bundel, Trialoog, deur Protea uitgegee.

Trialoog bring weer die energie en sprankel van sy bekroonde Vuurklip uit 1960 terug, ná die meer gedempte inslag van Ostrakon (1986),” begin Philip John sy bespreking in Beeld (14 April 2003). “Heelwaarskynlik het dié wins heelwat te make met die verskuiwing van ’n reisiger en banneling in die buiteland wees na ’n direkter geankerdheid in die hedendaagse Suid-Afrika in die nuwe bundel.

“Dié ‘tuiskoms’ is ook op vormlike en tematiese vlak te sien – Trialoog is in vele opsigte ’n samevatting van die beste van Philander se digterskap. Die stem wat opklink uit die bundel is helder en selfversekerd.”

Vir Bernard Odendaal (Volksblad, 3 November 2003) is een van die kenmerke van Philander se beste verskuns “die ferm vormgewing en die oorwegend beheerste styl. In veral sekere persoonlike gedigte, byvoorbeeld oor die gemis aan die gestorwe geliefde of oor die bejaarde mens se belewenisse en vrese, word op hierdie wyse treffende werk gelewer.

“Die teenkant van die munt is dat rym- en woordordedwang hier en daar kop uitsteek. (…) Troebel beelde en onsuiwer woordkeuses bly ook nie uit nie. Soms is die woordspel en die intertekstuele toespelings vernuftig en gepas; ander kere doen dit alte verstandelik aan. ‘Torteldigter’ en ‘Stoksielsaligalleen’ is voorbeelde van onderskeidelik geslaagde en minder geslaagde gedigte in hierdie verband.

Trialoog is nogtans een van die sterkste bundels uit die pen van ’n skrywer wat oor sowel ’n sterk sosiale gewete as ’n verfynde estetiese sin beskik.”

Zandra Bezuidenhout bespreek Trialoog in Sarie van September 2003: “Trialoog is ’n driestemmige bundel waarin die onderskeie afdelings as ‘swartman aan die woord’, ‘witman aan die woord’ en ‘bruinman aan die woord’ aangebied word. Philander is in ’n uitstekende posisie om die moontlikhede van so ’n driespraak te ontgin. Deurdat hy sprekers se uiteenlopende ervaringswêrelde en perspektiewe naas mekaar stel, verkry die bundel ’n sosio-politieke lading. Terselfdertyd ontstaan ’n binding tussen die verskillende stemme op grond van ’n gedeelde menslikheid en ’n gedeelde stuk aarde. Mankemente aan die versstruktuur wek soms weerstand, maar tog is dit poësie wat ’n bydrae lewer tot die diskoers van die dag. Die bladuitleg en omslag deur Daniel du Plessis sorg vir een van die uitgewer se aantreklikste publikasies tot dusver.”

In Desember 1996 het RSG ’n gedenkprogram vir Philander uitgesaai. Sy twee susters, Sybil en Felicia, het in hierdie program met groot deernis teruggedink aan hulle kinderdae toe hulle as ’n baie hegte gesin in die Boland gebly het. Hulle vader is vroeg oorlede en hulle het hul moeder as ’n liefdevolle ouer onthou.

Op 7 Februarie 2006 is Peter John Philander in Las Vegas in die VSA aan hartversaking weens rumatiekkoors en ’n hartklep-aandoening waaraan hy sedert sy jeugjare gely het, oorlede. Hy word oorleef deur sy drie seuns, ’n stiefseun, 12 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.

Huldeblyke

  • Peter Philander, seun: “Sy huise was vir sy kinders altyd, warm, sorgsaam en dikwels ’n veilige hawe in ’n storm. Wanneer hy oor Elsa, ons sussie wat op twee dood is, gepraat het, het hy altyd trane in sy oë gekry. En hy kon nooit oor sy gedig hieroor, ‘Haar uitvaart’, seker sy bekendste vers, praat nie. Ek sal die betowerende teenwoordigheid van hom as skeppende kunsgees mis. ’n Kind, besef ek nou, aanvaar dit as vanselfsprekend.” (Rapport, 12 Februarie 2006)
  • Joan Hambidge: “Wanneer ’n digter sterf, praat haar/sy gedigte anders met ons en dit is dan, dikwels vir die eerste keer, wat ’n mens die digter na waarde kan skat. Vir my is Philander ’n suiwer digter en ek dink ‘Haar uitvaart’, oor die dood van ’n kind, is aangrypend. Of ‘Jonas’, met die politieke kommentaar waar die Grootbaas God is. Hy hoort tot die geslag bannelingdigters wat veral om politieke redes die land verlaat, maar steeds in Afrikaans bly dig het. (…) Gelukkig gaan geen digter ooit verlore nie. Hulle staan in ons verseboeke.” (Rapport, 12 Februarie 2006)
  • Daniel Hugo: “Dis oneindig jammer dat ’n onregverdige politieke bestel Philander in 1969 landuit gedwing het. Tog het hy nooit verbitterd geraak nie en bly skryf in Afrikaans – ook om protes aan te teken teen apartheid. Piet Philander was ’n ouwêreldse gentleman met ’n vonkel in die oog. Hy het bewys dat medemenslikheid en gekultiveerdheid ’n mensonterende bestel kan oorleef, en in sekere mate selfs kan regstel.” (Rapport, 12 Februarie 2006)
  • Izak de Villiers, digter en predikant: “Dit word min digters gegun dat lesers dae en selfs jare lank bly nadink oor hul verse. Philander se beeld van die Skepper as besondere glasblaser en kunstenaar is hiervan ’n goeie voorbeeld. Hier’s filosofie, of teologie, wat fluister van miljoene moontlikhede. Ek gun Peter die miljoene moontlikhede en grootser planne van sy droom.” (Rapport, 12 Februarie 2006)
  • Melt Myburgh, digter: “Philander se vers, ‘Lente’, oor ’n verwonde sprinkaan, is aangrypend. Hopelik word sy nalatenskap as digter nog lank gekoester in die kollektiewe geheue van Afrikaans-lesers, want net soos die ondervlerk van dié kreupel sprinkaan, is die landskap van sy mooi poësie ‘mooi gestippel’.” (Rapport, 12 Februarie 2006)
  • Zuid-Afrika, Oktober 1997: “In het gedicht ‘Kamera’ is sprake van ‘die potpourri van my geheue’. Dat is een mooi beeld voor de manier waarop de romantisch geaarde Philander in het leven staat, mits we ons ervan bewust blijven dat ‘potpourri’, niet op ‘chaos’ maar op ‘harmonie’ rijmt.”
  • Barend J Toerien: “Dinkend aan Piet oftewel Peter John Philander, op 7 Februarie oorlede, het ek net warm gedagte aan ’n kalm, sterk mansmens. En ’n vriendelike een. Ons paaie het gekruis in die laat 1950’s toe hy en Alice, sy vrou, ’n paar aande by ons in Forest Hills, New York, oorgebly het. (…) Oor politiek het ons nooit gepraat nie. Sy gevoelens kom wel sterk na vore in ’n gedig soos ‘Luistervink’:

Luister met jou stetoskoop
hoe oorspanne dit deur my are loop;
my hart in donker kamponge
klop om vars lug uit die longe.
En, as ek ’n klop of twee
oorhaastig is, moet jy toegee:
Ek loop as beeswagter
meer as drie eeu agter.

“Of in die swart riksjaman (Durban?) se sluimerende woede waar hy die ‘rooi wiele sien draai in die lem van sy assegaai’. Bowenal onthou ’n mens sy vrolike en liefdevolle beskrywings van die natuur en van plekke soos Genadendal.” (Die Burger, 11 Februarie 2006)

Op 23 Oktober 2021, ter herdenking aan die 100ste geboortedag van PJ Philander, is hulde tydens die tiende Tuin van die Digters in Wellington aan die digter-skrywer gebring. Daniel Hugo, Heindrich Wyngaard, Steward van Wyk en die digter se drie seuns het aan die gesprek op die terrein van die Breytenbach Sentrum deelgeneem.

Publikasies

Publikasie

Uurglas

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vuurklip

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Bekroonde digbundel in wedstryd van Departement van Kuns, Kultuur en Wetenskap

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die bruin kokon

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: Kosmos

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Zimbabwe

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Keurverse: ’n bloemlesing uit die gedigte van SV Petersen en PJ Philander; saamgestel deur WH Vos

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Konka

Publikasiedatum

1978

ISBN

062814430 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Venster

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628025262 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Venster vir die hart

Publikasiedatum

1983

ISBN

062401925X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ostrakon

Publikasiedatum

1986

ISBN

0628030886 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

PJ Philander: ’n keur uit sy gedigte; saamgestel deur Daniel Hugo

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034984 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rebunie: roman

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140259 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trialoog

Publikasiedatum

2002

ISBN

18691019X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Keur van artikels oor en deur PJ Philander beskikbaar op die internet

PJ Philander se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-03-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top